Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Verdediging
Verdediging [boodskap #124398] Sa, 19 Januarie 2019 12:02
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Verdediging is die vermoë wat geskep word, en die aksies wat geneem word om aanvalle en bedreigings teen te staan. Meeste lande het 'n militêre stelsel wat vir landsverdediging ingespan word.

Die oorsprong van die Suid-Afrikaanse militêre stelsel dateer terug na die vroegste dae van blanke nedersetting toe die setlaars opgekommandeer is vir krygsverrigtinge, in besonder om gesteelde vee terug te kry van die Khoikhoi (Hottentotte) en ander stamme. Hieruit het die beroemde Kommandostelsel voortgespruit tot onlangs in al die provinsies in gebruik was.

Die Vrywilligerstelsel wat in 1859 in Brittanje ingestel en teen ongeveer 1862 na die Kaap gebring is, het parallel hiermee ontwikkel. Dit was baie gewild sowel in die Kolonie as in Natal en baie regimente het hulle bestaan hieraan te danke gehad.

’n Verskillende militêre stelsel het in die twee Boererepublieke bestaan, waar die grootste klem op die Kommando’s gelê is, en elke burger kragtens wet verplig was om as hy opgeroep word, homself met perd, saal en proviand vir ’n voorgeskrewe tydperk beskikbaar te stel. ’n Klein staande mag bekend as die Staatsartillerie is in sowel die Vrystaat as Transvaal ingestel; hulle het ’n redelike hoë standaard gehandhaaf en het goeie diens in die Tweede Vryheidsoorlog gelewer.

Met Uniewording in 1910 is die hele verdedigingstelsel hersien en is die burgermagte van verskeie lande in die buiteland, veral dié van Switserland, bestudeer. Met die aanvaarding van die Suid-Afrika-Verdedigingswet Nr. 13 van 1912 is die Unie-Verdedigingsmag geskep waarin die resultate van hierdie studie beliggaam is. Hoewel dit in 1922 en weer in 1932 gewysig is, is min fundamentele veranderings aangebring. Elke manlike burger van blanke afkoms tussen die ouderdom van 17 en 55 jaar was krygsdienspligtig.

Die Unie-Verdedigingsmag bestaan uit die Suid-Afrikaanse Staandemag, met sy Leër-, Vloot- en Marine-afdelings asook die Suid-Afrikaanse Militêre Verplegingsdiens. Verbonde daaraan is die Suid-Afrikaanse Militêre Kollege in Pretoria en verskeie gespesialiseerde skole, insluitende dié wat gewy word aan artillerie, kusverdediging, seevaartopleiding, lugopleiding, ens.

Die Aktiewe Burgermag bestaan uit militêre, lug- en vlooteenhede wat kragtens wet opleiding ontvang het. Daarbenewens is daar die Skietkommando’s, bestaande uit dié wat nie vredestydse opleiding ondergaan nie en gebaseer is op die ou Kommandostelsel. Hulle ontvang sekere geriewe insluitende vry wapens en ammunisie van die Department Verdediging.

Afgesien van die Suid-Afrikaanse Staande Mag en die Aktiewe Burgermag is daar ’n Offisiersreserwe en ’n Nasionale Reserwe wat diegene insluit wat andersins nie ingesluit is nie. Kadetkorpse in skole val streng gesproke nie onder die Verdedigingsmag nie, maar werk nou daarmee saam.

Die Kleurlingkorps, wat uitstekende diens in albei Wêreldoorloë gelewer het, is in 1963 heringestel. Nie-blankes is ook in die Hulpdienste van die Weermag in diens geneem as nie-vegtendes, veral as bestuurders, wagte, ens.

Die Federasie van Rhodesië en Njassaland het sy eie militêre eenhede onder die opperbevel van Sentraal-Afrika gehad afgesien van die Royal Rhodesian Air Force. Sedert die ontbinding van die Federasie het elke staat sy eie troepe. Zimbabwe (Rhodesië) het die beheer van die grootste deel van die Rhodesian Royal Air Force oorgeneem. Naturelle het ook vir diens in die verdedigingsmagte gekwalifiseer en kon ook range kry.

In Namibië (Suidwes-Afrika) was die Suid-Afrikaanse Verdedigingswet van toepassing met die voorbehoud dat voormalige Duitse burgers en hulle kinders nie dienspligtig was nie, hoewel hulle as vrywilligers diens kon doen. Na onafhanklikheid die Namibiese Weermag by hulle oorgeneem.

Sien ook Vloot, Suid Afrikaanse; en Suid-Afrikaanse Lugmag.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Vereeniging
Volgende onderwerp: Verenigde Party
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 18:17:33 MGT 2024