Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » SA hospitale - nog 'n episode
SA hospitale - nog 'n episode [boodskap #118007] So, 29 Junie 2008 12:27
Ferdi  is tans af-lyn  Ferdi
Boodskappe: 561
Geregistreer: Maart 2007
Karma: 0
Senior Lid
Alleen moes sy in stikdonker toilet kraam
Jun 27 2008 09:59:06:863PM - (SA)

Antoinette Pienaar

Sy het stoksielalleen en bewend van die koue in 'n stikdonker toilet
van 'n staatshospitaal geboorte gegee aan haar dooie baba.

Ná 'n halfuur se vergeefse geroep na verpleegsters het sy haar vriend
op sy selfoon gebel om haar te kom help.

Só vertel me. Hannie Venter (25) van Rustenburg in Noordwes oor haar
nagmerrie-ondervinding in 'n kraamsaal van dié stad se provinsiale
hospitaal.

Venter het 'n paar dae tevore uitgevind haar baba, waarmee sy agt
maande swanger was, is in haar baarmoeder dood.

“ 'n Ginekoloog in 'n private hospitaal sou 'n keisersnee doen, maar
ons het op die nippertjie uitgevind die mediese fonds betaal nie
(daarvoor nie).

“Op 11 Junie is ons na die provinsiale hospitaal waar 'n dokter gesê
het ek moet elke vier ure 'n induksiepil kry. Die verpleegsters het
dit egter elke ses ure toegedien.

“Daar lê en wag ek toe tussen al die ma's wie se babatjies se harte
nog geklop het.

“Teen 22:00 het ek aan die verpleegsters gesê die kraampyne begin
erger raak. Hulle het onderneem om terug te kom.”

Venter is later toilet toe. Op pad het sy glo gesien hoe een van die
verpleegsters, wat veronderstel was om haar te monitor, op 'n bed sit
en klets met 'n ander pasiënt.

“Toe ek wou opstaan van die toilet, het ek gevoel die baba kom uit.

“Die lig in die badkamer was stukkend. Ek het net die liggie van my
selfoon gehad om te sien.

“Ek het geroep en geroep, maar niemand het gekom nie. Ná wat soos 'n
ewigheid gevoel het, het ek my vriend op sy selfoon gebel by die huis
waar hy na my ander kind omgesien het.”

Mnr. Willem van der Westhuizen het hospitaal toe gejaag. Daar het
verpleegsters volgehou Venter is in haar bed, totdat hy hulle
gekonfronteer het oor die oproep uit die toilet.

Venter sê sy kon waar sy huilend in die stikdonker toilet gesit het,
hoor hoe hy met die verpleegsters praat. “Toe ek by haar kom, het sy
steeds daar gesit, met die dooie baba nog aan die naelstring in die
toilet. Dit was nie 'n mooi gesig nie.”

Venter is terug na die saal geneem waar 'n dokter die plasenta
verwyder het. Die dokter het opdrag gegee verpleegsters moes Venter
was, maar hulle is vort sonder om dit te doen.

Toe sy later met haar bebloede lyf na 'n ander saal oorgeplaas is, het
Venter glo gesien hoe 'n paar verpleegsters lê en slaap, toegegooi op
stoele wat teen mekaar geskuif is.

In die ander saal het 'n man glo poedelnakend, met net 'n drup in sy
arm, rondgeloop.

Die volgende oggend moes sy glo weer haar vriend bel om haar te kom
was.

Dr. Andrew Robinson, waarnemende hoof van die
Noordwes-gesondheidsowerheid, het gesê dié soort behandeling word nie
as aanvaarbaar beskou deur die departement nie. Die saak word glo
ondersoek.
Vorige onderwerp: SA Polisiemagte skiet op mekaar na Metropolisie paaie blokkeer, motoriste aanrand
Volgende onderwerp: Uit Beeld - vergiffenis vra
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Apr 28 22:09:17 MGT 2024