Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Afrikaans, ons taal » Debat oor Afrikaans op SêNet
Debat oor Afrikaans op SêNet [boodskap #28907] Do, 03 Februarie 2000 00:00
voer...[1]  is tans af-lyn  voer...[1]
Boodskappe: 6
Geregistreer: Januarie 2000
Karma: 0
Junior Lid
Op die andersins powere www.24.com is daar 'n redelike interessante
debat oor Afrikaans ... sien
http://www.24.com/lifestyle_&_interests/books/litnet/sen et/default.asp

ONDERSKEI TUSSEN PRIVATE EN OPENBARE AFRIKAANS ...

Soos 'n ander briefskrywer dit onlangs op SêNet stel, het Dan Roodt
dit gewis reggekry om 'n lewendige debat aan die gang te sit. Wanneer
'n mens kyk na die verskillende besware wat briefskrywers teen die
betoging geopper het, is dit myns insiens nodig om drie waarnemings
daaroor te maak:

1.Die eerste waarneming is dat dit in die huidige Afrikaanse
taalpolitiek nodig is om 'n ontsettend belangrike, dog dikwels
nagelate, onderskeid te tref tussen openbare en private
Afrikaans. By private Afrikaans bedoel ek Afrikaans soos ons
dit elke dag in die omgang gebruik om sosiaal te kommunikeer,
om liefde te maak en te huil, en om skeppend te wees. By
openbare Afrikaans bedoel ek Afrikaans soos dit in die
onderwys, reg, politiek, wetenskappe en ekonomie gebruik
word. In 'n volwaardige, selfstandige taal is albei hierdie fasette
van taalgebruik funksioneel noodsaaklik vir die gedying van die
taal.
As ons terugkyk sedert 1994 en selfs daarvoor, is dit duidelik
dat private Afrikaans, in teenstelling met openbare Afrikaans,
van krag tot krag gegaan het. Met die heengaan van die
apartheidsregime het Afrikaans sy politieke bagasie vinnig
verloor en het daar 'n duidelike ommekeer in houding teenoor
Afrikaans as omgangstaal deur Afrikaanssprekendes en
nie-Afrikaanssprekendes gekom. Hiervan getuig die groter
bereidwilligheid wat baie van ons sekerlik op voetsoolvlak ervaar
van mense om Afrikaans te praat, sowel as die groei van veral
Afrikaanse musiek en letterkunde in die jare negentig.
Aan die ander kant is dit duidelik dat openbare Afrikaans
sedert 1994 'n kreeftegang beleef. Daar kan 'n hele lang lys van
voorbeelde aangehaal word, waarvan ek slegs 'n paar noem: die
uitspraak deur die Grondwetlike Hof in 1996 dat die verpligting
tot moedertaalonderrig in staatskole nie op die staat
afdwingbaar is nie, die groeiende verengelsing van die
bestaande Afrikaanse universiteite, die uitboendering van
Afrikaans uit die staatsdiens en semi-staatsektor, die afgang
van Afrikaans in die openbare media en so meer. 'n Uitstekende
oorsig hiervan word deur Z.B. du Toit gegee in sy hoofstukke oor
taal in Die Nuwe Toekoms. Dit kom in kort daarop neer dat die
hele erflating van die pre-apartheid (toe nasionalisme nog
gelykgestaan het aan linkse politiek) Afrikaanse taalapologete
al tot 'n groot mate ongedaan gemaak is. Hoewel Jaap Steyn se
biografie oor Van Wyk Louw nie sonder gebreke is nie, toon hy
baie duidelik aan in watter ellendige posisie Afrikaans so kort as
80 jaar gelede nog was, beide openbaar en privaat, en hoe die
bemagtiging van openbare Afrikaans ook 'n kragtige effek op
private Afrikaans gehad het.
Die ironie is natuurlik dat ons sedert 1994 sien hoe private
Afrikaans gedy terwyl openbare Afrikaans afgaan. Die hele gros
briefskrywers wat Dan dus kritiseer omdat dit so goed met
Afrikaans sou gaan, besef eenvoudig nie hierdie belangrike
onderskeid nie. En Dan se voorgestelde petisie het duidelik niks
te doen met private Afrikaans nie. Daarom is die standpunt dat
"ons net die taal moet praat met 'n smile "en so meer eintlik
heeltemal misplaas. Om lekker te karfoefel in Afrikaans gaan
helaas nie die kreeftegang van openbare Afrikaans keer nie.
Ek steun dus Dan se betoging in die eerste plek ter wille van
die handhawing van openbare Afrikaans.

2.'n Veelheid van briefskrywers reken dat wanneer 'n mens oor
Afrikaans protesteer moet jy regs wees, beangs en 'n laer wil
trek. Hiermee word myns insiens 'n verdere belangrike kwessie
misgekyk, naamlik dat die politieke toneel wêreldwyd en in
Suid-Afrika in so 'n mate verskuif het dat etniese politiek nie
meer regs is nie, maar links. Die progressiefste politiek word
vandag gevoer deur die Chiapas-Indiane van Meksiko, die
Quebeckane van Kanada, die Katalone van Spanje, die
Walliesers, om maar 'n paar te noem. By al hierdie minderhede
is die strekking van hulle betoog duidelik links, selfs ultralinks,
soos by die Chiapas wat by wyse van die Internet 'n
merkwaardige stryd voer teen onderdrukking en waansinnige
globaliseringstaktieke deur die Meksikaanse heersersklas.
My raaiskoot is dat veral jong Afrikaners, wat al te dikwels
deur ou omies met regse agendas in die vorige bedeling tot
taalsuiwerheid opgekommandeer is, nog nie besef het dat
daardie dae verby is nie. Afrikaans bevind haar vandag in die
unieke posisie dat die ou en die jong geslag nie mekaar die
stryd hoef aan te sê nie. Die ouer geslag is eintlik verleë oor die
wanpolitiek wat hulle tydens apartheid gevoer het en kyk na die
jonges vir nuwe idees en energie. Net so kan die jonges vandag
rustig by die ooms aan tafel sit en uitvind watter foute om nie te
begaan nie, op grond van die ooms se ervaring. Ons kan nie
vandag die verdelingslyne van die verlede meer aanvaar of selfs
bekostig nie: daarvoor is die situasie te dringend. Oud en jonk,
links en regs, moet dus vinnig besef dat die tyd vir 'n herdinking
van wie ons is aangebreek het en dat dit 'n kreatiewe
geleentheid is waarvoor daar nie 'n historiese presedent in
Afrikaans bestaan nie. Wie dink dat byderwetse
taalnasionalisme regs is, ly aan geheueverlies en dink dat die
geskiedenis van Afrikaans terugstrek tot 1948. Moet tog nie
vergeet dat die eerste republikeine van Suid-Afrika die boere van
Stellaland en Swellendam aan die begin van die 19de eeu was
nie en dat hulle hulle met die destydse voorste linkse politieke
beweging van daardie tyd, naamlik die Franse Rewolusie,
verbind het.

3.Daar is briefskrywers wat beweer dat veeltaligheid die beste
opsie vir taalpolitiek is. Op die oog af is veeltaligheid sonder
meer die sinnigste opsie vir Suid-Afrika. Die feit van die saak is
egter dat die ANC self nie 'n hel omgee vir Afrikatale of
veeltaligheid nie. Hierdie mense, wat so hard probeer om swart
Engelse te wees, het nie net Engels in die proses verkrag nie,
maar smeer hulle eie tale in die grond in. Dit sal dalk vir baie
mense interessant wees om te weet dat 'n lid van die
beleidseenheid van die Gautengse onderwysdepartement, 'n
ANC-man, onlangs aan my by 'n diplomatieke geleentheid
erken het dat die huidige bewind eintlik nie weet hoe om die
taalkwessie te hanteer nie, dat dit beslis in die volgende twee
jaar 'n brandende vraag gaan word, en dat 'n groot rede vir die
katastrofale matriekuitslae is omdat die swart leerlinge nie in
hulle eie tale onderrig word nie. Dit is ongelukkig ook die verhaal
van die ganse post-koloniale Afrika en dit is onder andere
waarom daar 'n paar dae gelede 'n sekretariaat vir die
bevordering van Afrikatale in die lewe geroep is.
Wat mense blykbaar nie begryp nie, is dat wanneer ek as
Afrikaanssprekende vir my taal opkom dit outomaties 'n slag vir
veeltaligheid weg van eentaligheid impliseer. Engels is as ons
enigste internasionale taal gewis 'n belangrike bate, maar nie
wanneer dit mense ontmagtig nie. Dan verloor almal.
Veeltaligheid sal 'n doodgebore ideaal bly solank alle taalgroepe
in Suid-Afrika nie begin om vir hul tale in hul tale voorspraak te
doen nie.
As Afrikaanssprekende het ek ook doodgewoon nie die
legitimiteit om namens Zoeloe- of Xhosasprekers te protesteer
nie. Maar dit beteken terselfdertyd nie dat ek nou maar niks vir
my eie taal moet doen nie. Waarom dink soveel mense dat
protes vir Afrikaans neerkom op die minagting van veeltaligheid?

Om dus op te som, hoewel ek enkele klein wysigings aan Dan se
petisie sal voorstel, steun ek sy betoging ten volle en dit om drie
redes:
omdat die openbare kreeftegang van Afrikaans gestuit moet word,
omdat ek 'n byderwetse linkse posisie as lid van 'n progressiewe stam
wil inneem, en omdat ek daarmee tegelyk 'n bres vir veeltaligheid in
die
eentalige fasade van ons sentralistiese bewindhebbers wil slaan.
Uiteraard moet die intellektuele gesprek en pogings tot
onderhandelings met die regering hieroor voortgaan, en is 'n Handves
van Minderheidsregte ook my ideaal, maar dit sal hulle goed doen om
ook te besef dat hulle hulself 'n slag by hul eie beweerde
veeltaligheid
moet hou en dat Afrikaanssprekendes lankal nie meer die indoktrinasie
van gesagsfigure, hetsy politici, morele kwakers of kenners sluk nie.

Johann Rossouw
Vorige onderwerp: (leuke) verschillen Nederlands - Afrikaans
Volgende onderwerp: Wildewoordeboek A-C
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Apr 28 18:50:54 MGT 2024