Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Wêreldoorlog, Eerste (Eerste Wêreldoorlog)
Wêreldoorlog, Eerste [boodskap #124558] Ma, 21 Januarie 2019 18:21
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die Eerste Wêreldoorlog het van 1914 tot 1918 tussen die Geallieerdes (hoofsaaklik Frankryk, die Britse Ryk, Rusland en die VSA) en die Sentrale Moondhede (vernaamlik die Duitse Keiserryk en bondgenote) plaasgevind. Dit het begin met die moord op aartshertog Franz Ferdinand ('n lid van die Oostenrykse koningsgesin) in Sarajevo. Al al die wêreld se groot moondhede is hierby betrek. Chemiese wapens is vir die eerste keer gebruik en die eerste grootskaalse bomaanvalle is uit die lug geloods.

In 1914 het die mening nog bestaan dat wanneer die Koning, as hoof van die Britse Ryk, oorlog verklaar Suid-Afrika ook outomaties daarby betrokke is (iets wat grootliks bygedra het tot die Rebellie van daardie jaar), en die Unie, hoewel net vier jaar oud, het in 'n vroeë stadium reeds 'n onafhanklike rol gespeel. Met die uitbreek van die oorlog in Augustus 1914 het generaal Louis Botha, die destydse Premier, aangebied om die Imperiale garnisoen met plaaslike troepe te vervang en 'n paar dae later het die laaste Britse troepe vertrek. Die Unie-Verdedigingsmag wat net twee jaar vroeër gestig is, was nou verantwoordelik vir die land se militêre bedrywighede en moes al sy magte inspan om die Rebellie te onderdruk. Ten spyte daarvan dat troepe in September 1914 in Luderitzbaai geland het, was dit eers in 1915 dat die eerste groot offensief teen Duits-Suidwes-Afrika begin het. Die feit dat die vyandelike gebied regstreeks aan die Unie gegrens het, het groot kommer by die owerheid gewek, veral na berigte van 'n beweerde skending van die grens by Nakob. As gevolg van die vyandelikheid wat deur die Rebellie veroorsaak is, is net vrywilligers in die inval van Duits-Suidwes-Afrika gebruik -- 'n beleid waarmee dwarsdeur die oorlog volgehou is. Die aanval het van twee kante af geskied -- oorland, van Upington se kant af, waar die spoorlyn van De Aar af teen 'n tempo van 'n myl per dag gelê is, en in Januarie 1915 van die see af by Walvisbaai en Swakopmund. Onderwyl die Unie-troepe opgeruk het, het die Duitse troepe teruggeval, hoewel daar gevegte was by Gibeon, Rietfontein en elders. Op 11 Mei is Windhoek verower en die vyand, wat teruggedryf is na die noorde, het op 9 Julie 1915 by Khoiab oorgegee.

Ondertussen is voorbereidsels getref om 'n Suid-Afrikaanse brigade na Frankryk en ander magte na Duits-Oos-Afrika en Egipte te stuur. Die eerste troepe het op 23 April 1916 by die Westelike Front aangekom waar hulle groot roem verwerf het, maar swaar verliese gely het in die slag van Delvillebos. Die krygsverrigtinge van die Suid-Afrikaanse troepe in Oos-Afrika het in Desember 1915 begin, maar as gevolg van die onbevredigende resultate wat behaal is, is die oorspronklike bevelvoerder, generaal sir Horace Smith-Dorrien in 1916 vervang deur generaal J.C. Smuts bygestaan deur genl. Louis Jacob van Deventer. Siektes, veral malaria, het die Suid-Afrikaners swaar getref en danksy die buitengewone vernuf en vindingrykheid van generaal Paul von Lettow-Vorbeck, het die veldtog voortgeduur tot die vrede in 1918 toe die onoorwonne Duitsers die oorgawe op Noord-Rhodesiese (tans Zambiese) grondgebied onderteken het. Afgesien van dié veldtog het Suid-Afrikaanse eenhede ook in 1916 in die Midde-Ooste, met inbegrip van Egipte en Libië, geveg. Altesaam 231,591 Suid-Afrikaners van alle rasse het aangesluit. Dit sluit in 146,515 blanke troepe, 382 blanke verpleegsters, 1,925 Kleurlingtroepe en 82,769 in die Naturelle-arbeidskontingent. Ongevalle (byna almal blankes) was altesaam 18,642 -- waarvan 6,606 gedood is (4,632 het gesneuwel of aan wonde beswyk) en 12,036 is gewond -- en 2,400 is gevange geneem. Diens in die verskillende veldtogte was soos volg:

Blankes:
- Rebellie = 30,000
- Duits-Suidwes-Afrika = 67,237
- Frankryk = 30,880
- Duits-Oos-Afrika en Sentraal-Afrika = 47,521
- "dito" (Pad- en Militêre Arbeidskorps) = 1,044
- Diens in die Unie = 5,180

Bantoes:
- Duits-Suidwes-Afrika (nie-vegtend) = 25,000
- Frankryk (nie-vegtend) = 5,823
- Oos- en Sentraal-Afrika = 18,000

Daarbenewens het 25,090 in Frankryk krygsdiens gedoen in die Suid-Afrikaanse Naturelle-arbeidskorps. Duisende het ook aangesluit by die Imperiale eenhede, die Britse Vloot, die Britse Lugmag (en sy voorgangers, die Royal Flying Corps en die Royal Naval Air Service). Krygstuig is op klein skaal in die werkswinkels van die Suid-Afrikaanse Spoorweë vervaardig en kordiet van plaaslike plofstoffabrieke is aan Brittanje verskaf. Baie Suid-Afrikaanse deskundiges het na Brittanje gegaan om in oorlogsfabrieke te werk en die dienste van K.B. Quinan, bestuurder van die Cape Explosive Works, wat tydens die 1914-15 'slagdopkrisis' aan die Britse regering geleen is om die reuse-plofstoffabrieke by Gretna, Queensferry en elders te bou, is in die openbaar deur die kabinet in die Britse Laerhuis erken.

Tydens die Eerste Wêreldoorlog het Zimbabwe (Rhodesië) die onderskeiding behaal dat hy in verhouding die grootste blanke mag van enige lid van die Britse Statebond gelewer het. Na raming het 6,831 uit 'n totale bevolking van 25,000 aangesluit. Hiervan het 732 gesneuwel. Afdelings van die B.S.A. Police en ander eenhede het Botha se inval in Duits-Suidwes-Afrika gesteun met aanvalle op die Caprivistrook. Zimbabwiërs (Rhodesiërs) het ook saam met die Suid-Afrikaners in Oos-Afrika en Frankryk geveg.

Bronne:
1. Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
2. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, 2013, ISBN 978-1-77578-243-8

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Wepener, Lourens Jacobus
Volgende onderwerp: Wêreldoorlog, Tweede
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 18:27:10 MGT 2024