Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Aandele en effekte
Aandele en effekte [boodskap #124719] Sa, 02 Februarie 2019 19:50
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
"Aandele" is 'n term wat in die finansiewese gebruik word om die dele waarin die kapitaal van 'n onderneming verdeel is, aan te dui, en word in aandeelbewyse of -sertifikate beliggaam. Wanneer 'n maatskappy sy bedrywighede wil begin of uitbrei, verkry hy die benodigde kapitaal, in ooreenstemming met die geregistreerde akte van oprigting en statute van die maatskappy, deur aandele aan die publiek aan te bied. Laasgenoemde koop dit in die hoop dat die maatskappy winste sal maak. Hierdeur verkry hulle eienaarsbelang in die maatskappy. Die belangrikste soorte aandele is die voorkeur- en die gewone aandeel. Houers van eersgenoemde is geregtig op 'n vaste dividend voordat dividende aan die gewone aandeelhouers uitgekeer word. Indien die winste klein is, word die preferente aandeelhouers bevoordeel; indien dit groot is, kan die vaste dividend heelwat kleiner wees as die uitkerings op die gewone aandele. Die dividend op die voorkeuraandeel kan kumulatief wees - d.w.s. 'n dividend wat in enige jaar of jare nie betaal word nie moet by 'n volgende dividendverklaring uitgekeer word - of nie-kumulatief. Die voorkeuraandele kan ook aflosbaar wees, in welke geval die aandele teruggekoop word.

Wanneer aandele wat deur 'n maatskappy uitgereik is, volgestort is ("ten volle opbetaal"), kan hy hulle tot effekte omskep. Dié effekte kan gesplits en onderverdeel word en uit gedeeltes of samestellings van die omgesette aandele bestaan. Geregistreerde effekte is dié wat kragtens 'n sertifikaat gehou word, terwyl ongeregistreerde effekte dié is waarvoor bewyse uitgereik is.

Die term "effekte" word soms gebruik om die hele groep van waardepapiere op lang termyn aan te dui, d.w.s. gewone en preferente aandele, obligasies, skuldbriewe, staatseffekte e.d.m.

Daar is ook 'n kategorie, bekend as uitgestelde of slapende aandele, wat soms aan die oprigters van 'n maatskappy uitgereik word en waarvan die aanspraak op dividende ná dié van die gewone aandele in werking tree.

Wanneer 'n maatskappy geld wil leen, kan hy dit doen deur die uitgifte van obligasies of skuldbriewe wat aan die publiek verkoop word. In die obligasie en skuldbrief is 'n belofte vervat dat die bedrag daarin genoem op 'n sekere datum betaal sal word, terwyl in die tussentyd 'n sekere rente betaal word. Die besit daarvan gee aan die besitter geen eienaarsbelang in die onderneming nie. Die obligasies kan die naam van die houer vermeld of kan aan toonder uitgereik word. Hulle kan ook tot effekte omgeskep en in breukdele gesplits of in veelvoude of samestellinge gekonsolideer word.

Wanneer 'n regering of 'n groot munisipaliteit 'n lening wil aangaan, maak hy ook gebruik van effekteuitgifte.
Die houers van ingeskrewe aandele en effekte ontvang hul dividende per tjek, wat aan hulle self of hul bank uitgemaak is. Aan toonder-effekte word koepons geheg, wat vertoon moet word by uitbetaling van die betrokke bedrag.

Indien die houer van aandele en effekte te eniger tyd die belegde geld terug wil hê, moet hy hulle in 'n private transaksie of deur die effektebeurs verkoop, tensy hulle aflosbaar is en die vervaltyd daar is. Hy ontvang dan die markprys, wat nie noodwendig gelyk is aan die nominale of pariwaarde of uitgifteprys of aankoopprys nie, maar van verskillende faktore afhang.

Bron: Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Aak
Volgende onderwerp: Aaneenvriesing
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 18:39:56 MGT 2024