Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » Onwettig van Zimbabwe tot in Suid-Afrika... in net 15 sekondes
Onwettig van Zimbabwe tot in Suid-Afrika... in net 15 sekondes [boodskap #119660] Vr, 30 April 2010 15:21
Etienne Marais  is tans af-lyn  Etienne Marais
Boodskappe: 370
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Senior Lid
Sensors in heinings werk nie, massiewe gate in heinings. Grense
porieus.
------------------------
2010-04-28 23:46
Erika Gibson

Musina

Die weermag kan binne sy huidige begroting slegs sowat 600 soldate
(vier kompanies) verskaf om die Zimbabwiese grens van 220 km te
patrolleer.

Om die beplande 16 kompanies van nou af vorentoe te ontplooi, sal ’n
aansienlike ekstra bedrag aan die weermag toegeken moet word.

Dit gaan boonop R16 miljoen kos om die sensors in die grensheining te
herstel. Die onderhoud daarvan beloop ’n verdere R6 miljoen tot R7
miljoen per jaar.

Die heining se sensors werk glad nie meer nie en die soldate op hul
voete aangewese om die grenslyn te patrolleer.

Die sensors is elke 10 km aan ’n eggo-stasie gekoppel, waar die
sensors ’n alarm laat afgaan as dit versteur word. Niks van die
stelsel werk tans nie.

Die weermag het sedert April die grensbewakingsrol weer amptelik by
die polisie oorgeneem, maar ook hier blyk verwarring te wees.

Tydens ’n besoek van die parlementêre portefeuljekomitee oor
verdediging aan die grensbasisse vandeesweek het mnr. Mnyami Booi,
voorsitter van die komitee, gevra hoekom die soldate onder “haglike”
omstandighede in die veld moet bly.

Terselfdertyd is dit duidelik dat die polisie nog nie onttrek het nie
en die meeste van die behoorlike verblyfgeriewe beset.

Die weermag sou einde Maart die geriewe wat hy in 2005 aan die polisie
oorhandig het weer begin oorneem het.

Die grootste gedeelte van die polisiekontingent is egter steeds
teenwoordig, al het die soldate reeds die werk begin doen.

Die driedubbele grensheinings keer duidelik niemand nie, met plek-plek
oopgeknipte gedeeltes groot genoeg vir ’n voertuig om deur te ry.

Volgens kol. Lucas Delport van die weermag se gesamentlike
operasiesentrum is die rekordtyd vir ’n onwettige immigrant om oor al
drie heinings te klouter 15 sekondes. “Dit maak dit onmoontlik vir ons
om betyds te reageer as ons nie elektroniese stelsels het om ons te
help nie,” het hy gesê.

Die kontrakteur, wat destyds nog deur die weermag aangestel is om die
instandhouding van die grensheining te behartig, het in Desember
verlede jaar bankrot gespeel.

Sedertdien het die elektroniese gedeelte van die heining geheel en al
verval, terwyl die lemmetjies- en ander heinings eenvoudig met tange
oopgeknip word.

’n Nuwe tender sal op die vroegste in September vanjaar toegeken kan
word, maar die weermag het nie daarvoor begroot nie aangesien die
grootskaalse herontplooiing op die grense skielik gekom het.

’n Genie-kompanie van die weermag word eersdaags ontplooi om net die
ergste skade aan die grensheining te herstel. Die eerste kompanie van
44 Valskermregiment, Bloemfontein, wat reeds daar is, sal teen die
einde van die maand met nog twee kompanies van hul makkers aangevul
word.

Volgens lt.kol. Johan Herbst, waarnemende bevelvoerder van die
taktiese hoofkwartier Limpopo in Musina, het die weermag vanjaar reeds
9 049 onwettige immigrante by dié grens in hegtenis geneem. Dit bly ’n
onbegonne taak om die instroming te keer.

- Die Burger

Oorsprong:Die Burger
( http://www.dieburger.com/Suid-Afrika/Nuus/Onwettig-van-Zimba bwe-tot-in-SuidAfrika-in-net-15-sekondes-20100428
)
Vorige onderwerp: Vrou baklei nog ná skoot in kop
Volgende onderwerp: 80-jarige geskiet vir klein radio, selfoon
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Apr 27 07:25:57 MGT 2024