Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Zambië (Noord-Rhodesië)
Zambië [boodskap #124678] Do, 24 Januarie 2019 06:24
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Zambië (voorheen Noord-Rhodesië) is 'n onafhanklike republiek binne die Statebond, voorheen deel van die Federasie van Rhodesië en Njassaland. Die hoofstad is Lusaka. Dit word begrens deur Demokratiese Republiek van die Kongo, Tanzanië, Malawi, Mosambiek, Zimbabwe, Botswana, Namibië en Angola. Met 'n grootte van 288,000 vierkante myl is dit byna twee keer so groot soos Zimbabwe (Rhodesië).

Ekonomies gesproke is die belangrikste gedeelte die Koperstreek in die noorde naby die grens van die Kongo waar die grootste mineralebronne asook die grootste dorpe is. Die ontginning en suiwering van koper, waarvan Zambië een van die wêreld se vernaamste produsente is, is die belangrikste nywerheid. By Broken Hill word ook groot hoeveelhede sink en lood ontgin. Daar is ook verdere vooruitgang op die gebied van mynwese. Landbouprodukte, wat hoofsaaklik deur die naturelle verbou word, sluit in tabak, mielies en beeste; proefnemings word uitgevoer met rys en ander tropiese gewasse. Vis word in die Karibameer en ander waters geteel. Die fabriekswese is nog in die beginstadium.

ZAMBIË-JAARTALLETABEL

1798 Dr. Francisco José de Lacerda en J. Pinto, Portugese ontdekkersreisigers, volg die Zambezi verby Tete tot Cazembe, 780 myl van die see, waar de Lacerda lê.
1802-11 Pedro Baptista en Amaro José, Portugese basters, trek oor Afrika van Angola af en deurkruis die huidige Zambië.
1831 Kaptein Gamito, 'n Portugees, bereik Cazembe uit Mosambiek.
1850 David Livingstone bereik die Zambezi uit die suide.
1855 Livingstone ontdek die Victoria-waterval.
1858 Livingstone verken die Shirerivier, Njassa-meer en die Zambezirivier.
1860-3 Britse ekspedisie op die Zambezi.
1875 Dr. Emil Holub bereik die Zambezi.
1877 Kolonel A.A. Serpa Pinto deurkruis Afrika.
1883-7 Dr. Emil Holub besoek die Mashukulumbwe-gebied.
1889 Noord-Rhodesië word onder Afrika Orde-in-Rade gebring. British South Africa Company kry sy oktrooi.
1889 Elliot Lochner onderteken verdrag met koning Lewanika van Barotseland.
1890 Mnr. (later Sir) Harry Johnson word Haar Majesteit se Kommissaris en Konsul-generaal vir Sentraal-Afrika.
1896 Noord-Rhodesië word verdeel in Noordoostelike en Noordwestelike Rhodesië.
1897 Robert Coryndon aangestel as eerste Britse Resident in Barotseland.
1898 Chartered Company verkry alleenreg op minerale in Barotseland van Koning Lewanika.
1902 Roan Antelope- en Bwana Mkubwa-kopermyne gestig.
1903 Finale onderdrukking van slawehandel.
1904 Angone-stam onderwerp aan Britse gesag. Victoria-waterval-brug geopen. Spoorlyn gaan oor Zambezi.
1905 Livingstone word hoofstad Noordwestelike Rhodesië.
1906 Spoor verleng tot by Broken Hill.
1908 Kansanshi-myn lewer eerste koper.
1910 Nkana-myn deur Moffat Thompson ontdek.
1911 Noordoostelike en Noordwestelike Rhodesië verenig.
1912 Koperproduksie begin by Bwana Mkubwa-myn.
1917 Voorstel om Noord- en Suid-Rhodesië te verenig goedgekeur deur Wetgewende Raad in Salisbury (nou Harare), maar nie verder gevoer nie weens geskille tussen verkose lede. Adviserende Raad in Noord-Rhodesië tot stand gebring.
1918 Duitse magte onder generaal von Lettow-Vorbeck gee oor naby Fort Rosebery.
1923 Alleenreg vir prospekteerdery oor 52,000 vierkante myl deur die Chartered Company toegestaan aan Rhodesian Congo Border Development Company Limited.
1924 Noord-Rhodesië word protektoraat. Eerste Goewerneur, sir Herbert Stanley.
1926 Anglo-American Korporasie van Suid-Afrika begin met werksaamhede by Broken Hill en betree die kopernywerheid in Noord-Rhodesie.
1927 Sir John Maxwell word Goewerneur.
1929 Mosie ten gunste van amalgamasie met Suid-Rhodesië ingedien in Noord-Rhodesiese Wetgewende Raad. Takspoorlyn na Koperstreek.
1930 Daling in wêreldkoperprys bring beperkings op koperproduksie.
1932 Sir Ronald Storrs word Goewerneur.
1934 Sir Hubert Young word Goewerneur.
1935 Hoofstad van Noord-Rhodesië verskuif van Livingstone na Lusaka.
1936 Suid-Rhodesiese parlement ten gunste van samesmelting met Noord-Rhodesië.
1938 Sir John Maybin word goewerneur.
1939 Tweede Wêreld-oorlog. Noord-Rhodesiese magte opgeroep.
1941 Sir John Waddington word goewerneur
1944 Central African Council gestig. Britse regering verwerp voorstel vir samesmelting van Noord-Rhodesië, Suid-Rhodesië en Njassaland.
1946 African Representative Council in Noord-Rhodesië in die lewe geroep.
1947 Britse koningsgesin besoek Noord-Rhodesië. Sir Gilbert Rennie word goewerneur.
1948 Noord-Rhodesiese Wetgewende Raad vermeerder tot 4 naturelle en 9 genomineerde blanke lede.
1949 Federasie-samesprekings by Victoria-waterval.
1950 Nuwe lughawe by Livingstone geopen deur lord Pakenham. Regering van Noord-Rhodesië en die British South African Company kom ooreen om die mineraleregte van die gebied in 1986 aan die regering oor te dra; intussen betaal die maatskappy 20% van sy inkomste vir mineraleregte aan die regering.
1952 Konferensies i.v.m. Federasie in Londen.
1953 Federasie tree in werking (3 September). Lord Llewellin Goewerneur-generaal, sir Godfrey Huggins eerste Eerste Minister. Loonsverhogings op Koperstreek toegestaan deur bemiddelaar C.W. Guillebaud.
1954 Sir Gilbert Rennie, Goewerneur van Noord-Rhodesië, aangestel as eerste Federale Hoë-Kommissaris in Brittanje. Sir Arthur Benson aangestel as Goewerneur van Noord-Rhodesië.
1955 Besluit om Karibadam te bou. R800,000 (£400,000) bewillig deur vier kopermynmaatskappye vir die bevordering van tegniese opleiding in die Koperstreek. Noord-Rhodesiese kopermynmaatskappye bied vasstelling van koperpryse aan om mark te bestendig.
1954 Kamativi-myne voer geraffineerde Rhodesiese tin uit. Rekord produksie deur Roan Antelope- en Mufu lira-kopermyne. Lord Llewellin oorlede, 24 Januarie. Lord Dalhousie aangestel as tweede Goewerneur-generaal van die Federasie.
1958 Vloedwaters vernietig Kariba-werke. Staking in Koperstreekmyne (September). Kariba-damwal gesluit.
1959 Noord-Rhodesië verklaar Zambia African National Congress verbode. Kariba-damwal voltooi en geopen deur Koningin-moeder.
1960 Monckton-kommissie verslag.
1962 Besoek deur R.A. Butler, R Maudling en D. Sandys oor verbrokkeling van Federasie. Nuwe grondwet goedgekeur.
1963 Ondersoek na nuwe spoorwegroete na Tanganyika.
1964 Republiek van Zambië kom tot stand.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Zambezi
Volgende onderwerp: Zastron
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 08:17:06 MGT 2024