Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » bleekgesig uit die noorde
bleekgesig uit die noorde [boodskap #140276] Di, 20 September 2022 11:13
Louis Basson  is tans af-lyn  Louis Basson
Boodskappe: 200
Geregistreer: Junie 2022
Karma: 4
Senior Lid
met net die lied van die wind
oor die groot oseaan
kom jy hier met jou vrou en kind
vanuit die noorde aan
styf toegedraai in die vel
van 'n snaakse soort dier
wat seker leef in die hel
want ons ken hom nie hier

jy sê ons hoef nie te vrees
want jy kom in vrede
dankbaar om nou hier te wees
ver weg van die wrede
mense in jou noorderland
jy gaan ook nou hier woon
hier in ons pragtige land
met sy mooi natuurskoon

die wiel help jou om vinnig
'n afstand af te lê
maar is dit wat ons innig
hier in ons land wil hê
jy maak lang stroke veld oop
waar jy jou wiel wil rol
stroke waar die diere loop
jou wiel maak grafte vol

jy leer ons met draad te werk
soos jy ons veld afkamp
dis dan glo jou plaas se merk
vir ons is dit 'n ramp
jou draad maak ons diere seer
ons kan nie meer daar loop
jy begin ons land beheer
jaag ons nou op 'n hoop

byl en saag begin nou praat
waar jy ons woude kap
vir ons voëls is dit te laat
waar jou byl neste hap
ook die diere begin trek
hul voel nie meer veilig
hul soek nou 'n ander plek
hul oerwoud was heilig

jou donderpyp kry sy beurt
om diere af te maai
dit laat ons mense verskeurd
soos dit die dood nou saai
daar kom nou nog meer van jou
ons word jou pyp se prooi
jy vat ons dogters as vrou
ons land is nie meer mooi
bleekgesig van die noorde
besef jy wat jy maak
jy weet nie hoeveel moorde
hoeveel wreedheid jy braak
regoor ons dierbaar aarde
wat het verkeerd geloop
niks het meer vir jou waarde
soos jy die aarde sloop
Vorige onderwerp: "Ek herhaal jou" deur INGRID JONKER
Volgende onderwerp: by die sterfbed van 'n eeu
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Apr 29 23:12:39 MGT 2024