Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Sprinkaan
Sprinkaan [boodskap #123955] Sa, 12 Januarie 2019 13:16
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
'n Sprinkaan.
'n Sprinkaan.
'n Sprinkaan is 'n plantetende insek met sterk agterpote wat kan spring. Baie soorte kan ook vlieg. Sprinkane wat in swerms vlieg word treksprinkane genoem.

Sprinkane is 'n groot insekplaag wat feitlik sedert die ontstaan van boerdery in Suidelike Afrika ondervind word. Daar bestaan verskeie spesies. Die algemeenste is die bruinsprinkaan (Locustana pardalina), wat permanent in halfwoestyngebeide voorkom en periodiek ook elders swerm. Die rooisprinkaan (Nomadacris septemfasciata), het sy oorsprong in Sentraal-Afrika waar die Internasionale Rooisprinkaan Beheerdiens sprinkaanswerms in die beginstadium op hul broeiplekke in bedwang hou. Die Republiek, wat ’n lid van hierdie organisasie is, is redelik veilig teen ’n inval van die plaag. Woestynsprinkane (Schistocerca flaviventris), kom voor in die sanderige dele van die Kalahari en bereik selde die swermstadium. Die tropiese of Afrikaanse treksprinkaan (Locusta migratoria migratorioides), is versprei en betreklik skadeloos. Dit is nou bekend dat ander tipes wat vroeër as uitgestorwe beskou is, maar net verskillende groeistadiums was. Nadat dit uitgebroei het, word dit voetgangers genoem en reageer gewoonlik geslagte lank soos die grassprinkaan. Swerms word onder sekere toestande van oorbewoning gevorm en kan volgens dr. Malcolm Burr vergelyk word met die swerm van miere of bye of met die migrasie van mense.

Die rede vir die fenomenale vermeerdering wat van tyd tot tyd plaasvind, is onbekend maar meteens ruk die sprinkaanleër op en verslind alles wat groen is voor hulle en vlieg uiteindelik weg. In 1907 was die lig in Johannesburg ure lank deur swerms vlieërs verdonker en is die landskap kaal gestroop. In die sprinkaanveldtog van 1881 op Ciprus is 1,300 ton eiertrosse opgegrawe en verbrand. In 1895 is ’n wet in Natal aanvaar wat voorsiening gemaak het vir die eerste stelselmatige uitroeiing van sprinkane. Pogings is ook aangewend om ’n fungus te propageer wat dodelik is vir die insekte. Na die Tweede Vryheidsoorlog is ’n sprinkaanbeampte van Ciprus na Transvaal gebring en voor Uniewording het Kaapland en die Oranje-Vrystaat sy voorbeeld gevolg. Konserwatisme onder boere het die uitroeiing egter gestrem. Ernstige uitbrekings na die Eerste Wêreldoorlog het gelei tot die gebruik van ’n arseenoplossing wat aan die Rand vervaardig is en deur middel van ’n spreipomp toegedien is. Die Departement van Landbou het met navorsing begin en die Unie het by die Internasionale Sprinkaanbeheerdiens aangesluit. Deur die tydige toediening van die gif in besmette gebiede is die skade die afgelope tyd aansienlik beperk.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Springs
Volgende onderwerp: Square Hill
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 14:20:31 MGT 2024