Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Australië (Gemenebes Australië)
Australië [boodskap #125640] Wo, 08 Mei 2019 07:04
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Kaart van Australië.
Kaart van Australië.
Australië is 'n kontinent (soms as die wêreld se grootste eiland beskou) en 'n grondwetlike monargie in die Suidelike Halfrond. Dit is die sesde grootste land ter wêreld en die enigste wat 'n hele vasteland beslaan. Die hoofstad is Canberra en die land is 'n lid van die Britse Statebond.

Australië is hoofsaaklik ’n vlakte (waarvan dele onder die seespieël lê) wat oploop na die kus, ofskoon die hoogste bergpiek (Mount Kosciusko, Nieu-Suid-Wallis) slegs 7,328 vt. hoog is. Daar is min groot riviere; die vernaamste is die Murray, met sy takke die Darling en die Murrumbidgee. Groot dele van die binneland is woestynwêreld, veral in die weste, met sand, klippe, bossies (d.w.s. spinifex, ’n stekerige gras, en mulga) en soutmere; reënval (behalwe in die suidweste, verre noorde, ooste en suidooste) is laag. Pogings om voorsorg vir tye van droogte te maak, is onder meer die boor na water in artesiese putte en ontsaglike besproeiingswerke, bv. die opgaardamme in Nieu-Suid-Wallis.

Die land is lank gelede al van Asië geskei en is besonder interessant vanweë sy diere en plante, baie waarvan eie aan Australië alleen is, soos die kangaroe, dingo, koala, eendbekdier, kasuaris en bloegom. Van die plae wat ’n bedreiging vir die boerdery geword het, is die vernaamste die konyn en die dingo. Die vinnige aanwas van die turksvy het gedreig om die boerdery tot niet te maak, totdat ’n mot waarvan die ruspe turksvye doodvreet (cactoblastis) in ongeveer 1925 ingevoer is.

Australië het meer skape as enige ander land, ook groot troppe vee; sy landbouprodukte wat uitgevoer word, is botter, vleis, wol, vrugte, koring, wyn, beesvet, huide, heuning, rietsuiker, ens.; sy minerale rykdomme is o.a. goud, silwer, koper, sink, yster, steenkool, asook antimoon, tin, magnesiet, ens. Sintetiese ammoniak word nou op groot skaal vervaardig - daar is twee fabrieke in Nieu-Suid-Wallis. Uraanafsettings in die omgewing van die Flindersberge word ontgin. ’n Nuwe goudveld is in 1948 in die noordelike gebied ontdek.

Die klimaat is gesond. Van die inboorlinge lewe nog baie soos in die Steentyd; hulle het geen vaste woonplekke en geen kennis van die landbou nie, maar hulle het merkwaardig skerp oë en kan verbasend goed spoorsny.

Die vasteland is verdeel in 6 state en 2 gebiede (Noordelike Gebied en Hoofstedelike Gebied). Die state is Nieu-Suid-Wallis, Victoria, Queensland, Suid-Australië, Wes-Australië en Tasmanië (’n eiland). Die vernaamste stede is Canberra (hoofstad van die Gemenebes), Sydney, Melbourne, Adelaide, Brisbane en Perth.

Die Hollandse seevaarder Tasman het in 1642 Australië omseil en dit Nieu-Holland genoem. Die Engelse seevaarder William Dampier het in 1688 in Australië geland; maar eers in 1770, toe kapt. Cook in Botanybaai geland het, is die aandag werklik op Australië gevestig. Kolonisasie het begin met ’n strafkolonie op Port Jackson, naby die huidige Sydney. Die goudstormloop in 1851 het mense by duisendtalle na Victoria laat stroom. Federasie van die 6 state het in 1901 plaasgevind, toe die eerste parlement byeengekom het. Vandag word die Gemenebes bestuur deur ’n goewerneur-generaal, ’n eerste minister en ’n federale parlement met ’n Senaat van 36 lede (6 uit elke staat) en ’n Huis van Verteenwoordigers.

Australië het ’n groot aandeel in Wêreldoorlog II gehad, met ’n troepemag van oor die 578,000 mans en vroue en ’n verlieslys van 95,746. Paludrine, ’n teenmiddel vir malaria, is deur die Mediese Diens van die Australiese leër uitgevind.

Australië-dag of Wattle-dag, 26 Januarie, is die gedenkdag van die stigting van Sydney.

Bron: Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Austerlitz
Volgende onderwerp: Australiese voetbal
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 20:22:04 MGT 2024