Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » Bejaardes van Bfn erg aangerand
Bejaardes van Bfn erg aangerand [boodskap #119681] Ma, 10 Mei 2010 18:31
Etienne Marais  is tans af-lyn  Etienne Marais
Boodskappe: 370
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Senior Lid
Bejaardes van Bfn erg aangerand

2010-05-10 00:53
Earl Coetzee

In minstens die vierde soortgelyke voorval die laaste maande in die
Vrystaat is ’n bejaarde egpaar van Bloemfontein in hul huis aangeval
en pimpel en pers geslaan.

Mnr. Johannes Werner (81) en sy vrou, Anna (80), is Saterdagoggend in
die hospitaal opgeneem nadat hulle Vrydagaand in hul huis in
Erlichpark met ’n knopkierie aangerand is. Die egpaar het albei
ernstige gesigs- en kopbeserings opgedoen.

Kapt. Ina Scholtz, polisiewoordvoerder, sê die Werners het geslaap toe
mnr. Werner omstreeks 23:00 geluide buite hul huis hoor. Hy het gaan
ondersoek instel. Toe hy die voordeur oopmaak, is hy verskeie kere met
’n knopkierie geslaan.

Die aanvaller is die huis binne en mev. Werner het ook erg deurgeloop.
Die knopkierie is die volgende oggend deur ’n polisiebeampte op die
toneel gevind.

Volgens Scholtz word slegs ’n selfoon en ’n beursie met ’n paar rand
vermis.

Die erg beseerde egpaar is die volgende oggend deur mnr. Frans Smit,
’n eiendomsagent, in hul huis aangetref. Die huis is glo in die mark,
omdat hulle beplan om in ’n tehuis vir bejaardes te gaan woon.

Smit sê toe hy by die huis opdaag, kon hy die bloed by die voordeur
sien. Toe hy ingaan, het hy op die beseerde egpaar afgekom en hul
seun, Ben, laat weet. “Ek kan nie glo hulle kon ou mense so slaan nie.
Dis iets wat jy moet sien om te glo,” sê Smit.

Die Werners is in die Life-Rosepark-hospitaal in Fichardtpark opgeneem
waar hul beserings behandel is voordat hulle na die Pelonomi-hospitaal
oorgeplaas is.

Mev. Werner is gister uit die hospitaal ontslaan, en mnr. Werner is
steeds in ’n stabiele toestand in die trauma-eenheid.

Hul seun sê dit gaan taamlik goed met albei ná die aanval, hoewel
albei ernstige beserings opgedoen het. Hulle het onder meer snywonde
aan die kop, insluitend hul oogbanke, opgedoen.

Scholtz sê klagte van huisroof en aanranding met die doel om ernstig
te beseer word ondersoek.

Die Werners se aanranding volg op dié van mev. Hester Thomas (79) van
Gardeniapark en emeritus-professor Flippie Minnaar (83) en sy vrou,
Louise (77), van Dan Pienaar.

Daar was sedert Maart ook aanvalle op bejaardes tuis in Lilaclaan,
Bloemfontein, en op Jagersfontein, is vroeër berig.

- Volksblad

Oorsprong:Volksblad
http://www.volksblad.com/Suid-Afrika/Nuus/Bejaardes-van-Bfn- erg-aangerand-20100510
Vorige onderwerp: Wie is die 'ons' wat SA moet laat werk?
Volgende onderwerp: Malema skuldig bevind op een van vier klagte
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Apr 27 11:06:19 MGT 2024