Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » Edwill in sy huis oorval
Edwill in sy huis oorval [boodskap #119455] Di, 30 Maart 2010 19:10
Etienne Marais  is tans af-lyn  Etienne Marais
Boodskappe: 370
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Senior Lid
2010-03-29 21:45

Magdel Fourie

Edwill van Aarde (71), voormalige radio-omroeper en TV-aanbieder, is
gister in sy huis in Krugersdorp oorval en aangerand.

In sy swakheid het hy probeer terugbaklei, maar gou besef die rower is
“te jonk en sterk”, het die voormalige sportkommentator en aanbieder
van die vasvraprogram Flinkdink, gister in trane vertel.

“Ek het net geweet ek kan nie. Ek kan níks doen nie.”

Van Aarde se vrou, Piena (67), was net weg winkel toe toe hy omstreeks
11:30 ’n geraas by die kombuisdeur gehoor het. Die Van Aardes woon al
37 jaar in die huis.

By die kombuisdeur het hy ’n skraal, jong man aan die veiligheidshek
sien werk. Die man het aan hom gesê mev. Van Aarde het hom gestuur om
die slot te herstel.

Die man het ’n tuinvurk, ’n geroeste vyl en moersleutel by hom gehad.

“Toe ek hom vra waar my vrou is, het hy gesê sy is in die motorhuis by
haar geel motor – sy is op pad. En toe dink ek maar sy rý ’n geel
motor,” het Van Aarde vertel.

Hy het die deur toe oopgesluit.

“Toe slaan hy my plat. Hy het my toe aan my voete in die gang
afgesleep en my heeltyd geskop en geslaan,” het ’n geskokte Van Aarde
vertel.

Hy het aanvanklik probeer terug- baklei, maar gou gevoel hy het nie
die krag nie. Die mes in die rower se hand het hom ook afgeskrik.

Toe die rower hom tot by sy slaapkamer gesleep het, het Van Aarde
regop gebeur.

Die rower het laaie en kaste in die slaapkamer omgekeer en sowat 30
juwelekissies in ’n sak geprop.

Die Van Aardes het dié kosbare juwele in die kissies tydens oorsese
reise in stede soos Parys, Londen en Wene gekoop.

“Dit is onvervangbaar. Ons sal nóóit weer oorsee gaan nie,” het Van
Aarde vertel.

Die rower het ook Van Aarde se kamera en verkyker gebuit.

“Ek het so mooi gevra dat hy nie my kamera vat nie, want daar’s foto’s
van my kleinkinders en hondjies op.”

Die egpaar se geliefde honde is kort gelede weens ouderdom dood.

Terwyl die rower besig was met sy plundertog het Van Aarde die
noodknoppie gewaar en daarin geslaag om dit in die hande te kry.

Al het hy besef hy waag ’n groot kans, het hy dit nogtans gedruk.

Toe die alarm begin loei, het die rower “net ’n vloekwoord gegee” en
gevlug.

“Wat ek nooit sal vergeet nie, is die kyk in sy oë. Aan die begin het
hy nog vriendelike geselsies gemaak. Maar toe hy eers inkom, was daar
net haat in sy oë.”

Die polisie en ’n paramedikus was kort ná die voorval op die toneel om
na Van Aarde, wat oor borspyn?gekla het, om te sien.

“Ek is maar verpletter. Ek het darem nie letsels in my gesig nie, maar
ek het erge lyfseer. Tog is ek dankbaar ek het nie seerder gekry nie,”
het Van Aarde gesê.

Dié aanval moet as voorbeeld vir ander dien, meen hy.

“’n Mens kan nooit oorversigtig wees nie, al is dit helder oordag.”

Dié aanval is uitgevoer enkele weke voordat ’n konsert ten bate van
Van Aarde op 21 April gehou word. Verskeie kunstenaars, onder wie
Steve Hofmeyr, gaan in die konsert optree.

Hofmeyr het hom ná die voorval woedend uitgespreek oor aanvalle op
weerlose kinders en bejaardes.

“Hy is regtig ’n goeie vriend van my – ’n ou man, lamgelê deur
ongesondheid, wat homself nie kan verdedig nie. Dit is trágies,” het
Hofmeyr gesê.

Oorsprong:Beeld
( http://tinyurl.com/yavaz3u )
Vorige onderwerp: ‘Amptenare sê dis rassisties om wit armes te help’
Volgende onderwerp: Mugabe gaan Julius touwys maak
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Apr 27 12:33:45 MGT 2024