Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » Aanvaller vlug toe egpaar bid
Aanvaller vlug toe egpaar bid [boodskap #119443] Wo, 24 Maart 2010 10:13
Etienne Marais  is tans af-lyn  Etienne Marais
Boodskappe: 370
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Senior Lid
Aanvaller vlug toe egpaar bid

Vicus Bürger

’n Bejaarde egpaar van Bloemfontein wat in hul huis oorval is, het
albei hardop gebid, waarna hul aanvaller die hasepad gekies het.

“Help ons, Jesus, help ons” en “Jesus wees met die man en vergewe hom
vir wat hy doen”, het emeritus-professor Flippie Minnaar (83) en sy
vrou, Louise (77), van Paul Rouxstraat in die spogwoonbuurt Dan
Pienaar gebid.

Hulle was Saterdagaand tuis toe ’n seun van vermoedelik 16 of 17 jaar
met “verwilderde oë” by die agterdeur van hul huis ingestorm het.

Hy het Minnaar met ’n stok met rubber vooraan oor die kop geslaan.

Minnaar, voorheen ’n professor in mediese fisika en kerngeneeskunde
wat in ’n stadium by die mediese fakulteit van die Universiteit van
die Vrystaat (UV) betrokke was, ly aan klierkanker.

“Hy is baie swak,” sê sy vrou.

Sy het opgespring en probeer keer.

“Ek het vir hom (die aanvaller) gesê: ‘Moenie vir oupa slaan nie. Hy
het kanker en is baie siek.’?”

Sy het in ’n stadium die stok gegryp en die seun het dit uit haar
hande geruk.

Haar man is verskeie kere gestamp en rondgegooi.

Die seun het selfs gedreig om mev. Minnaar te verkrag as sy hom nie
met haar motor na ’n plakkerskamp bring nie.
Mev. Minnaar het egter kalm gebly en mooi met die aanvaller gepraat.

Volgens haar het hy toe rustiger begin word.

“Ek glo Christus het my daardie kalmte gegee.”

Hy het die egpaar gedwing om die kluis oop te sluit waaruit hy ’n .38-
Colt-rewolwer en R1?000 gesteel het. Die jong aanvaller het boonop die
egpaar se horlosies, ringe, mev. Minnaar se selfoon en ’n leerbaadjie
wat sy in Egipte gekoop het, gebuit.

Uiteindelik is hulle beveel om op hul bed te gaan lê. Dit is toe wat
die egpaar gebid en die aanvaller gevlug het.

Volgens die egpaar het die aanvaller telkens op sy selfoon gepraat.
Hulle vermoed hy is aangesê wat om te doen.

“Hy is ’n amateur en heeltemal onervare,” sê mev. Minnaar. “Hy het
iemand anders se opdragte uitgevoer.”

Die egpaar, wat 20 jaar getroud is, was gister nog in die Bloemfontein-
Medi-Clinic en is erg getraumatiseerd. Hulle gaan vandag terug huis
toe.

Die professor en sy vrou prys die Here dat hulle nog lewe.

Volgens mev. Minnaar koester hulle ook geen haat teenoor die “kind”
wat hulle aangeval het nie.

“Ek kry die kind jammer. Ek is jammer vir hom omdat hy ’n verlore siel
is.

“Hy word deur ander gebruik. Hy moet die vuilwerk doen,” sê sy.

Supt. Annelie Wrensch, polisiewoordvoerder, sê niemand is nog in
verband met die huisrooftog in hegtenis geneem nie.

- Volksblad

Oorsprong:Volksblad
( http://tinyurl.com/yapwyz4 )
Vorige onderwerp: ‘Die wêreld moet weet van dié polisiegeweld’
Volgende onderwerp: Man in bors gesteek toe hy aanvaller uit rolstoel takel
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mei 02 16:19:10 MGT 2024