Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » Eis teen minister misluk nadat sakeman in polisiesel aangerand is
Eis teen minister misluk nadat sakeman in polisiesel aangerand is [boodskap #119625] Sa, 24 April 2010 17:46
Etienne Marais  is tans af-lyn  Etienne Marais
Boodskappe: 370
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Senior Lid
Eis teen minister misluk nadat sakeman in polisiesel aangerand is

2010-04-23 21:41
Jeanne-Marié Versluis

’n Sakeman van Komatipoort wat ernstig deur mede-aangehoudenes in ’n
polisiesel aangerand is, se skadevergoedingseis van R500 000 teen die
minister van veiligheid en sekuriteit het misluk.

Mnr. Theunis Christoffel Botha van die plaas Lebombo by Komatipoort
het dié eis ingestel nadat die polisie hom in Augustus 2004 op aanklag
van aanranding gearresteer en by die Komatipoort-polisiekantoor
aangehou het.

Botha meen dié optrede van die polisie was onregmatig.

Waarnemende regter P.M. Mabuse het in die hooggeregshof in Pretoria
bevind die arrestasie en aanhouding was regmatig.

Hy het in sy uitspraak gesê almal stem saam dat Botha die aand van 12
Augustus 2004 in sel 7 by dié polisiekantoor aangehou is, dat ander
aangehoudenes hom daar ernstig met sy eie skoen aangerand het en dat
hy beseer is.

Botha het in hofstukke gesê daar was 27 mense saam met hom in die sel,
“van wie net twee wit was”.

Mede-aangehoudenes het hom gedwing om sy klere uit te trek. Van hulle
het sy arms en bene styf vasgehou, terwyl ander hom 250 keer
beurtelings sowat ’n halfuur lank met sy skoen op sy boude geslaan
het.

Hy was half bewusteloos, het Botha gesê.

Mabuse het in die uitspraak gesê terwyl die verweerder moet kan bewys
die arrestasie was regmatig, moet die eiser (Botha) kan bewys hy is
doelbewus of opsetlik in dié spesifieke sel gesit sodat hy aangerand
kon word.

“Die eiser is daar ingesit waar volwasse mans gehou is omdat daar geen
ander sel was waarin hy aangehou kon word nie.”

Mabuse het bevind Botha kon nie bewys dat hy doelbewus in dié sel
gesit is om aangerand te word nie. Botha kon nie bewys dat die polisie
die aanranding op hom deur mede-aangehoudenes “georkestreer” het nie.

Mabuse het ook bevind Botha se bewering dat hy nie toilet toe kon gaan
nie, “lyk twyfelagtig”.

Hy het bevind Botha se getuienis is deurspek met onwaarskynlikhede en
onversoenbaarhede.

Hoewel Botha dit ontken, is dit duidelik hy wou spesiale behandeling
hê toe hy gearresteer is omdat hy bekend is aan die polisie in die
omgewing, het Mabuse gesê.

“Toe hy nie dié behandeling kry nie, het hy sy arrestasie as
onregmatig bestempel.”

Mabuse het gesê Botha het mnr. Raymond Nkuna destyds aangerand.

Botha is later skuldig bevind aan aanranding en tot ’n R10 000-boete
of drie maande tronkstraf gevonnis.

Oorsprong:Beeld
( http://tinyurl.com/3y72g7s )
Vorige onderwerp: Bende skiet ouers se laaste oorblywende kind dood
Volgende onderwerp: Oppasser laat glo baba-aanrander in
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Apr 27 12:00:01 MGT 2024