Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Vrug
Vrug [boodskap #124483] So, 20 Januarie 2019 07:20
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Vrugte
Vrugte
Vrugte is die eetbare, vlesige produk van bome en plante. In 'n plantkundige is 'n vrug egter enige deel van 'n plant wat uit 'n blom ontwikkel en saad vorm.

Hoewel Jan van Riebeeck reeds die vrugbaarheid van die Kaap vir die verbouing van verskeie soorte vrugte besef het, is dit eers teen die tweede helfte van die 19de eeu dat ernstige pogings aangewend is om die bedryf op ’n wetenskaplike basis te plaas en om ’n uitvoermark te ontwikkel. Druiwe, perskes, pruime en ander sagtevrugte en sitrus het floreer, maar dit was eers in die laat jare 1880 met die koms van die verkoelingstegniek dat dit moontlik was om die eerste eksperimentele verskepings te doen. Vooruitgang is egter gestrem deur vervoermoeilikhede, veral van die kwekers na die hawegebied, maar die sukses van sekere verskepings het groot indruk in Londen gemaak en het Cecil John Rhodes, John X. Merriman en ander vooraanstaande persoonlikhede aangemoedig om praktiese hulp te verleen. In hierdie stadium moes individuele kwekers hulle eie reëlings met die stoomskipmaatskappye tref. Voorverkoeling as sulks was onbekend en vanweë die groot verkwisting was pryse wisselvallig en die risiko’s baie groot. Na die stigting van die beroemde Cape Orchard Company het ’n belangrike ontwikkeling tussen 1896 en 1898 in die gebiede by Stellenbosch en die Paarl gevolg.

Kort voor die Tweede Vryheidsoorlog in 1899 het verskepings van Wes-Kaapland 10,817 kissies, hoofsaaklik sagtevrugte, beloop. In 1907 het sitrus ’n rol begin speel toe 3,000 kissies verskeep is. Die syfer het tot kort voor die Eerste Wêreldoorlog gestyg tot 40,000. Standaardverpakking, gereelde bespuiting en staatsinspeksie het die algemene standaardspeil verhoog en die noodsaaklikheid van verkoeling bewys. Boereverenigings in verskeie dele van die land het bygedra tot die verbeterde hanteringsmetodes en vervoer en ’n steeds groeiende aantal skepe, veral van die Union-Castle-redery, is toegerus met verkoelinggeriewe. Altesaam 309 ton Suid-Afrikaanse vrugte is in 1900 uitgevoer. Die syfer het gestyg na 2,705 ton in 1910 en was teen die 1960's nagenoeg 250,000 ton.

Die Westelike Provinsie, in ’n straal van ongeveer 150 myl van Kaapstad, is die hoofgebied vir sagtevrugte, insluitend druiwe, perskes, pruime, pruimedante, kaalperskes ens. Appelverbouing is grotendeels gekonsentreer op die gebied by Elgin en in die Langkloof.

Sitrusvrugte groei hoofsaaklik in Noord- en Oos-Transvaal, in dele van Natal, in die Sondagsriviervallei naby Port Elizabeth, die Katriviergebied van Oos-Kaapland en Citrusdal in die Westelike Provinsie. Subtropiese vrugte, insluitend papajas, avokadopere, mango’s en lietsjies word hoofsaaklik in Noord- en Oos-Transvaal en in die Natalse kusstreke gekweek. Die groot pynappelgebied is in Oos-Kaapland, veral naby Bathurst. Die stasies waar navorsing gekonsentreer word, is die Westelike Provinsie-Vrugtenavorsingstasie op Stellenbosch, die Tuinboukundige Navorsingstasie in Pretoria en die Sitrus- en Subtropiese Navorsingstasie op Nelspruit, Transvaal. Voorverkoelingskure is op groot skaal in Kaapstad, Port Elizabeth, Oos-Londen en Durban opgerig. ’n Sekere hoeveelheid Suid-Afrikaanse vrugte word ook deur Lourenco Marques verskeep. Nou verbonde aan die bewerking van die boorde, is die produksie van droë-vrugte, hoofsaaklik in die Westelike Kaapprovinsie. Inmaak- en konfytfabrieke word hoofsaaklik in die Westelike Provinsie, aan die Witwatersrand, in Port Elizabeth en in Durban aangetref.

Die Sagtevrugteraad en die Suid-Afrikaanse Koöperatiewe Sitrusbeurs is die twee hoofliggame wat gesag uitoefen oor die produsente, terwyl bemarking deur die Wet op die beheer van Bederfbare Produkte gereguleer word. Vanweë die feit dat die seisoene die teenoorgestelde is van dié van die noordelike halfrond, het Suid-Afrika een van die belangrikste uitvoerlande van vars vrugte oorsee geword, nie net na Brittanje nie maar ook na groot dele van Europa, veral Swede, Holland en Duitsland.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Vrotmaag
Volgende onderwerp: Vryburg
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 10:43:47 MGT 2024