Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Telegraaf (Telegraafwese)
Telegraaf [boodskap #124139] Ma, 14 Januarie 2019 07:02
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Telegrafie behels die stuur van berigte (telegramme) oor 'n lang afstand. Dit verskil van gewone pos in dat telegrafie slegs die inligting stuur, nie die fisiese brief nie. 'n Toestel wat vir telegrafie gebruik word, word 'n telegraaf genoem. 'n Persoon wat 'n telegraaf bedien is 'n telegrafis. Oor die loop van tyd is verskillende tegnieke vir die stuur van telegramme gebruik.

Die eerste telegraaflyn in Suidelike Afrika is in 1860 tussen Kaapstad en Simonstad geopen, beheer deur ’n privaatmaatskappy. Dit is na Port Elizabeth en Grahamstad verleng en in 1873 in Natal in gebruik geneem. Na die eerste Britse besetting van Transvaal, is ’n lyn in 1876 van Newcastle na Pretoria aangebring. Daarna het die netwerk gou oor die hele land versprei. ’n Telegraaflyn is ten tye van die besetting van Suid-Rhodesië (nou Zimbabwe) deur die Pioneer Column van Vryburg na Tuli en later na "Fort Salisbury" (nou Harare) gebou. Dit was Cecil Rhodes se ideaal om ’n telegraaflyn dwarsoor Afrika tot by Kaïro te lê. Hy het die nodige geriewe van Kaiser Wilhelm II van Duitsland verkry wat die koppeling deur die destydse Duitse kolonie van Oos-Afrika gemagtig het. Telegraaflyne is gekoppel, maar kabels, radio- en telefoon-kommunikasie het dié skema in ’n groot mate voorafgegaan.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Telefoon
Volgende onderwerp: Televisie
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 15:16:21 MGT 2024