Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Wetenskap
Wetenskap [boodskap #124578] Di, 22 Januarie 2019 14:17
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Wetenskap is die stelselmatige studie van die aard en optrede van die materiële en fisiese heelal, wat gebaseer is op waarneming, eksperimentering en meting. 'n Persoon wat wetenskap beoefen word 'n wetenskaplike genoem. Daar word dikwels onderskei tussen eksperimentele wetenskap (die waarneming en toetsing van kennis) en toegepaste wetenskap (hoe wetenskap in die daaglikse lewe benut kan word).

Wetenskaplikes van Suid-Afrika

Die Nobelprys, die grootste van alle internasionale wetenskaplike eerbewyse, is deur minstens een Suid-Afrikaner gewen, nl. dr. Max Theiler, wat in Pretoria gebore is; die seun van die beroemde veeartsenykundige navorser, sir Arnold Theiler. Dr. Theiler het in 1951 dié toekenning vir medisyne gekry met sy ontwikkeling van ’n entstof teen geelkoors. Plantkunde was egter die vak waarin ’n gebore Suid-Afrikaner dié onderskeiding die eerste keer behaal het. Hy was Christian Hendrik Persoon wat die ‘Vader van die Mikologie’ (studie van fungi) in die 18de eeu geword het. Ander navorsers van plaaslike oorsprong het eers in die 19de eeu op die voorgrond begin tree. Onder hulle was die lugvaartkundige pionier, Goodman Household, wat in die jare 1870 ’n geslaagde sweefvlug uitgevoer het, en die beroemde medikus, prof. Emil Hoffa, wat in Wurzburg en Berlyn die ‘Vader van die Moderne Ortopedie’ geword het. Prof. Edwin Goldman, senior assistent van Paul Ehrlich, een van die grootste patoloë van sy tyd, word onthou van sy ‘klassieke navorsing op weefselvlekking,’ soos dit gestel is deur die British Medical Journal, en as een van die eerste suksesvolle navorsers van kanker.

Dr. Harry Bolus was een van die beroemdste Suid-Afrikaans-gebore plantkundiges van internasionale faam. Op die gebied van chemie het prof. P.D. Hahn aan die ‘forforessensie van metale’ gewerk met die vermoede dat dit radio-aktief is.

Geïnspireer deur die minerale rykdom van die land, het Suid- Afrikaners ’n buitengewone bydrae tot die geologie gelewer. Onder hulle was dr. David Draper; dr. Hans Merensky; dr. Percy A. Wagner en dr. A.L. du Toit, wat almal goed bekend is in die buiteland. Alpheus F. Williams het navorsing gedoen in die oorsprong van diamante.

Op die gebied van fisika verdien die volgende name spesiale vermelding: dr. H.J. van der Bijl, pionier van radiotelefonie; J. Jennings (uitvinder van radiotelegrafie onafhanklik van Marconi); prof. Athelstan Spilhaus, die weerkundige en geofisiese gesaghebbende, nou in die V.S.A.; prof K. van der Merwe van die New Yorkse Universiteit, die atoomfisikus, en sir Basil Schonland, pionier van radar en direkteur van die Harwellse Atoom-kragnavorsingstigting in Brittanje.

Dr. T.E.W. Schumann, voormalige dekaan aan die Universiteit van Virginië in die V.S.A., was ’n erkende weerkundige.

Sir Solly Zuckerman, oorspronklik ’n dierkundige wat in Kaapstad gebore is, was wetenskaplike adviseur van die Britse regering in die Tweede Wêreld oorlog, veral in verband met die uitwerking van ontploffings en bombardering. Prof. Geiling van Chicago, nog ’n Suid-Afrikaner, was ’n senior adviseur vir die Amerikaanse regering oor malaria en ander probleme.

Dr. T.J. Dry verdien vermelding vir sy werk oor kardiologie oor ’n tydperk van 21 jaar aan die Mayo-kliniek. Die standaardswangertoets met die Xenopis laevis-padda is by die Kaapstadse Universiteit ontwikkel deur dr. H. Zwarenstein en dr. A. Zoond. Prof. J.L.B. Smith van die Universiteit Rhodes op Grahamstad het dwarsdeur die wêreld bekendheid verwerf met sy uitkenning van die eerste selakant en later met sy ontdekking van hulle teelgebied in die Indiese Oseaan. Dr. Edna Plumstead van die Universiteit van die Witwatersrand het die epogmakende identifikasie van die glossopteris, die vroegste vorm van ’n blomplant gedoen. Argeoloë van faam wat in Suid-Afrika gebore is, was prof. Claude van Riet Louw en prof. A.J.H. Goodwin, wat albei die gedagte oor die prehistoriese verlede van hierdie vasteland gerewolusioneer het.

Tegniese uitvindings deur Suid-Afrikaans-gebore persone wat in ander lande gebruik word, sluit in die konimeter, wat deur die voormalige Staatsmyningenieur, sir Robert N. Kotze ontwerp is, vir die meet van die stofinhoud van ondergrondse lug, en die tellurometer, wat ontwikkel is deur die personeel van die WNNR vir die akkurate opmeting met behulp van radiokortgolwe. Die apparaat word oor die hele wêreld uitgevoer en onder lisensie in die V.S.A. en elders vervaardig.

Op die gebied van die geesteswetenskappe is Suid-Afrikaners van wêreldformaat, generaal J.C. Smuts met sy werk as filosoof en die skrywe van die leerstelling van Holisme; prof. C.T. Loram, dekaan van die Departement Onderwys aan die Universiteit Yale; prof. Sydney Raubenheimer, houer van ’n soortgelyke pos aan die Universiteit van Kalifornië; prof. C.W. de Kiewiet, die historikus, later hoof van die Universiteit van Minnesota, V.S.A.; prof. S. Herbert Frenkel, die vermaarde ekonoom en dekaan aan die Nuffield-kollege, Oxford, en baie ander.

In die voorafgaande is daar geen melding gemaak van die groot aantal wetenskaplikes wat in die buiteland gebore is en roem verwerf het met hulle werk in Suidelike Afrika nie.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad
Volgende onderwerp: Wewers
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 18:42:07 MGT 2024