Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Universiteit
Universiteit [boodskap #124305] Vr, 18 Januarie 2019 06:57
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die Universiteit van die Witwatersrand.
Die Universiteit van die Witwatersrand.
'n Universiteit is 'n instansie vir hoër onderwys en navorsing waar studente akademiese grade kan verwerf. Die woord is afgelei van die Latyns "universitas magistrorum et scholarium", wat "gemeenskap van onderwysers en skoliere" beteken.

Die eerste pogings tot universiteitsopleiding in Suid-Afrika gaan terug na 1829, toe die "Het Zuid-Afrikaansch Atheneum" (South African College) in Kaapstad gestig is. In die sillabus is voorsiening gemaak vir die dosering aan seuns van vakke soos klassieke tale, wysbegeerte, wiskunde en teologie. Hieruit het verskeie soortgelyke inrigtings ontwikkel, insluitende die Diocesan College in Kaapstad, Gill College in Somerset-Oos, ens. Die behoefte aan plaaslike opleiding vir jong prokureurs en ander beroepsmanne het meegebring dat ’n "Raad van Eksaminatore" in 1858 in die lewe geroep is. Dit het die vraestelle opgestel en het in 1874 die University of the Cape of Good Hope geword. Laasgenoemde was ’n suiwer eksaminerende liggaam, wat die werklike onderrig aan die South African College oorgelaat het, en wat geleidelik al hoe meer vakke by sy leerplan gevoeg het.

In 1859 is die eerste pogings aangewend om predikante van die Nederduitse Gereformeerde Kark op Stellenbosch op te lei. In 1866 het dit gelei tot die stigting van die Gimnasium daar en in 1881 tot die begin van Stellenbosch College. Dit is in 1887 herdoop na Victoria-Kollege. Deur die invloed van Cecil John Rhodes is planne teen die einde van die eeu gemaak vir die stigting van ’n onderwysuniversiteit by Groote Schuur om die hele Suid-Afrika te bedien. Hieraan sou die paar bestaande inrigtings geaffilieer word.

In 1896 is ’n mynskool reeds in Kimberley geopen in samewerking met die South African College. Hierdie skool het sy bedrywighede kort daarna na die Witwatersrand uitgebrei waar die Transvaal Technical Institute na die Tweede Vryheidsoorlog gestig is om sowel Johannesburg as Pretoria te bedien. In 1910 is dit geskei in die South African School of Mines and Technology in Johannesburg en die Transvaal University College in Pretoria.

Geriewe vir hoër onderwys is ondertussen in Bloemfontein daargestel deur die Grey-Kollege (oorspronklik in 1855 deur goewerneur sir George Grey gestig), en in Burgersdorp, Kaapland, waar daar in 1869 met ’n teologiese kweekskool begin is. Dit is in 1905 na Potchefstroom verskuif. Kort na die Tweede Vryheidsoorlog is daar met tegniese onderrig in Durban begin. In 1904 is die oorspronklike hoër afdeling van St. Andrew’s College opgevolg deur die Rhodes University College op Grahamstad. Aan die begin van die 20ste eeu het die erflating van Cecil John Rhodes, Alfred Beit en sir Julius Wernher van honderd duisende ponde vir universiteitsdoeleindes tot verwarring en mededinging tussen inrigtings gelei. Na Uniewording is ’n ondersoek deur die regering ingestel, en in 1918 het die South African College die Universiteit van Kaapstad, die Victoria-Kollege die Universiteit van Stellenbosch geword, en die oorblywende inrigtings is geaffilieer in ’n nuwe Universiteit van Suid-Afrika. (Die University of the Cape of Good Hope het tot niet geraak). In 1916 is ’n nuwe inrigting op Fort Hare gestig bekend as die South African Native College.

Sedertdien is afsonderlike universiteite gestig in 1922 in Johannesburg (Universiteit van die Witwatersrand), opvolger van die Mynskool, in 1930 in Pretoria, in 1949 in Durban en Pietermaritzburg (Universiteit van Natal)), en in 1950 in Bloemfontein. (Universiteit van die Oranje Vrystaat). In 1951 is die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys en die Rhodes Universiteit op Grahamstad (waaraan die Universiteitskollege van Fort Hare verbonde was) gestig. In 1963 is die Universiteit van Port Elizabeth gestig. Die ouer Universiteit van Suid-Afrika het bly funksioneer met sy hoof kantoor in Pretoria, dog het hom hoofsaaklik toegespits op buitemuurse en korrespondensiestudie.

Teen die 1960's het die universiteite in die Republiek nagenoeg 50,000 studente en ’n voltydse doserende personeel van meer as 2,000 gehad. Hulle inkomste het R8,000,000 oorskry.

Na die besluit van die Regering om die stelsel van ‘gemengde universiteite’ af te skaf, is afsonderlike universiteitskolleges vir nie-blankes in Kaapland, Transvaal en Natal gestig. Fort Hare is afgestig van Rhodes Universiteit, ’n Universiteitskollege wat onder beskerming van die Rooms-Katolieke Kerk in Roma, Lesotho, gestig is, het onafhanklik geword. In 1955 is die University College of Rhodesia and Nyasaland, in oorleg met die Universiteit van Londen gestig om die Federasie van Sentraal-Afrika te bedien. Die Londense universiteit ken die grade toe. Alle rasse is by dié universiteit toegelaat. Dit funksioneer later net in Zimbabwe (Rhodesië) nadat Zambië die aanvoorwerk vir sy eie universiteit op Lusaka gedoen het.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: United Federal Party
Volgende onderwerp: Universiteitskollege vir Indiërs
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 20:34:37 MGT 2024