Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » SA Polisiemagte skiet op mekaar na Metropolisie paaie blokkeer, motoriste aanrand
SA Polisiemagte skiet op mekaar na Metropolisie paaie blokkeer, motoriste aanrand [boodskap #117921] Do, 26 Junie 2008 09:22
Nou....@gmail.com  is tans af-lyn  Nou....@gmail.com
Boodskappe: 116
Geregistreer: Junie 2005
Karma: 0
Senior Lid
Van http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2347183,00. html

--
Skote op M2; duisende motoriste lank vasgekeer
Jun 26 2008 12:16:02:113AM - (SA)

In ’n skietgeveg op die M2-hoofweg in Johannesburg tussen
metropolisielede en lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD)
het rubberkoeëls motoriste se motors beskadig en van hulle het
vreesbevange agter hul motors weggekruip.

Die metropolisielede het die hoofweg by die Rissikstraat-afrit van
omstreeks 16:00 tot 19:00 met hul ampsmotors afgesper omdat hul
onderhandelinge met die Johannesburgse stadsraad oor salarisse nie na
hul sin verloop het nie.

Die SAPD het begin skiet nadat die metropolisielede geweier het om die
pad weer oop te maak. Duisende mense wat in die spitsverkeer op pad
huis toe was, is ure lank in hul motors op die M2-oos en -wes, sowel
as op die M1-noord en -suid, vasgekeer.

Verskeie strate in die Johannesburgse middestad is ook deur
metropolisielede afgesper. Hulle het hul motors se sirenes die hele
tyd laat loei en die ligte laat flikker.

Metropolisielede onder leiding van mnr. Vincent Vena, organiseerder
van die vakbond vir munisipale werkers (Samwu), het omstreeks 16:00
besluit om die hoofweë en paaie in die middestad te versper nadat
hulle vergeefs op me. Lele Sithole, direkteur van menslike hulpbronne
van die Johannesburgse stadsraad, gewag het.

Hulle is ontevrede oor die hoë vlak van beweerde nepotisme in die
metropolisie. Volgens hulle word sekere metropolisiebeamptes wat
bevriend is met dié in gesagsposisies, bo ander bevoordeel. Nuwe
werknemers kry ook glo ’n salaris ver onder die salarisvlak wat hulle
behoort te verdien.

Hulle het geëis dat Lele self vir hulle antwoorde gee.

Sowat 2 000 metropolisielede het van 10:00 af by die
metropolisiekantore in Villagestraat, tussen Eloff- en Lovedaystraat,
vergader.

Baie motoriste was op pad huis toe, aangesien die versperring tydens
spitsverkeer plaasgevind het.

SAPD-lede het omstreeks 17:00 by die toneel aangekom en geëis dat die
metropolisielede hulle uit die voete maak.

Die metropolisielede het geweier. Die sowat 200 lede wat op die M2-
hoofweg naby die Rissikstraat-afrit saamgetrek het, het onder meer
getoi-toi en in ’n bondel op die hoofweg gesit, terwyl ander
oorlogsliedjies gesing het.

Die spanning het teen 17:30 hoog begin loop toe die polisielede aan
die een kant van die pad gaan staan het en die metropolisie aan die
ander kant.

Toe die metropolisielede steeds weier om die hoofweg te verlaat, het
die polisie met rubberkoeëls op hulle losgebrand.

Teen 18:50 het die polisie met Nyalas die metropolisielede wat op die
M2-wes gestaan het, verdryf. Terselfdertyd het die verkeer weer begin
vloei.

Ontstoke metropolisielede het gedreig om met skerp ammunisie terug te
skiet op die polisielede. Skuiling is agter motors ingeneem wat op die
hoofweg gestaan het.

Sowat die helfte van die groep metropolisielede het die hasepad op die
M2-oos gekies terwyl die Nyalas hulle op die M2-wes, teen die rigting
van die verkeer in, gevolg het.

Volgens Vena vergader Samwu, Cosatu en die ANC vanoggend by die ANC se
kantore in Rissikstraat en daarna sal Samwu-amptenare terugvoer gee
aan metropolisielede wat by die metropolisiekantore in die middestad
sal saamtrek.
Vorige onderwerp: Brown terug in Polsmoor sonder sy medikasie...
Volgende onderwerp: SA hospitale - nog 'n episode
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Apr 28 20:44:51 MGT 2024