Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Slawerny
Slawerny [boodskap #123849] Vr, 11 Januarie 2019 19:15
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Slawerny en slawehandel is van die vroegste tye af in Afrika beoefen, en slawe is deur blankes na die Kaap gebring van die vroegste dae van die nedersetting af. Aanvanklik was daar net ’n paar; in 1657 onder Van Riebeeck was daar net drie mans en agt vroue. In 1658 is meer van die weskus van Afrika af ingevoer. Hulle getalle is versterk deur talle Maleiers en ander Oosterlinge, waarvan baie opgeleide vakmanne was, wat van 1667 af ingevoer is. Die Kaapse Maleiergemeenskap stam van hulle af. Wetgewing is later ingedien om die regte van slawe neer te lê; hulle kon in sekere gevalle hulle vryheid koop. Later is ’n Slawebeskermer aangestel. In 1807 is die Slawehandel in Britse besittings verbied, hoofsaaklik deur die bemoeiinge van Britse humaniste soos Clarkson, Wilberforce en die Kwakergemeenskap. Teen dié tyd was die Kaap reeds 'n Britse gebied. In 1808 is ’n slawe-opstand met geweld onderdruk, maar toestande het verbeter en die 1820-Setlaars is nie toegelaat om slawe aan te hou nie.

In 1833 het die Britse laerhuis ’n wet aangeneem wat slawerny dwarsdeur Britse besittings verbied en ’n bedrag van £20,000,000 is goedgekeur as vergoeding vir eienaars. Van die 770,280 slawe wat vrygemaak is, het die Kaap 39,021 gehad waarvan 21,613 mans was en meer as 5,000 onder ses jaar oud. Hulle waarde is geskat op £3,041,290, maar die vergoeding wat toegestaan is, het net op £1,247,401. 0s. 7d. te staan gekom. Die metode van uitbetaling deur middel van 3.5 staatseffekte, seëlheffings ens, het groot ontevredenheid onder die boere veroorsaak en was een van die aanleidende oorsake van die Groot Trek.

Slawerny van heeltemal ’n ander soort het langs die hele ooskus van Afrika gefloreer en het aangehou tot byna die einde van die 19de eeu. Duisende slagoffers in Sentraal-Afrika is deur Arabiere en ander handelaars gevange geneem. Hierdie handel is in die eerste dekade van die 20ste eeu eers ’n nekslag toegedien. Sien Slawekommissie.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Slaweputte
Volgende onderwerp: Slegtkamp, Kaptein Henri Frederick
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 13:11:47 MGT 2024