Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » ‘Amptenare sê dis rassisties om wit armes te help’
‘Amptenare sê dis rassisties om wit armes te help’ [boodskap #119454] Di, 30 Maart 2010 18:46
Etienne Marais  is tans af-lyn  Etienne Marais
Boodskappe: 370
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Senior Lid
2010-03-29 21:45

Sonja Carstens

Net 160 voedselkoepons is van 2008 aan ’n groep van 600 000 wit armes
uitgedeel.

Die uitdeel van sulke koepons aan die inwoners van Bethlehem, ’n arm,
informele wit nedersetting in Andeon, in die noorde van Pretoria, is
gestaak ’n week nadat mnr. Jacob Zuma dit op 18 April 2008 as ANC-
leier op uitnodiging van Solidariteit besoek het.

“Staatsamptenare het gesê dit is rassisties om honger wit mense te
help,” skryf dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van Solidariteit
Helpende Hand, in ’n brief aan Zuma.

Dié brief gaan môre as deel van ’n verslag oor die “gesigte van
Afrikanerarmoede” aan Zuma oorhandig word tydens sy opvolgbesoek aan
Bethlehem.

Luidens die verslag is die uitdeel van voedselkoepons aan arm wit
mense gestaak ondanks die bevindings van ’n onafhanklike ondersoek
deur die destydse Umsobomvu Youth Fund, tans die National Youth
Development Agency (NYDA).

Daarvolgens is bevind die regering se definisie van voorheen
benadeelde mense moet uitgebrei word om die wit jeug tussen 18 en 35
jaar met ’n inkomste van R500 tot R3 000 per maand in te sluit.

Volgens die ondersoek is die arm wit jeug beslis een van die mees
gemarginaliseerde groepe in Suid-Afrika.

Langner skryf vir Zuma hy glo die president sal geskok wees om te hoor
dat me. Heila Rothmann, ’n siek en sterwende kankerlyer, etlike dae
lank van 06:00 tot 17:00 in ’n ry moes staan net om op 6 Maart te hoor
haar vyfde aansoek vir ’n ongeskiktheidstoelae is van die hand gewys.

Rothmann het haar stryd teen kanker ’n week later verloor.

Luidens die verslag toon navorsing wat Helpende Hand gedoen het dat
63% van die inwoners in die 77 wit informele nedersettings in Pretoria
60 jaar en ouer is.

Boonop ondersoek die Centurion-raad vir bejaardes tans sowat 2 100
armoedesake terwyl sowat 1 000 gevalle van bejaardeverwaarlosing per
maand by die Pretoriase Bejaardesorg aangemeld word.

Langner het gesê hul navorsing dui daarop dat daar slegs een
maatskaplike werker vir elke 4 000 Suid-Afrikaners is.

Uit die NYDA se verslag blyk dit is “ongelooflik moeilik” vir wit
gemeenskappe om toegang tot ongeskiktheidstoelaes te kry.

“Die meeste arm swart gemeenskappe het toegang tot satellietkantore
van die departement van maatskaplike ontwikkeling wat aansoeke vir
toelaes verwerk.

’n Soortgelyke diens is nie vir behoeftige wit gemeenskappe beskikbaar
nie,” het Langner gesê.

Oorsprong:Beeld
( http://tinyurl.com/y9s6mw5 )
Vorige onderwerp: Boere van Kestell na bewering met onteiening gedreig
Volgende onderwerp: Edwill in sy huis oorval
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Apr 27 11:24:28 MGT 2024