Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » Polisie jaag in paartjie vas
Polisie jaag in paartjie vas [boodskap #42] Wo, 14 Januarie 2009 20:59
Daun Johnson  is tans af-lyn  Daun Johnson
Boodskappe: 1155
Geregistreer: Januarie 2009
Karma: 0
Senior Lid
Geplaas 16 Januarie 2009
Polisie jaag in paartjie vas

Cerise du Plooy

Op 3 Januarie het Nicolene Strydom en haar verloofde, Anthony Tiltman,
net by 'n vierrigtingstop in Losberglaan in Fochville tot stilstand
gekom toe hulle van agter deur 'n polisievoertuig gestamp en sowat 30
m gestoot is.

"Ek wou net die motor weer in eerste rat sit om weg te trek by die
vierrigting toe iemand teen 'n groot spoed van agter af in my vasry,"
vertel Strydom.

Sy en Tiltman het in sy Toyota Corolla Levine, 'n ingevoerde kar wat
hy slegs vyf maande gelede gekoop het, gery. Die motor is so hard van
agter af deur 'n polisieman getref dat dit nou afgeskryf is.

Toe albei voertuie tot stilstand kom, het daar twee mans in siviele
klere uit die polisievoertuig geklim. "Die ambulans was vinnig daar,"
onthou Strydom, "En die passasier van die polisievoertuig is
onmiddellik deur paramediese werkers in die ambulans gelaai."

"Terwyl ek die bestuurder genader het om hom te vra hoekom hy in ons
vasgery het," sê Tiltman, "het ek al die drank aan hom geruik. Hy het
met een voet op die randsteen en een in die pad gestaan en van balans
af gewieg en net heeltyd gesê dat hy regtig jammer is, maar ook dat
ons voor hom ingery het."

Beide Strydom en Tiltman, asook verskeie ooggetuies wat die ongeluk
sien gebeur het en glo ook verklarings afgelê het, het dit duidelik
gemaak dat die voertuig geen ligte of sirenes aan gehad het nie, en
dus geen ooglopende rede gehad het om te jaag en nie te stop nie.
Verder het hulle ook almal gesê dat albei die mans in die voertuig in
siviele klere en duidelik nie aan diens was nie.

Volgens Tiltman strek die remmerke van die staatsvoertuig op die pad
vir sowat tien meter en wys dat die voertuig geswaai het.

Terwyl Strydom se verklaring geneem is, en die bestuurder en passasier
van die polisievoertuig al reeds in die ambulans gelaai is, is sy eers
genader en gevra of sy beseer is. "My nek en rug was bietjie seer,"
vertel sy, "maar ek was te geskok om te weet of my beserings ernstig
was of nie"

Tiltman beweer dat hy, toe hy gevra het dat sy verloofde ook in 'n
ambulans hospitaal toe geneem word, deur 'n lid van die SAPD op die
toneel gesê is, "ek is besig, gaan weg."

Strydom het gevra dat die bestuurder vir bloedtoetse geneem word en
dat sy bloed in Johannesburg getoets word. "Ek weet van verskeie
gevalle van dronkbestuur in die omgewing waarin die bloed "weggeraak
het en wil nie hê dat dieselfde in hierdie geval moet gebeur nie."

"Toemaar, ons sal die bestuurder neem vir bloedtoetse," het 'n
onbekende verkeersbeampte haar egter gewaarborg, "Hy gaan nie blaas
nie want hy het reeds erken dat hy gedrink het en in so geval word sy
bloed getrek en getoets."

Terwyl Strydom haar verklaring by die toneel afgelê het, het 'n
polisielid nader gestaan en toe Strydom sê dat daar twee mans in die
SAPD voertuig was, het hy na bewering gesê dat sy lieg en daar slegs
een was. Die offisier wat die verklaring geneem het, het neergeskryf
dat daar net een was. "Ek het myself herhaal en gesê dat daar twee
mense in die voertuig was en nie net een nie, maar ek is geïgnoreer en
die beampte het net aanhou skryf." Sy sê dat die passasier sy kop teen
die windskerm gestamp het en dat daar krake in die windskerm van die
voertuig se linkerkant is.

Dieselfde beampte het glo ook vir beide Strydom en Tiltman gesê dat
die bestuurder en nog 'n persoon van Rustenburg kom.

Toe Tiltman vra hoekom niemand van hom 'n verklaring neem nie, is hy
gesê dat dit te lank, ten minste drie ure, gaan neem om sy verklaring
te neem en dat hy die volgende dag by die Fochville SAPD kantoor sy
verklaring moet gaan aflê.

"Toe ons die volgende dag daarheen is is ons vertel dat "die mans wat
in die SAPD voertuig van Pretoria af was."

Dit is duidelik op die foto's wat Tiltman geneem het dat die voertuig,
met nommer KS12 op die kant van Khutsong af kom, omdat die woord
Khutsong ook op die voertuig se sy staan.

Tiltman het duidelik aan die beampte wat sy verklaring geneem het, ook
gesê dat daar twee mense in die SAPD voertuig was, en weereens is daar
foutiewelik geskryf dat daar slegs een persoon, die drywer, in die
voertuig was.

"Eers toe ek stry en daarop aandring dat my verklaring verander word
na twee persone, is dit verander en deur my geteken," sê hy, "Maar ek
is eers weer die vorige foutiewelik verklarings gewys van mense wat
seker te bang was om die fout aan die offisier te wys en gesê dat ek
nie regtig kan sê dat daar twee mense in die voertuig was as al die
ander getuies se verklarings stipuleer dat daar slegs een was nie."

Steeds het Tiltman aangedring dat sy verklaring reg geneem word.

Strydom sê dat, buiten die feit dat dit lyk of almal die saak probeer
toesmeer met vals inligting oor die hoeveelheid mense in die SAPD
voertuig en die stasie waar hulle vandaan kom, vier ander mense en een
voetganger se verklarings 100 persent met hare ooreenstem.

"Maar volgens 'n sersant by die stasie," sê Tiltman, "gaan ons niks
binne die volgende drie tot vyf jaar uitgerig kry nie."

"My motor was my Ferrari," sê hy hartseer, "En nou sukkel ek om elke
dag by die werk te kom."

Volgens Supt. Koos Degenaar, die SAPD se provinsiale woordvoerder, het
die voorval wel plaasgevind.

Die ongeluk kan bevestig word en 'n departementele ondersoek is reeds
begin om die bewerings van dronkbestuur en roekelose en nalatige
bestuur deur die betrokke polisielid te ondersoek.

Hy sê dat indien die lid skuldig bevind word, die nodige dissiplinêre
stappe volgens die dissipline-regulasies teen die lid geneem word.

Foto's
http://www.carletonvilleherald.com/fotonuus.htm

Berig
http://www.carletonvilleherald.com/top10.htm#3
Vorige onderwerp: rowers en moordenaars
Volgende onderwerp: Pa waak voor sy dogter se sel
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mei 02 19:21:44 MGT 2024