Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Sprigg, Sir John Gordon
Sprigg, Sir John Gordon [boodskap #123946] Sa, 12 Januarie 2019 11:52
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Sir John Gordon Sprigg was die Eerste Minister van die Kaapkolonie. In 1830 in Ipswich gebore. Hy was oorspronklik ’n snelskrifskrywer by die bekende firma, Gurney, verbonde aan die Parlement in Londen, maar in 1858 besoek hy die Kaap en was so beïndruk dat hy permanent aanbly. Hy vestig hom naby King William's Town en word ’n suksesvolle melk- en skaapboer en word in 1876 parlementslid vir Oos-Londen in die Parlement. Hy tree op die voorgrond in die Parlement en word in 1878 deur goewerneur sir Bartle Frere gevra om ’n Kabinet saam te stel in opvolging van dié van sir John Molteno. Hy was Eerste Minister en Koloniale Sekretaris tot 1881. Van 1884 tot 1886 was hy Koloniale Tesourier, van 1886 tot 1890 Eerste Minister en Tesourier. Van 1893 tot 1896 was hy weer Tesourier en van 1896 tot 1898 Eerste Minister asook van 1900 tot 1904. Hy was ’n sterk voorstander van nouer bande met Brittanje en toe hy in 1897 Londen besoek het by geleentheid van die Diamantjubileum van Koningin Victoria, het hy aangebied om namens die Kaapkolonie ’n oorlogskip aan die Britse vloot te skenk. Hoewel dit met dank aanvaar is, is die voorstel later verander tot ’n jaarlikse bydrae van £30,000 aan die vloot. Op 4 Februarie 1913 in Kaapstad oorlede.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Spreeu
Volgende onderwerp: Springbok (dorp)
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 16:09:22 MGT 2024