Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Wêreldoorlog, Tweede (Tweede Wêreldoorlog)
Wêreldoorlog, Tweede [boodskap #124559] Ma, 21 Januarie 2019 18:41
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die Tweede Wêreldoorlog was 'n wêreldwye militêre konflik van 1939 tot 1945 tussen die Geallieerdes (waaronder Brittanje en later die VSA en Sowjetunie) en die Spilmoondhede (Duitsland, Japan, Italië en ander lande). Dit is begin deur Adolf Hitler, die Nazi-leier van Duitsland, wat sy mag wou vergroot deur ander lande aan te val en ter verower. Dit was die mees wydverspreide oorlog in menslike geskiedenis.

Die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het 'n groot politieke krisis in Suid-Afrika veroorsaak. Die destydse Premier, generaal J.B.M. Hertzog, het geweier om saam met Brittanje betrekkinge met Duitsland te verbreek en het probeer om die Unie neutraal te hou. Oor dié kwessie word hy in die Parlement verslaan en generaal J.C. Smuts word Eerste Minister. Op 6 September 1939, drie dae na Brittanje, verklaar Suid-Afrika oorlog. Benewens die instelling van 'n Oorlogsvoorrade-organisasie onder dr. H.J. van der Bijl waarvoor voorbereidings reeds in vredestyd getref is, en die mobilisasie van sekere eenhede, was daar weinig verandering in die Unie voordat die oorlog na Afrika verskuif het met die oorgawe van Frankryk en die toetrede van Italië as 'n bondgenoot van Duitsland in Junie 1940. Omdat 'n groot deel van die bevolking nog gekant was teen die Unie se deelname en daar pogings tot sabotasie op die tuisfront was, het die Regering besluit om nie verpligte krygsdiens toe te pas nie. Ten spyte daarvan het die getal vrywilligers wat aangesluit het, gunstig vergelyk met dié van ander eenhede van die Statebond, en het dit altesaam 345,049 beloop. Onder hulle was baie vroue, wat as vegtendes uitstekende diens gelewer het, terwyl tienduisende Bantoes gebruik is as wagte, drywers en in soortgelyke hoedanighede. Net soos in die Eerste Wêreldoorlog het Kleurlinge in die Midde-Ooste diens gedoen. Om moeilikhede te voorkom is 'n stelsel onder die Suid-Afrikaanse troepe aanvaar waarvolgens diegene wat gewillig was om buite Afrika te veg, 'n spesiale eed afgelê het. Diegene wat die eed afgelê het, is onderskei deur die dra van Rooi Lussies op die skouers.

Teen die einde van 1940 het die eerste eenhede van die Unie na Oos-Afrika opgeruk en groot basiskampe in Kenia -- by Gilgil en elders -- opgerig. Die eerste geveg het op 14 Desember 1940 by El Wak aan die grens van Italiaans-Somaliland plaasgevind, gevolg deur die opeenvolgende invalle van daardie land en Abessinië. In albei hierdie veldtogte het die Suid-Afrikaners met roem uit die stryd getree, hoofsaaklik weens die merkwaardige militêre gawes van generaal Dan Pienaar. Meer as 80,000 Italiaanse krygsgevangenes is tydens die oorlog na die Unie gestuur -- die meeste is by Sonderwater naby Pretoria gehuisves. Na die oorwinning in Italiaans-Oos-Afrika, is Suid-Afrikaanse eenhede oorgeplaas na die Midde-Ooste waar hulle dapper geveg en swaar verliese gely het in die gevegte in die westelike woestyn. Die grootste enkele ramp was die oorgawe by Tobruk op 21 Junie 1941 van byna 10,000 Suid-Afrikaanse troepe onder generaal Klopper wat voor 'n onmoontlike strategiese situasie te staan gekom het. Met die reorganisasie van die Geallieerde Magte het die Suid-Afrikaners deel geword van die Sesde Divisie en 'n belangrike rol gespeel in die slag van El Alamein en in die aanval wat uiteindelik die Spiltroepe uit Noord-Afrika verdryf het. Die Suid-Afrikaners het hulle diens in Europa voortgesit, in die hele Italiaanse veldtog geveg en net soos in die Eerste Wêreldoorlog, het 'n groot aantal in die Imperiale eenhede in Europa en in die Ooste gedien. Met die toetrede van Japan tot die oorlog in 1941 en sy oorwinnings in die Indiese Oseaan, was daar ernstige gevaar dat hy Madagaskar sou beset. Om dit te voorkom, het Suid-Afrikaanse troepe 'n leidende rol gespeel in die verowering van die eiland in 1942. Baie Suid-Afrikaners het ook in die Birmese veldtog diens gedoen en in baie ander oorlogsvelde.

Afgesien hiervan het die klein Suid-Afrikaanse Vloot, wat tydens die Tweede Wêreldoorlog gereorganiseer is, deelgeneem aan krygsverrigtinge in Noord-Afrika (insluitende Tobruk) en elders. Op nywerheidsgebied het die Unie 'n indrukwekkende bydrae gelewer tot die Geallieerde saak deur waardevolle krygstuigfabrieke op te rig, ontelbare soorte voorrade te verskaf, herstelwerk te doen en proviand aan duisende skepe te voorsien. Die Suid-Afrikaanse Lugmag is grootliks uitgebrei en het in Oos-Afrika, die Midde-Ooste en Europa geveg en ook deelgeneem aan aanvalle op die Duits-besette Pole en Roemenië. Groot getalle rekrute vir die Britse lugmag is in die Unie opgelei. Zimbabwe (Rhodesië) het sy werwingsprestasies van die Eerste Wêreldoorlog geëwenaar hoewel diensplig dié keer verpligtend was. Uit 67,000 blankes het 8,000 aangesluit en eenhede is dikwels by dié van die Unie gegroepeer. Hulle het met groot dapperheid in Italiaans-Oos-Afrika, die Midde-Ooste en Birma geveg waar die King's African Rifles en ander Afrika-regimente in aksie was. Zimbabwe (Rhodesië) was 'n groot opleiding-sentrum vir die Britse lugmag en as deel van die oorsese verspreidingstelsel het duisende lugmagmanne hulle 'vleuels' daar gekry. Die Hoë Kommissaris-gebiede, veral Basoetoland (later Lesotho) en Swaziland, wat arbeidskontingente op die been gebring het, en Betsjoeanaland (nou Botswana), wat 'n aansienlike aantal troep verskaf het, het groot bydraes in mannekrag gelewer.

Bronne:
1. Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
2. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, 2013, ISBN 978-1-77578-243-8

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Wêreldoorlog, Eerste
Volgende onderwerp: Werkloosheid
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 17:32:57 MGT 2024