Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Trichardt, Louis
Trichardt, Louis [boodskap #124214] Wo, 16 Januarie 2019 06:30
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Louis Trichardt was 'n Voortrekkerleier, van Sweedse afkoms, die jongste seun van Carel Johannes Trichardt. In 1783 naby Stellenbosch gebore. Die gesin het kort daarna na Graaff-Reinet en toe tot naby Uitenhage getrek. As gevolg van die verliese wat hy deur die Kaapse Grensoorloë gely het, het Louis Trichardt, wat eers naby die huidige Somerset-Oos en toe naby die Groot Visrivier geboer het, besluit om te trek. Vergesel van sy seun, Carel, het hy die Oranjerivier oorgesteek waar vyf gesinne by hom aangesluit het. Later het hy nog ’n geselskap trekkers onder Johannes van Rensburg — ook op pad na die noorde — teëgekom. Trichardt se ekspedisie het so ver deurgedring as die Soutpansberg in Noord-Transvaal waar hy verwag het dat ’n geselskap onder Hendrik Potgieter by hom sou aansluit. Nadat hy ’n jaar lank tevergeefs gewag het, het hy hom in ’n treurige toestand bevind, sy geselskap oor die Drakensberg na die kus gelei en Lourenço Marques na vele bittere ontberings op 13 April 1838 bereik. Hulle is vriendelik deur die Portugese ontvang, maar hulle het koors gekry en meer as die helfte van sy geselskap is oorlede. Trichardt was self een van die slagoffers en is op 25 Oktober 1838 oorlede. Die oorblywendes is per skip na die destydse Republiek Natalia geneem. Trichardt se Dagboek, ’n unieke rekord van die Voortrekkerdae, is deur Gustav S. Preller persklaar gemaak en in 1917 gepubliseer.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Trichardt, Carel
Volgende onderwerp: Trimen, Roland
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 08:07:12 MGT 2024