Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Uraan
Uraan [boodskap #124312] Vr, 18 Januarie 2019 07:26
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Uraan is 'n silwerwit metaalagtige chemiese element in die aktiniede-reeks van die periodieke tabel. Die element se chemiese simbool is U en sy atoomgetal 92. In die natuur kom dit in lae konsentrasies in grond, rotse en water voor. Dit word kommersieel uit uraandraende minerale soos uraniniet ontgin.

Suid-Afrika se uraan-nywerheid het na die Tweede Wêreldoorlog begin. In 1944 en 1945 het wetenskaplike opnames die omvang van uraanerts op die goudveld aangedui. Dit is gevolg deur ’n gesamentlike sending van die Verenigde State en Brittanje om besonderhede aangaande die vervaardiging van uraanoksied te reël. Uraaninstallasies is gou daarna by ’n aantal myne gebou en die eerste verskeping van uraanoksied het die land in 1953 verlaat. Die beraamde reserwes word gestel op 370,000 ton uraanoksied in 1,100 miljoen ton erts. In die eerste kwartaal van 1964 was daar 14 myne (lede van die Kamer van Mynwese) wat as uraanprodusente aangegee is. In 1964 het Suid-Afrika se produksie van uraanoksied altesaam 4,445 ton beloop. Dit het ingesluit relatiewe klein hoeveelhede na ander lande as die Verenigde State, waaraan die meeste verkoop is. In 1962 was die hoeveelheid 4,598 ton, en die vermindering is te wyte aan die patroon wat gestel is deur die ooreenkoms wat in 1960 met die Britse Atoomkragraad aangegaan is, om die aflewering van uraanoksied oor ’n langer tydperk wat in 1970 eindig, na te kom.

Op versoek van dié Raad is daar vroeg in 1963 besluit op verdere uitstel van aflewerings aan Brittanje waarby 2,724 ton betrokke was. Dit kom daarop neer dat die gesamentlike hoeveelheid uraanoksied wat van die begin van 1963 af aan Brittanje en die Verenigde State gelewer moet word, altesaam 19,918 ton sal bly, maar dat die Britse deel, wat 8,985 ton beloop, nou versprei word oor die tydperk wat in 1973 eindig.

Monasiedkonsentrate wat torium bevat, word naby Vanrhynsdorp, Kaapland, en van titaanhoudende seesand op Umgababa, Natal, gevind. Op die Randse Myne wat sowel goud as uraan produseer, begin die ekstraksieproses nadat die goud uitgehaal is. Slyk word oorgeplaas na die nabygeleë uraanekstraksie-aanleg wat in sommige gevalle slyk van meer as een myn behandel. Daar word die slyk met water en verdunde swaelsuur vermeng en aan lug blootgestel totdat die uraan opgelos is. Hierdie uraanhoudende oplossing word met behulp van roterende filtreerders afgeskei. Na verheldering word dit na die ione-uitruilingsafdeling van die installasie gestuur om dit te laat neerslaan. Die finale produk is ’n heldergeel stof wat soos varsgemaakte mosterd lyk. Hierdie produk word per tenkvragmotors na Calcined Products (Pty) Ltd. — ’n sentrale installasie — gestuur waar monsters geneem word, dit gedroog, gekalsineer en in metaaldromme verpak word vir oorsese verskeping.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Upper Kubusi
Volgende onderwerp: Usakos
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 13:11:16 MGT 2024