Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Volkswelsyn
Volkswelsyn [boodskap #124462] So, 20 Januarie 2019 06:34
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Volkswelsyn behels die welsyn van die volk, met inagneming van gesondheid en gemoedstemming van liggaam en gees.

Net soos in Europa en Amerika was welsynsdienste in Suid-Afrika ook aanvanklik in die hande van die Kerk, en dit was eers in 1808 dat die eerste plaaslike weeshuis; ‘Zuid-Afrikaansche Weeshuis’ aan die Kaap gestig is danksy die vrygewigheid van die weduwee Moller. Dit is op 26 September 1815 geopen en is beheer deur ’n tussenkerklike raad van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Lutherse Kerk. Dit was die voorloper van talle inrigtings onder private beheer en dit was eers in die 20ste eeu dat die Staat ’n belangrike rol hier begin speel het.

Vandag word die meeste bedrywighede beheer en gekoördineer deur die Departement Volkswelsyn met sy hoofkantoor in Pretoria. Een van die vroegste maatreëls onder sy beskerming was die Proefwet van 1911 gevolg deur ’n aanvullende maatreël in 1917. Die Wet op Blindes nr. 11 van 1936 en die Kinderwet nr. 31 van 1937 word ook deur die Departement beheer. Eersgenoemde dek die betaling van toelaes deur verenigings aan die blindes, die vermeerdering van die verdienste van blindes, die registrasie van goedgekeurde verenigings vir die versorging van blindes en die werksaamhede van die Nasionale Raad vir Blindes, terwyl laasgenoemde nie net kinders beskerm nie, maar ook voorsiening maak vir aannemings, die toesig oor tehuise en bewaarplekke, proefdienste, kinderhowe, gesinstoelaes en onderhoudstoelaes. Die Departement Volkswelsyn is ook verantwoordelik vir die registrasie van welsynsorganisasies ingevolge Wet nr. 40 van 1947 en beheer kollektes vir goedgekeurde liefdadigheidsorganisasies. Dit stel ook namens die Departement Gevangenisse ondersoek in ingevolge die Wet op Ongeskiktheidstoelaes nr. 36 van 1946 en die Wet op Werkkolonies van 1949 waarvan die doelstellings deur hulle titels aangedui word. Dit is regeringsbeleid om waar moontlik vryheid toe te laat vir private ondernemings en die kerke, maar oorvleueling word uitgeskakel. Groot subsidies word betaal aan baie goeie sake. Die Departement Volkswelsyn help ook met die opleiding van maatskaplike werksters aan universiteite en ander inrigtings. Die rehabilitasie van kinderoortreders (die woord kind word omskryf as enigiemand onder 19 jaar) word nou uitgevoer onder die Departement Volkswelsyn en nie meer onder die Departement Gevangenisse nie.

Baie welsynswerk word egter nog deur ander departemente gehanteer, onder meer Onderwys, Arbeid, Kuns en Wetenskap, Pensioene, Gesondheid, ens. Werkloosheidversekering, Kraamvoordele, die verskaffing van beskutte werk aan gestremde persone, ens. val onder die Departement Arbeid (pensioene vir nie-blankes het op 'n tyd onder die Departement Bantoesake geval). Onder die ander belangrike liggame wat genoem moet word, is die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Dowes, die Nasionale Kreupelsorgraad, die Suid-Afrikaanse Koopvaart-Seemanstrustfonds en die Regshulpburo, wat in samewerking met die Regsgenootskap fungeer. Die meeste Suid-Afrikaanse universiteite bied kursusse in Volkswelsyn en dit word deur die staat aangemoedig.

In Rhodesië en Zambië word welsynsdienste verdeel onder verskeie departemente, onder meer Gesondheid, Onderwys en Justisie.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Volkstem, Die
Volgende onderwerp: Volschenck, Jan Ernst Abraham
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 15:41:28 MGT 2024