Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Israel, die probleem
Israel, die probleem [boodskap #117619] Do, 12 Junie 2008 12:06
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
Beeld-forum: Die VSA en Israel: bloedskande?
Jun 11 2008 07:24:59:960PM - (SA)

Hermann Giliomee

Barack Obama se groot aantrekkingskrag as Amerikaanse
presidentskandidaat is sy strewe om beginsels eerste te plaas en hom
te bevry van die druk van spesiale belangegroepe.

En tog was sy eerste stap, nadat hy as die Demokratiese kandidaat
aangewys is, ’n toespraak in Washington voor die magtige Pro-Israel
drukgroep, American Israel Public Affairs Commitee (AIPAC).

Dit was ’n glansbyeenkoms. Die presidentskandidate en 300 senatore en
kongreslede was daar, saam met 7 000 ampsdraers van Joodse
organisasies. Soos omtrent al die huidige en voormalige kandidate het
Obama die sekuriteit van Israel gewaarborg, maar hy het ook veel
verder gegaan deur hom tot “’n onverdeelde Jerusalem, die ewige
hoofstad van Israel” te verbind.

Uri Avnery, ’n bekende aktivis vir vrede in Israel, het op sy
webrubriek hom afgevra hoekom die bande tussen Israel en die VSA so
ongelooflik sterk en AIPAC so invloedryk is. Hy kry sy antwoord in die
sterk ooreenkoms wat Amerikaners en Israeli’s in die geskiedenis van
vestiging in die onderskeie lande sien. In albei gevalle het die
pioniers hulself as “pelgrims” beskou, en is die inheemse bevolking
uitgewis of verjaag om die land “etnies te suiwer”. In albei gevalle
ontken die breë publiek die suiwering of vergeet daarvan. En in albei
gevalle is ’n gevorderde en komplekse samelewing opgebou. Vir politici
in dié twee lande is “Israel ’n klein Amerika en Amerika ’n groot
Israel”.

Gedurende die 1930’s het Lord Hailey, ’n bekende Britse geleerde,
opgemerk dat daar by Afrikaners die brandende begeerte is dat Suid-
Afrika ’n VSA in die kleine moet word. Die begrippe “armblanke”,
“segregasie” en “apart maar gelyk” is almal vanuit die VSA in ons
politiek ingevoer. Dr. Hendrik Verwoerd was nooit deur die Nazi-
ideologie aangetrek nie, maar wel deur sekere Amerikaanse sosioloë wat
hy in die twintigerjare op ’n besoek aan die VSA ontmoet het. Hulle
het geglo dat die behoorlike uitleg van stede en ordening van
gemeenskappe groot toekomstige wrywing kan voorkom.

Met die Israeli’s se briljante oorwinning oor die Arabiese leërs in
die Sesdaagse Oorlog van 1967, het die liefdesverhouding tussen die
VSA en Israel vlam gevat. Dit was gebou op openlike wedersydse
bewondering. Joodse drukgroepe en fundamentalistiese kerke in die
Amerikaanse suide het gedurig Israel as die Beloofde Land van die Jode
en ’n moreel regverdige saak van die hoogste orde voorgehou.

Die Afrikaners het geen etniese bande of drukgroepe in die VSA gehad
waarop hulle kon staatmaak nie. Hul taal en gewoontes was vreemd. In
1967 het Alan Drury, ’n bekende Amerikaanse skrywer, ná ’n besoek aan
Suid-Afrika A very strange society geskryf, waarin die isolasie van
blankes en hul beheptheid met rasseskeiding sterk belig is.

Vroeg in die jare sewentig het die Amerikaanse departement van
buitelandse sake aan die Suid-Afrikaanse probleem die naam “the tar
baby option” gegee – as jy daaraan raak, maak jy jou hande vuil. Henry
Kissinger het ná sy ontmoeting met John Vorster na hom as ’n “Ou
Testamentiese figuur” verwys.

Chester Crocker, die Amerikaanse adjunk-sekretaris vir Afrika in die
tagtigerjare, het geskryf dat pres. P.W. Botha vasgeval het in “’n
moeras van konsepte en terme” wat net binne sy eie party verstaan
word. Daarteenoor kon Israel reken op volgehoue Amerikaanse steun ten
spyte daarvan dat hy al dieper gesink het in die moeras van die
besetting van die Palestynse gebiede, wat al van 1967 voortduur.

Teen die jaar 2000 het die wiel begin draai. Buite die VSA is Israel
al minder as ’n Amerika in die kleine gesien, en al meer as apartheid
in die kleine. Meron Benvenisti, ’n voormalige adjunk-burgemeester van
Jerusalem, het geskryf dat die muur in Israel die Palestyne in die
Wesbank gevangenene hou, soos in Bantoestans. Oud-president Jimmy
Cater se onlangse boek met die veelseggende titel Palestine: Peace not
apartheid het ook groot opslae gemaak.

Vrede sal moeilik wees om te bewerkstellig, maar al meer begin die
besef deur te breek dat hoe langer die besetting voortduur, hoe meer
raak die oplossing van twee aparte state onmoontlik. En hoe meer raak
die Israeli’s en Palestyne in ’n klassieke burgerregtestryd gewikkel
in ’n samelewing waarin Palestyne binnekort die meerderheid sal vorm.
Vorige onderwerp: Re: Super-size kiddie put on strict diet
Volgende onderwerp: Sardines shoals netted in Margate
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Apr 28 20:26:03 MGT 2024