Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Voëls (Aves)
Voëls [boodskap #124454] Sa, 19 Januarie 2019 18:38
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Verskeie voëls.
Verskeie voëls.
Voëls (klas Aves) is tweevoetige, warmbloedige, gewerwelde, eierlêende diere. Hulle word gekenmerk deur vere en voorste ledemate wat in vlerke gewysig is. Die skelet bestaan uit ligte, hol bene.

In die bespreking van die voëllewe is dit gebruiklik dat die grens van Suid-Afrika beskou word as die Zambezi- en die Kunenerivier. Die wisselende klimaat en omgewings in die gebied, van die Namib-woestyn in die weste tot die digte bosse van Mosambiek in die ooste, word weerspieël in die rykheid van die voëllewe. Sommige hiervan is eie aan Suid-Afrika en word nêrens anders in die wêreld aangetref nie. Voorbeeld hiervan is die langbek-suikerbekkies (Promerops), aangepas by die proteaplant; die nuuskierige bergkatlagter (Chaetops); die ontwykende grondhoutkapper, wat nie geïnteresseerd is in hout of bome nie; en die opdringerige witgatspreeu (Spreo bicolor) van ons velde en bosse.

Ander behoort aan spesies wat, hoewel hulle buite ons grense voorkom, beperk is tot die vasteland van Afrika of juister aangetoon, tot die Ethiopiese Streek, (wat Noord-Afrika uitsluit, maar Suid-Arabië insluit). Voorbeelde hiervan is die volstruis (Struthio), die sekretarisvoël (Sagittarius), die feitlik stertlose berghaan (Terathopius), die bosluisvoël (Buphagus), die twee soorte tarentale (Numida en Guttera), die muisvoël (Colius) en die pragtige loeries (Musophagidae).

In teenstelling hiermee is sekere ander spesies feitlik kosmopolities in verspreiding soos die nonnetjieuil (Tyio alba), die Arktiese steenloper (Arenaria) en die Europese swaeltjie (Hirunfo rustica). Laasgenoemde twee is voorbeelde van voëls wat in Europa en Asië broei en na Afrika kom om die noordelike winter te ontsnap.

Ander bekende voëls in hierdie kategorie sluit in die wit sprinkaanvoël (Ciconia ciconia) en die bergswael (Merops apiaster); laasgenoemde broei sowel in Europa as hier. Afgesien van sy unieke spesies, is Suid-Afrika in vergelyking met ander dele van die wêreld ook besonder ryk aan sekere soorte voëls soos die lewerik (Alaudidae — 18 spesies), tinktinkie (Cis ticola — 17 spesies) en die laksman. (Laniidae — 20 spesies).

Afgesien van die afwykende volstruis en pikkewyn is die mees uitstaande kenmerk van voëls vir die gemiddelde mens dat dit kan vlieg. Drie aspekte hiervan is die moeite werd om te meld — spoed, stilhang en sweef. Daar is in werklikheid geen outentieke geval van ’n voël wat in gelykvlug ’n snelheid van 100 myl per uur behaal het nie, hoewel ’n posduif al ’n snelheid van 94,3 myl per uur behaal het. ’n Lammergeier (Gypaetus) het egter in ’n duik 180 per uur behaal en vergelykbare snelhede kan moontlik deur sommige valke (Falco) behaal word. Die meeste voëls vlieg teen 20 tot 40 myl per uur, windswaels (Apus) teen 60.

Die werklike hangvoëls in die voëlwêreld is die ‘Hummingbird’, wat nie in Afrika voorkom nie, maar ons eie bont visvanger (Ceryle rudis), blouvalkie (Elanus) en rooivalk (Falco rupicolus) kan almal gemaklik in die lug hang.

Hoewel ons nou wel nie oor meester-stilhangers in Suid-Afrika beskik nie, het ons baie swewers. Van die breëvlerk-spesies, wat afhanklik is van warm lugstrome, het ons verskeie spesies aasvoëls (Aegypidae) en arende, veral die berghaan, terwyl ooievaars en pelikane ook nie hoef agteruit te staan wat sweef betref nie. Aan ons kuste is daar langvlerkige voëls wat gebruik maak van die lugstygings veroorsaak deur die golf-aksie en verskillende windsnelhede. Die meesters hier is die sierlike albatros (Diomedea), maar sommige van die stormvoëls en pylstormvoëls (Procellarii) is feitlik net so goed en selfs die meeue (Larus) is ook goeie swewers.

Van die groot menigte voëls is weinig van regstreeks ekonomiese belang — die jan-van-gent (Morus), sommige van die seerawe (Phalacrocorax) en die pikkewyne (Spheniscus) is die produsente van ghwano; die vink (Quelea) is ’n pes in graanlande; die witsprinkaanvoël en die sprinkaanvoël (Creatophora) is bestryders van sprinkane; die rooivlerkspreeu (Onychognathus) en sommige tiptolle (pycnonotus) is die vyande van vrugteboere; die nonnetjiesuil en die blouvalkie is rot- en muisvangers. Die groot aantal insektevreters is almal weldoeners van die mens, hoewel dit moeilik is om hulle ekonomiese waarde te bepaal. Sommige van die wewervoëls (Ploceus) en rooivinke (Euplectes) doen geringe skade aan graanlande, maar hulle vergoed deur hulle kleintjies met insekte te voer. Die pragtige klein suikerbekkies (Nectariniidae) speel ’n rol in die bestuiwing van sommige blomme.

Dit is egter onmoontlik om ondubbelsinnig te verklaar watter voëls is ’n bate en watter rig skade aan, en dit is selfs van toepassing op sommige van ons insektevretende soorte. Die vraag is: weeg die skadelike insekte wat hulle vreet op teen die skadelike insekte wat vernietig sou word deur die roof- en parasitiese insekte en spinnekoppe wat die voëls ook eet? Ons het geen benul nie. Die drastiese vermindering van ons arende het gepaard gegaan met ’n groot toename in dassies wat ons weidings verwoes; maar ons weet nie of dit oorsaak of gevolg is nie. Sekere allesetende spesies sal skadeloos wees solank as wat hulle getalle beperk is en hulle op hulle natuurlike voedsel kan bestaan, maar as hulle getalle toeneem kan hulle moontlik deur honger gedwing word om plae te word.

Die bekorendste verskynsel van voëllewe is die gereelde migrasie tussen die broeiplekke en die buitenseisoense woonplekke. Ons het reeds verwys na sommige van die voëls wat in Europa en Asië broei en ná hulle broeitydperk in die noorde na ons toe verhuis. Trekvoëls wat nie Afrika verlaat nie, is nie so goed bekend nie, maar daar is baie van hulle. Die meeste van ons swaels (Hirundo) en windswaels val in hierdie kategorie, so ook die piet-my-vrou (Cuculus solitarius). Baie van ons eende is ook langafstand trekvoëls; Ponchards (Netta) wat aan die Rand gering is, is later in Ovamboland en in Kenia aangetref. Seevoëls migreer ook en reuse-stormvoëls (Macronectes) wat op Heard-eiland in Antarktika gering is, is later in Suid-Afrikaanse kuswaters aangetref. Met die toename in die aantal voëls wat gemerk is ingevolge die skema van die Suid-Afrikaanse Voëlkundige Genootskap, kan ons daarna uitsien om ons kennis in die dié rigting snel uit te brei.

’n Mens is geneig om te glo dat die voëls van Afrika nie sulke goeie sangers is as dié in Europa nie. Dit is nie waar nie. Voëls soos die rooiborsie (Cossypha), die breëstertgrasvoël (Cichadusa) en dassievoël (Thamnolaea cinnamoneiventris) om maar ’n paar te noem, kan met enige Europese voël kers vashou. Ons het in Suid-Afrika ore om te hoor nodig, en nie voëls om te sing nie.

Die talle pragtige, interessante en snaakse kenmerke van ons voëllewe maak ’n keuse baie moeilik, maar geen verslag van ons voëls sal volledig wees as die hamerkop (Scopus) nie vermeld word nie. Baie van ons inheemse volke glo dat die hamerkop oor bonatuurlike magte beskik. Sy groot stoknes is gewoonlik binne bereik van water. Die wewer (Philetarius) is ook ’n bouer van ’n groot nes. Dit lyk soos die dak van 'n Bantoehut en bevat die neste van baie pare van die voëls, elk in sy eie nessie, tensy hulle deur dwergpapagaaie of ’n slang onteien is. ’n Soortgelyke nes, maar net kleiner, word deur die buffelwewer (Bubalornis) gebou.

Eienaardig in heeltemal ’n ander opsig, is die oopbekooievaar (Anastomus), waarvan die swart bek net by albei punte bymekaar kom, waarskynlik om dreinering te vergemaklik: wanneer dit die varswater slakke en mossels kraak. Die eienaardige broeigewoontes van ons horingbekvoël (Bucerotidae), waartydens die wyfie in die nes toegemessel en deur die broeitydperk deur haar maat gevoed word, (sommige spesies selfs tot die kleintjies gereed is om te vlieg) verdien ook vermelding.

Suid-Afrika beskik oor volop parasietiese voëls wat die grootmaak van hulle kleintjies op ander afskuif. Ons het nege soorte koekoeke wat die gewoonte het, vyf spesies heuningvoëltjies (Indicatoridae) waarvan sommige die gewoonte het om die mens na byeneste te lei; en agt spesies van die wewervoëlfamilie (Ploceidaé).

Omgekeerd is daar spesies soos die volstruis waar verskeie wyfies in een nes kan lê, en ander soos die helmlaksman (Prionops), waar die hele trop die ouers help om die kleintjies groot te maak.

Hoewel die meeste soorte voëls hulle afgebakende gebiede het, het sommige se woonplekke die afgelope aantal jare aansienlik uitgebrei. Onder dié is die bosluisvoël (Bubulcus) wat gedurende die afgelope 50 jaar na Oos-Kaapland en gedurende die laaste 30 jaar na Suidwes-Kaapland uitgewyk het, en nou opvallend is in albei gebiede.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Voël-eilande
Volgende onderwerp: Volk (Het)
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 13:49:30 MGT 2024