Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » SA moet besin oor reputasie van sy president
SA moet besin oor reputasie van sy president [boodskap #119321] Ma, 15 Februarie 2010 13:02
Etienne Marais  is tans af-lyn  Etienne Marais
Boodskappe: 370
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Senior Lid
2010/02/11 05:46:00 AM

Ronel Rensburg

As Suid-Afrikaners gereken het dat die onlangse sekskapades van ons
eerste burger, pres. Jacob Zuma, nie die land se reputasie skade
berokken nie, het ons dit mis.

Voorts knou korrupsie, swak dienslewering, bestuursprobleme,
korporatiewe konflik en politiekery by verskeie strategiese
staatsinstellings ook Suid-Afrika se openbare beeld en reputasie –
hier én internasionaal.

Die voortslepende misdaad en die regering se onvermoë om hierdie
misdaad te beheer, stuur ook negatiewe boodskappe die wêreld in. Dit
is slegte nuus aan die vooraand van die Wêreldbeker-sokkertoernooi.

Daar word baie geskryf oor die reputasieverskynsel. Korporatiewe
reputasiebestuur – die hantering van ondernemings se korporatiewe
identiteit, beeld en reputasie – maak deesdae opslae.

Daar is groot verskille in ’n onderneming se korporatiewe identiteit,
korporatiewe beeld en reputasie.

Ondernemings kan hul identiteit self bepaal: Dit is soos ondernemings
hulself sien en definieer. ’n Onderneming se korporatiewe beeld is
soos al die belanghebbende insethouers soos werknemers, aandeelhouers,
die gemeenskap, die media, markte en die internasionale gemeenskap die
onderneming sien.

Identiteit en beeld kan deur ondernemings bestuur word deur middel van
verskeie kommunikasie-ingrype.

Om korporatiewe reputasie te beheer, is egter moeiliker omdat daar
lank gewerk moet word aan die vestiging van ’n geloofwaardige
korporatiewe reputasie. Dié reputasie is baie kwesbaar en dit kan
maklik deur ’n enkele woord of daad beskadig of selfs vernietig word.

Navorsing wat in 2007 deur Burson-Masteller, een van die
toonaangewende kommunikasie-agentskappe in die wêreld, gedoen is, wys
dat die reputasies van uitvoerende hoofde ’n groot invloed op die
korporatiewe reputasies van hul ondernemings uitoefen.

In 2007 het die navorsing beweer dat sowat 50% van ’n onderneming se
reputasie aan die reputasie van die uitvoerende hoof toeskryfbaar is.
In 2009 was hierdie persentasie reeds 14% hoër.

Gegrond op navorsing deur die Reputasie-instituut (in 2009) is daar
drie sleutelfaktore wat ’n uitvoerende hoof se reputasie bepaal:
geloofwaardigheid, gedrag en kommunikasie.

Korporatiewe dramas soos dié by Eskom, Transnet, Krygkor, die SAL en
die SAUK skaad wel die reputasie van instellings én Suid-Afrika – hier
en internasionaal.

Die probleem tussen Eskom en sy uitvoerende hoof is nie ’n geïsoleerde
geval nie. Dit is deel van ’n tendens in Suid-Afrika en kan
teruggevoer word na ’n era waar onbekwame partyvolgelinge in
uitvoerende poste en as raadslede aangestel is.

Die reputasies van lande en hul leiers “kommunikeer” ook. Lande met
positiewe en sterk reputasies trek beleggers en toeriste.

Die Reputasie-instituut gebruik ’n gestandaardiseerde model vir die
meet van reputasies op internasionale vlak. Die model bepaal of mense
’n land vertrou, bewonder, respekteer en goed oor die land voel.

Drie dimensies speel hierin ’n rol: ’n gevorderde ekonomie met goeie
produkte en dienste; ’n aantreklike omgewing wat ook ’n veilige
lewenswyse kan bied; en ’n doeltreffende regering waarin sake
sorgeloos bedryf kan word.

Switserland en Kanada het die hoogste reputasies in die rangorde van
34 lande wat in 2009 gemeet is. Suid-Afrika is 33ste wanneer dit kom
by hoe landsburgers hul eie land ervaar.

Met die Wêreldbeker-sokkertoernooi is die wêreld se oë op Suid-Afrika
gerig. Die prentjie wat hulle sien, is dalk nie altyd so aantreklik
nie.

Misdaad wat nie in bedwang gebring kan word nie, opruiende politieke
retoriek deur mnr. Julius Malema van die ANC-jeugliga, korrupsie van
politieke en sakeleiers, slaggate in die paaie, rommel in die strate,
riviere en skaars bronne wat besoedel word en betogings oor swak
dienslewering wat dikwels in erge geweld en chaos ontaard
“kommunikeer” ’n boodskap oor Suid-Afrika, sy leiers en sy mense.

Die reputasie van die eerste burger van ’n land het ’n onuitwisbare
invloed op die reputasie van ’n land.

Suid-Afrikaners raak gaandeweg aan die gedrag van ons poligame
president gewoond, maar vir die wêreldverhoog bly dit moeilik om te
verorber.

Alles oor Zuma kommunikeer ’n boodskap na buite – sy wit tekkies, sy
tradisionele wapens, die sing van sy geliefde Umshini wami, sy
poligamie, sy beoefening van onveilige seks, en die feit dat hy 20
kinders het, waarvan heelparty buite-egtelik is.

Die beeld wat dit vir die wêreld skilder, is nie maklik verteerbaar en
aantreklik nie.

Kultuur en die argument dat kulture nie “meerderwaardig” teenoor ander
is nie, maar “anderswaardig”, help nie veel meer vir Suid-Afrika se
internasionale reputasie nie. Kultuur het ook ’n reputasie.

Die seine wat oor ons inheemse kulture uitgestuur word, val op
verwarde ore.

Om kultuur aan te gryp en as verskoning te gebruik wanneer ons of ons
leiers fouteer of oortree, maak ’n bespotting van die reputasie van
Suid-Afrika se ryk kulturele samestelling.

- Prof. Rensburg is professor in die departement van bemarking- en
kommunikasiebestuur aan die Universiteit van Pretoria.

( Vanaf nuus24.com: http://tinyurl.com/yj6fr9o )
Vorige onderwerp: Eersterust-man spring dood vry toe hy 3 rowers pak
Volgende onderwerp: Bejaarde vrou (80) oorleef mesaanval in Sedgefield
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mei 02 17:57:23 MGT 2024