Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Suid-Afrikaanse Yster en Staal Industriële Korporasie (Yskor)
Suid-Afrikaanse Yster en Staal Industriële Korporasie [boodskap #124057] So, 13 Januarie 2019 09:32
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die Suid-Afrikaanse Yster en Staal Industriële Korporasie (YSKOR) is die vernaamste produsent van yster en staal in die Republiek en een van die land se grootste bedrywe. Na verskeie vroeëre pogings om ’n staalbedryf op die been te bring, veral deur C.F. Delfos en Samuel Marks, het die Unie-regering sy amptelike steun daaraan toegesê en besluit om in die grootste deel van die fondse te voorsien. YSKOR het op 5 Junie 1928 tot stand gekom ingevolge die Wet op die Yster- en Staalbedryf Nr. 11 van daardie jaar. Sy aanvangskapitaal was £3,500,000 (R7,000,000) waarvan die Unie-regering £500,000 (R1,000,000) onderskryf het, terwyl die res aan die publiek aangebied is. Later het die Regering sy verhouding van aandele-besit aansienlik vermeerder en was dit in beheer van die direktoraat. Die bouwerk aan die fabriek in Pretoria-Wes is met groot ywer aangepak danksy die geesdrif en bekwaamheid van wyle dr. H.J. van der Bijl wat die eerste voorsitter was.

Groot ertsliggame is by Thabazimbi in die distrik Rustenburg geopen, terwyl kooks verkry is van ’n mengsel Transvaalse en Natalse steenkool. Die dolomiet en kalksteen wat nodig is as smeltmiddel is naby die terrein. Daar is aan die begin van 1931 begin met die opruiming van die terrein, en op 4 Desember 1933 is die kooksoonde aangesteek. Die eerste hoogoond is op 7 Maart 1934 in gebruik geneem en die eerste ru-yster is op 20 Maart geproduseer. Die eerste YSKOR-ruyster is op 5 April 1934 afgeklop.

Sedertdien het YSKOR geweldig gegroei, en na die Tweede Wêreldoorlog is die oorspronklike fabriek by Pretoria twee keer verdubbel met die oprigting van ’n soortgelyke fabriek by Vanderbijlpark aan die Vaalrivier, 35 myl van Johannesburg. Afgesien van alle soort staalseksies en spoorstawe, vervaardig YSKOR ook wapening, knuppels, plate, materiaal vir draadvervaardiging, asleiding en baie soorte teer- en steenkoolprodukte. Tydens die Tweede Wêreldoorlog was dit van die allergrootste belang vir Suid-Afrika en het dit groot hoeveelhede wapentuig vervaardig met inbegrip van geskut.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Suid-Afrikaanse Vliegkorps
Volgende onderwerp: Suid-Afrika
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 19:08:49 MGT 2024