Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » Boere van Kestell na bewering met onteiening gedreig
Boere van Kestell na bewering met onteiening gedreig [boodskap #119446] Wo, 24 Maart 2010 10:20
Etienne Marais  is tans af-lyn  Etienne Marais
Boodskappe: 370
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Senior Lid
Boere van Kestell na bewering met onteiening gedreig

2010-03-22 01:16

Cathy Dlodlo

Boere in die Kestell-omgewing is woedend nadat die Maluti-a-Phofung-
munisipaliteit (wat dié dorp insluit) glo gedreig het om hul plase te
onteien as hulle nie wil verkoop om plek te maak vir ’n ontwikkeling
van miljoene rande wat ’n gholflandgoed insluit nie.

Só sê me. Leona Kleynhans, DA-raadslid van dié munisipaliteit.

Volgens haar is sommige plase al vir bykans 100?jaar in familie-besit.
Dit sluit produktiewe kommersiële boerdery en nywerheidsondernemings
in.

’n Boer en eienaar van verskeie plase sê hulle het ’n brief gekry wat
sê die munisipaliteit het besluit om ’n ontwikkeling van 30000 erwe
goed te keur.

Die brief in Volksblad se besit – gedateer 18 Februarie 2010 – sê die
burgemeesterskomitee het op 11 Desember verlede jaar dié besluit
geneem.

“In dié stadium is die enigste struikelblok die feit dat die
geïdentifiseerde grond in private besit is. Die burgemeesterskomitee
het besluit die munisipaliteit moet met onderhandelinge vir die koop
van die grond begin.”

In die brief word grondeienaars ingelig dat hul grond deel van die
beplande ontwikkeling is. Hulle word “vriendelik” versoek om met ene
mnr. Cornelius Fouché in verbinding te tree.

Van die boere en Kleynhans bevestig dié middelman het gesê as hulle
nie verkoop nie, gaan hul plase deur HOP-huise omring word of die
munisipaliteit kan so ver gaan om hul plase te onteien.

Kleynhans is geskok. Sy meen dié plan is waansinnig. Boonop is dit nie
op die beginsel van vraag en aanbod geskoei nie.

Alhoewel Fouché boere gedreig het met HOP-huisontwikkelings, blyk dit
dat ’n gholflandgoed, behuising vir middel- en hoë-inkomstegroepe,
sakeondernemings en regeringskantore beoog word. Erwe op die
gholflandgoed gaan glo vir sowat ’n miljoen rand elk te koop wees.

Kleynhans sê die munisipaliteit is reeds in ’n finansiële penarie met
R550 miljoen uitstaande dienstegeld.

Sy sê die munisipaliteit sukkel ook om 3200 laekoste-behuisingserwe op
Harrismith te ontwikkel en kan nie eens basiese dienste soos die
instandhouding van infrastruktuur vir die verskaffing van water aan
inwoners lewer nie. Inwoners van Kestell sit soms dae lank aaneen
sonder water.

Kleynhans sê volgens die munisipaliteit is die aankoop van die plase
deur die Vrystaatse premier, mnr. Ace Magashule, goedgekeur en die
provinsiale departement van menslike nedersettings gaan glo die geld
vir die projek gee.

Sy sê daar is geen waardasies, omgewingsimpakstudies of enige aansoeke
by die dorperaad ingedien nie.

“Die plan is glo om die grond vanjaar aan te koop en daarna die nodige
aansoeke en beplanning te doen, maar boere wonder hoekom die grond wat
destyds deur die Qwaqwa-tuisland van boere gekoop is, nog braak lê.”

Kleynhans sê daar is ’n hele paar redes hoekom die projek onwettig
is:

Net die raad – en nie die burgemeesterskomitee nie – het die mag om
grond te koop;
Die amptenare gaan voort om ’n besluit uit te voer wat nog nie voor
die raad gedien het nie;
Die hersiene Ruimtelike Ontwikkelingsraamwerk sal glo eers in Mei
gereed wees waarna die publiek se bydraes nog gekry moet word; en
Die planne is nie deel van die munisipaliteit se geïntegreerde
ontwikkelingsplan nie.

Die munisipale woordvoerder kon nie vir kommentaar bereik word nie.

- Volksblad

Oorsprong:Volksblad
( http://tinyurl.com/ye9vkqm )
Vorige onderwerp: Man in bors gesteek toe hy aanvaller uit rolstoel takel
Volgende onderwerp: ‘Amptenare sê dis rassisties om wit armes te help’
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Apr 27 06:12:15 MGT 2024