Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Slang (Serpentes)
Slang [boodskap #123841] Vr, 11 Januarie 2019 18:21
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid

/fa/86/0/
/fa/87/0/
/fa/88/0/
/fa/89/0/
/fa/90/0/
/fa/91/0/
/fa/92/0/
'n Slang (Serpentes) is 'n karnivoriese (vleisvretende) reptiel. Die meeste slange is nie giftig nie, sommige is betreklik giftig en net ’n klein groepie se gif het noodlottige gevolge. Hulle word gewoonlik uitgeken aan die afwesigheid van ledemate, maar dit is nie ’n onderskeidende kenmerk nie aangesien luislange en verwante groepe onontwikkelde ledemate het, terwyl sekere akkedisse ook nie bene het nie. ’n Eienaardige kenmerk van die anatomie van die slang is die feit dat die twee helftes van die onderkaak voor geskei is en deur ’n elastiese ligament verbind word sodat hulle bekke kan rek wanneer hulle iets groot insluk.

Die meeste slange leef op die grond, maar die boomslang en voëlslang is goeie boomklimmers; sommige soos die skildslang, blindeslang leef ondergronds; ander soos die waterslang, is goeie swemmers.

Luislange bring baie tyd in die water deur, terwyl seeslange só aangepas is in die water dat hulle nie op land kan leef nie.

Slange hou daarvan om nadat hulle gevreet het te gaan rus terwyl die maaltyd verteer. Alles verdwyn, spiere, bene en tande, en die enigste onverteerde dele is hare of vere. Hulle vreet oordadig in die somer, sit ’n laag vet aan en hou met die begin van die winter heeltemal op met vreet. Sommige is kieskeurig omtrent hulle kos; die nagadder eet net paddas, die eiervreter net eiers; ander het ’n omvangryke dieet wat insluit knaagdiere, voëls, akkedisse en paddas, terwyl ander weer kannibale is. Hulle sluk hulle prooi kop eerste in om te verhoed dat die bene vassteek. Die slukproses is ’n stadige en soms pynlike een. Sodra die prooi deur die keel is word dit afgedwing in ritmiese golf bewegings.

Slange kom gewoonlik laat in die middag of vroegaand te voorskyn om vir hulle kos te jag; hulle vind dit deur dit te sien, daaraan te proe, deur geduldig in geskikte gebiede te wag of per ongeluk daarop af te kom.

Hulle sien nie van die beste nie en kan nie stilstaande voorwerpe goed onderskei nie, maar enige beweging trek onmiddellik hulle aandag. Die oë is aan die kant van die slang se kop geplaas en hulle vernaamste gesigsveld is dus langs die kante. Daar is ’n blinde gebied ’n hele paar duim voor hulle neus. Voor dié gebied is ’n streek waar die gesigsveld van die twee oë oorvleuel en dit is die gebied van die maksimum gesigsvermoë.

Sekere slange soos die nagadder, die boomslang, kobra, huisslang en luislang, lê eiers, terwyl die kleintjies van ander soos die rinkhals, pofadder en molslang lewend gebore word. Die luislang beskerm en broei haar eiers uit, maar ander slange lê dit in gate ondergronds waar dit gelaat word om uit te broei.

Slange toon geen belangstelling in hulle spruite nie en die kleintjies moet gou hulle eie paadjie loop. Die eiers het baie vogtigheid nodig om uit te broei, maar temperatuur is nie van veel belang nie, hoewel die eiers vinniger uitbroei in warm weer.

Slange vervel dikwels, in sommige gevalle selfs ’n paar keer per jaar. As die eerste tekens van vervel verskyn, word die oë blou en die slang word lui en kry ’n teësin vir kos. Soos die slang sy bek teen klippe of takke skuur, raak die vel los en dop dit af van die punt van sy neus tot by sy stert, selfs ook die oogskubbe, en die slang toon al sy kleure in hulle glansende skakerings.

Die volgende is die hoofgroepe:

Viperidae: pofadder, Gaboen-adder, nagadder, bergadder, horingadder.
Hydrophidae: swart-en-geel seeslang.
Elapidae: swart- en groenmambas, rinkhals, geelkobra, Mfesi.
Colubridae: boomslang, skaapsteker, waterslang, sandslange, eiervreters, bosslange, fylslange, huisslange.
Boidae: luislang.
Leptotyphlopidae: wurmslange.
Typhlopidae: blindeslange.

Notas oor die slanggroepe:

Viperidae: Lang, geskarnierde giftande voor, kort, dik lywe, koppe gewoonlik driehoekig.
Hydrophidae: Stewige (nie-giftige) voortande; diepgegroefde, byna hol giftande agter. Seebewoners.
Elapidae: Vaste hol voortande.
Colubridae: Groot gemengde groep, nie een het geskarnierde giftande nie. Sommige het net soliede tande (skadeloos); sommige het giftande agter en sommige giftande voor.
Boidae: Geen giftande. Slagoffer word doodgedruk.
Leptotyphlopidae: Soliede (nie-giftige) tande net in die onderkaak.
Typhlopidae: Soliede tande net in bokaak.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Slangbos
Volgende onderwerp: Slanggifserum
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 18:55:52 MGT 2024