Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » Julius dreig jeuggroep
Julius dreig jeuggroep [boodskap #119439] Wo, 24 Maart 2010 10:04
Etienne Marais  is tans af-lyn  Etienne Marais
Boodskappe: 370
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Senior Lid
Julius dreig jeuggroep

2010-03-19 22:49

Pieter-Louis Myburgh

ANC-amptenare het gister bladsye met die name van 1 600 slagoffers van
plaasaanvalle verskeur, dit in die straat gegooi en daarop getrap.

Mnr. Ernst Roets, leier van AfriForum Jeug, mnr. Kallie Kriel,
uitvoerende hoof van AfriForum, en die sangers Steve Hofmeyr, Sean
Else en Gerrie Pretorius het die name met die slagoffers na Luthuli-
huis, die ANC se hoofkantoor in Johannesburg, gevat.

Polisielede het die groep toegang tot die gebou geweier.

Die groep sou aanvanklik ’n optog vanaf Mary Fitzgeraldplein tot by
Luthuli-huis in die Johannesburgse middestad lei.

Daarna sou hulle die lys met die slagoffers se name en ’n memorandum
aan mnr. Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, oorhandig.

In die memorandum word kapsie gemaak oor Malema se onlangse “Kill the
Boer”-uitsprake.

Malema en Roets het eergister vergader om te gesels oor die
oorhandiging van die dokumente en die optog.

Malema het glo op die vergadering daarop aangedring dat AfriForum Jeug
’n klag van haatspraak wat hulle teen hom ingestel het oor die “Kill
the Boer”-slagspreuk terugtrek.
AfriForum het geweier.

Malema het daarop glo toestemming tot die optog na Luthuli-huis
geweier en sy voornemens om die memorandum in ontvangs te neem,
onttrek.

“As julle môre by Luthuli-huis protesteer, gaan dit wat met die IVP
(in 1994 by Shell-huis) gebeur het, homself herhaal,” het Malema
daarna na bewering in sy kantoor aan Roets en drie ander AfriForum-
jeuglede gesê.

Dit is ’n verwysing na die Shell House-slagting, toe 19 mense in 1994
gesterf het nadat veiligheidswagte van die ANC losgebrand het op ’n
groep optoggangers van die IVP.

Toe Roets by Malema wou weet wat hy hiermee bedoel, het Malema glo
gesê AfriForum moet “kom en dan kyk ons wat gebeur.”

AfriForum het in reaksie hierop besluit om voort te gaan met die
vergadering by Mary Fitzgeraldplein.

Sowat 100 optoggangers, wat ’n aantal naasbestaandes van
plaasmoordslagoffers ingesluit het, het gister “Stop Malema”-plakkate
op die plein geswaai.

“Hierdie is nie ’n kleuterskool waar jy cowboys en crooks speel nie,
hier gaan regte mense dood as jy súlke uitsprake maak,” het Kriel by
die byeenkoms oor Malema se uitlatings gesê.

Ná die byeenkoms het ’n kerngroep van AfriForum na Luthuli-huis gegaan
om die memorandum te oorhandig. By hul aankoms is hulle deur die
polisie toegang geweier tot die gebou. ANC-amptenare het die
memorandum saam met die lyste met name opgeskeur en vertrap.

Mnr. Floyd Shivambu, woordvoerder van die ANC-jeugliga, het gister
ontken dat daar eergister ’n vergadering tussen Malema en Roets
plaasgevind het.

Volgens hom het Malema ook nie ooreengekom om enige dokumente van
AfriForum Jeug te ontvang nie. “Daar was Donderdag geen amptelike
vergadering nie. Daai man (Roets) jok. Hy is ’n leuenaar.”

Shivambu het egter self eergister se vergadering in ’n SMS – wat Beeld
gesien het - aan Roets bevestig.

Drie lede van AfriForum Jeug het bevestig hulle was eergister saam met
Roets in Malema se kantoor.

Hulle het ook bevestig dat hulle die intekenvorm by Luthuli-huis
ingevul het.

Oorsprong:Beeld
( http://tinyurl.com/y9y528y )
Vorige onderwerp: 5 met grawe, messe in dorpshuis aangeval
Volgende onderwerp: Groenteboer sterf ná skote deur slaapkamerdeur
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mei 02 15:47:50 MGT 2024