Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » PW sterf vreedsaam
PW sterf vreedsaam [boodskap #111478] Wo, 01 November 2006 09:44
MoN[2]  is tans af-lyn  MoN[2]
Boodskappe: 4
Geregistreer: November 2006
Karma: 0
Junior Lid
PW sterf vreedsaam
Nov 01 2006 12:16:23:270AM - (SA)

Willem Jordaan
Kaapstad. - Oudpres. P.W. Botha is gisteraand in die ouderdom van 90 jaar
in sy huis, Die Anker, in die Wildernis naby George oorlede.

Insp. Johan Strydom, een van Botha se wagte, het gisteraand bevestig dat
Botha gesterf het en dat sy vrou, Barbara, ten tye van sy dood in die huis
was.

Volgens mnr. Hein Marx, 'n vriend, het sy hom net ná 20:00 dood in sy bed
aangetref.

"Alles het eintlik heel vreedsaam verloop," het Marx aan Sapa gesê.

"Hy was baie gesond, behalwe toe hy twee weke gelede sleg gevoel het."

Volgens hom was Botha se oudste dogter, mev. Elanza Maritz, gisteraand by
Die Anker om Botha se weduwee te ondersteun. 'n Leraar van die NG Kerk was
ook teenwoordig.

Botha is verlede maand uit die Medi-Clinic op George ontslaan nadat hy vir
'n roetine-ondersoek opgeneem is.

Hy het glo sleg gevoel, waarna hy per ambulans na die kliniek vervoer is.

Botha het in Januarie 1989 'n beroerte gehad, waarna hy in Augustus van
dieselfde jaar uit die politiek getree het.

Botha se mees onlangse openbare optrede was in Maart by die bekendstelling
in die Wildernis van CD's en video's van 'n onderhoud wat die
vryskutjoernalis Cliff Saunders (vroeër van die SAUK) met hom gevoer het.

Botha het by dié geleentheid met 'n kierie geloop en moeisaam beweeg, hoewel
hy telkemale opgestaan het om fier en regop vrae te beantwoord, het Beeld se
susterkoerant Die Burger berig. Hy het vrolik voorgekom en grappies vertel.

Mnr. Mukoni Ratshitanga, woordvoerder van pres. Thabo Mbeki, het gisteraand
vanuit Doebai gesê die presidensie sal vandag 'n verklaring uitreik, maar
het intussen simpatie met die familie uitgespreek.

Oudminister Pik Botha het gisteraand aan Borrie la Grange gesê Botha "was 'n
man wat gedissiplineerde optrede hoog geag het".

"Hy was 'n man vir organisasie," het Botha gesê.

"Hy het nie tyd vir nonsens en spookstories gehad nie. Hy het 'n
interessante persoonlikheid gehad: As die kabinet in die bos vergader het,
het hy die grootste humorsin gewys. Hy was 'n mán se man in die bos."

Botah het ook na die voormalige staatshoof se afsydigheid as leier verwys en
die persoonlike afstand wat hy tussen hom en sy kabinetsministers gehandhaaf
het.

"Hoewel ons kwaai verskil het by sy uittrede, het hy my tog die vryheid
gegee om belangrike samesprekings met die beëin­diging van die oorlog in
Angola en die onafhanklikheidswording van Suidwes-Afrika te voltooi."

Hy voel dat Botha nie genoeg krediet gegee word vir die feit dat hy
toegelaat het dat groot besluite deur sy kabinet geneem word nie.

"In baie opsigte was hy meer liberaal as wat mense besef.

"Hy het sy lewe lank 'n toegeneentheid teenoor bruin mense gehad - iets
waaroor hy en wyle dr. Andries Treurnicht skerp verskil het.

"Hy was nie 'n rassis soos mense dit noem nie, maar wel 'n militaristiese
tugmeester.

"Sy probleem was dat hy die onafwendbaarheid van transformasie ingesien het,
maar dat hy nie vir die omvang daarvan kans gesien het nie. Hy het
vasgesteek voor 'n besluit."

Volgens Botha is dit jammer dat die oudpresident se rol om die land op die
pad van die nuwe Suid-Afrika te plaas, nie algemeen erken word nie.

Sy nalatenskap is beslis omstrede, berig Jan-Jan Joubert. Hoewel die
"kragdadige" Botha Suid-Afrika pragmaties probeer weglei het van rigiede
apartheid, kon hy nie die Rubicon oorsteek na ware demokrasie nie en het
erge menseregte-vergrype onder sy bewind teen die land se swart meerderheid
plaasgevind.

Botha is op 12 Januarie 1916 op die plaas Telegraaf naby Paul Roux in die
Oos-Vrystaat gebore in 'n gesin waar die politiek belangrik geag is.

Hy het in die regte gestudeer, maar in sy tweede jaar het hy sy studies
opgeskop om voltyds vir die NP te werk.

Hy het adv. John Vorster in 1978 as staatshoof opgevolg.

www.news24.com/Images/Photos/20061101002108VBRT.jpg
Vorige onderwerp: Interesante verklaring deur die VF+
Volgende onderwerp: " P.W. Botha was nie my leier nie " deur FERDI GREYLING ( uit Beeld)
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Apr 27 22:30:39 MGT 2024