Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Amerikaanse Vryheidsoorlog
Amerikaanse Vryheidsoorlog [boodskap #125007] Vr, 15 Maart 2019 06:04
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die Onafhanklikheidsverklaring word onderteken.
Die Onafhanklikheidsverklaring word onderteken.
Die Amerikaanse Vryheidsoorlog was 'n 8-jarige stryd (1775 - 83) tussen Brittanje en die Amerikaanse koloniste. Die oorsake gaan terug tot die Sewejarige Oorlog, ten gevolge waarvan Brittanje swaar belas is. Dit het nie meer as billik voorgekom nie dat Brittanje se Amerikaanse kolonies iets tot die uitgawe vir ’n leër in hul eie land moes bydra; gevolglik was Georg III en sy ministers ten gunste van die Stamp Act, wat bedoel was om ’n klein direkte seëlbelasting te hef; maar die koloniste het geweier om te betaal tensy hulle in die Britse parlement verteenwoordiging sou kry, en die Stamp Act is herroep. Later (1767) het die Parlement die koloniste gelas om sekere invoerregte te betaal; dié op tee het uitgeloop op die "Bostonse Teeparty" (1773), ’n oproer waarin koloniste, vermom as Rooihuide, 340 kiste tee in die hawe gegooi het. Die koloniste het hulle teen alle Britse eise verset; en ofskoon Edmund Burke vir konsiliasie gepleit het, het die oorlog in 1775 met die slag by Lexington ’n aanvang geneem.

Die Britse genl. Gage het teenoor ’n groep Amerikaanse state, aangevoer deur George Washington, te staan gekom. Dertien van hierdie state het verteenwoordigers na Philadelphia gestuur, waar (4 Julie 1776) die Onafhanklikheidsverklaring onderteken is. Washington het sy landgenote ’n nasionale vlag (die "Stars and Stripes" of "Old Glory") gegee, 1777. Sy leërs het baie nederlae gely, en verdere weerstand het dikwels vergeefs gelyk. ’n Britse leër, aangevoer deur genl. William Howe, het Washington se swak toegeruste leër by Brandywine verslaan; maar genl. Burgoyne is gedwing om hom by Saratoga oor te gee (1777), en later, met hulp uit Frankryk, het die Amerikaners die oorhand begin kry. Lord Cornwallis het genl. Gates by Camden verslaan, maar die oorlog het al hoe meer teen die Engelse verloop, en op 19 Okt. 1781 het Cornwallis hom by Yorktown oorgegee en daarmee die stryd beëindig.

Ná die Vrede van Parys (Versailles) 1783 het die Britte New York, hul laaste vesting, verlaat en het Brittanje die dertien state as die Verenigde State van Amerika erken.

Bron: Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Amerikaanse voetbal
Volgende onderwerp: Amerikium
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 14:13:42 MGT 2024