Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Wyn
Wyn [boodskap #124651] Wo, 23 Januarie 2019 18:47
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Wyn
Wyn
Wyn is 'n alkoholiese drankie wat van geparste druiwe gemaak word. Deur fermentasie word die suikers in die druiwesap in alkohol omvorm.

Daar is in 1655 met die aanplant van wingerde en die maak van wyn aan die Kaap begin weens die ooreenkoms van klimaat en grond met dié van die Mediterreense lande, maar geen groot vordering is gemaak voor die aankoms van die eerste Hugenote-setlaars in 1687-88 nie, waarvan sommige ondervinding daarvan in Frankryk opgedoen het. Van toe af was vooruitgang so snel dat ’n florerende uitvoerhandel teen die begin van die 18de eeu begin het, veral in die beroemde soetwyne van Constantia wat selfs in die howe van Europa geslagte lank in die mode was en waarna in Franse, Duitse, Engelse en ander letterkunde verwys is. Hierdie handel het sy hoogtepunt in 1820 bereik. Daarna het ’n verandering in smaak gepaard met die instelling van hoë doeanetariewe in die buiteland veroorsaak dat die bedryf gekwyn het. Nog ’n terugslag is veroorsaak deur Brittanje se handelsooreenkoms met Portugal in 1860 en die uitbreek van die wingerdsiektes oïdium en filloxera. Met die uitbreek van laasgenoemde pes wat die Kaapse wingerde teen die einde van die 18de eeu aangeval het, moes al die wingerde weer geplant word met stokke wat bestand was teen insekte. Terwyl die produksie van wyn en brandewyn vir die plaaslike mark nooit gestaak is nie, het die uitvoer so skerp gedaal dat pogings herhaaldelik met staatshulp aangewend is om dit te bevorder. Onder die maatreëls wat getref is, is die stigting van ’n staatswynplaas op Constantia en die invoer van ’n oorsese deskundige, baron Von Babo.

Met die stigting van die KWV in 1917 het ’n rewolusie in die wynbedryf plaasgevind. Na die Eerste Wêreldoorlog het nog ’n herlewing ingetree met die hulp van die Britse huis van Burgoyne en ander. Vandag vind die Suid-Afrikaanse produk ’n mark in Brittanje, Kanada, Skandinawië en baie ander lande, terwyl ’n tenkskip vol Kaapse wyn in 1959 na Frankryk gestuur is toe daar ’n tekort ondervind is. Omrede die klimaat is die produksie gekonsentreer in die westelike distrikte van Kaapland. Daar bestaan ’n groot uitvoer in hoë gehalte tafeldruiwe, terwyl die rosyntjiebedryf ook floreer.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Wylde, Sir John
Volgende onderwerp: Wynberg
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 13:38:08 MGT 2024