Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Suiker
Suiker [boodskap #124063] So, 13 Januarie 2019 12:27
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Suikerklontjies
Suikerklontjies
Suiker is 'n belangrike voedselproduk en soet geurmiddel. Dit bevat vier kilokalorieë per gram (minder as vet). Die woord is afgelei van die Arabiese sukkar en die Sanskrit-woord sharkara (शर्करा) "suiker", "ronde klippie".

Reeds so vroeg as 1672 is pogings in die Kaap die Goeie Hoop aangewend om suikerriet aan te plant, maar dit was ’n mislukking en dit was eers met die begin van die kolonisasie in Natal dat enige sukses behaal is. Nietemin is suiker — Umoba genoem — reeds deur die Zoeloes daar aangeplant voordat die eerste setlaars aangekom het. Die eerste suksesvolle blanke verbouer was George Morewood wat in 1852 met ’n meul op Compensation begin het. In 1855 het H. Milner en J.B. Miller van Redcliffe begin om suikerriet deur middel van stoomkrag te maal. ’n Tekort aan arbeid het die vooruitgang gestrem tot 1860 toe die eerste Indiër-immigrante in die Kolonie aangekom het. Sedertdien was daar ’n geleidelike vooruitgang. Die opbrengs was baie jare lank onbeduidend en selfs teen 1891 was die oes slegs 11,235 ton. Teen 1898 was die produksie 32,493 ton. Die opbrengs is aansienlik gestimuleer deur die oopstelling van nuwe gebiede in Zoeloeland, hoofsaaklik deur die toedoen van sir Liege Hulett, in so ’n mate dat die produksie in 1909 reeds 86,790 ton beloop het. Die 100,000-ton kerf is eers in 1914 oorskry toe dit op 102,653 te staan gekom het. Sedertdien het die modernisasie van die meule, verbeterde bemesting en die vervanging van die Uba-tipe wat in die verlede voorkeur geniet het, deur produktiewer variëteite, die opbrengs teen die 1960's na meer is as 1,200,000 ton per jaar, verbeter.

Buiten die Natalse suikerstreek, wat strek langs die kusstreek van die omgewing van Port Shepstone, byna 200 myl die binneland in tot in die hartjie van Zoeloeland, is welslae ook behaal met die aanplanting van suiker in die Pongola-gebied van Transvaal, in Swaziland en by Triangle in Zimbabwe (Rhodesië). Die Republiek verbruik 'n groot deel van die produksie waarna die res uitgevoer word ingevolge ’n ooreenkoms waarvan verskeie lande ondertekenaars is.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Suidwes-Afrikaanse Infanterie
Volgende onderwerp: Suikerbekkie
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 18:30:10 MGT 2024