Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Sampioene en Swamme
Sampioene en Swamme [boodskap #123688] Di, 08 Januarie 2019 06:56
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
In Suid-Afrika word honderde soorte sampioene, paddastoele en ander groot fungi of swamme, giftig en andersins, aangetref. Nagenoeg 90 van hulle is die moeite werd om te kook. Miskien is die veldsampioen, die ‘Cep’ en sommige van die jong stuifswamme die eetbaarste. Slegs 9 is bekend as giftig vir alle mense, maar nog vier is giftig vir sommige mense. Die res word beskryf as ‘skadeloos, maar nie die moeite werd om te eet nie’, of spesies wat nog nie getoets is nie. Baie navorsing moet egter nog gedoen word.

Een van die giftigste is die duiwelsbrood of slangkos (Amanita phalloides), wat byna altyd onder eikebome aangetref word en wat glo oorspronklik daarmee saam na Suid-Afrika ingevoer is. Dit kom meer algemeen voor tussen Mei en einde Julie. Die Kaapse duiwelsbrood (A. capensis) is ewe dodelik. Die vlieëswam (A. muscaria), ook giftig, groei gewoonlik onder dennebome, hoewel dit soms sekere tye onder eikebome voorkom. Die naam is afgelei van die feit dat dit algemeen gebruik is as vlieëgif. Die panter (A. pantherina; Eng.: Panther) kom sterk ooreen met ’n eetbare spesies en is ook in Amerika en Europa bekend. ’n Gesin van 7 is in 1927 daarvan dood.

Die kopertrompet (Clitocybe olearia; Eng.: Copper Trumpet), so genoem vanweë sy eienaardige kleur en vorm, is giftig, hoewel nie so dodelik soos sommige van die ander spesies nie. Word ook in Mediterreense lande aangetref.

'n Groot genus swamme of fungi is die inocybe, maar van die 150 spesies bekend, is nog net 9 in Suid-Afrika aangetref, 8 naby Kaapstad en een naby Pretoria. Ten spyte van hulle skadelose voorkoms, is sommiges gevaarlik. Die giftigste is Inocybe eutheles, onder dennebome aangetref, so ook I. obscura, wat na radyse ruik. Ten slotte is daar die I. hirtella, met die vorm van ’n kind se hoed wat aan die rante krul. Pasiënte wat dit eet herstel gewoonlik na 24 uur.

Die (Eng.) ‘Yellow-Staining Mushroom’ (Psalliota xanthoderma) veroorsaak slegte spysvertering by sommige mense. Die (Eng.) ‘Green-lined Parasol’, sambreel, (Lepiota morganii), wat dikwels in Transvaal en Natal op grasperke groei, is nie noodwendig dodelik nie, maar veroorsaak baie slegte gevolge. (Eng.) ‘Poison Pie’ (Hebeloma crustulini forme), kom in Europa, Amerika en in Suid-Afrika voor, en so genoem vanweë sy ooreenkoms met ’n miniatuurpastei. Die (Eng.) ‘Purple-stemmed Russula’ (Russula drimeia), in dennebosse aangetref, en die (Eng.) ‘Orange Tuft’ (Pholiota spectabilis) wat op dooie of lewendige hout groei, so ook die (Eng.) ‘Sulphur Tuft’ (Hypholoma fasciculare) is nié giftig óf eetbaar nie. Die (Eng.) ‘Dye Balls’ (Pisolithus tinctorius) groei onder bloekombome. Hulle Griekse naam, wat ‘ertjie-klip’ beteken, is afgelei van hulle ooreenkoms met ’n klip wat met klein ertjies bepak is. Hulle word deur Franse boere as kleurstof gebruik.

Eetbare fungi of swamme in Suid-Afrika sluit die volgende in: Field Mushroom (Veldsampioen) (Paslliota campestris), die ‘Horse Mushroom’ (P. arvensis), met ’n sterk geur, die ‘Forest Mushroom’ (P. silvicola), die ‘Noble Mushroom’ (P. nobilis), die ‘Shaggy Ink-cap. (Coprinus comatus), die ‘Lactarius’ of ‘Pine Ring’ (Lactarius deliciousus), die ‘Cape Russula’ (Russula capensis), die ‘White Parasol’ (Lepiota zeyheri), die ‘Blusher’ (Amantita rubescens), die ‘Volvaria’ (Volvaria speciosa), die ‘Cep’ of ‘Edible Boletus’ (Boletus edulis), die ‘Popular Boletus’ (B. duriusculus), en verskeie ander lede van die familie, die ‘Little Puffball’ (stuifswamme) (Lycoperdon hiemale) en die ‘Sulphur Shelf’ (Polyporus sulphureus).

Nota: Die leser word verwys na Some South African Poisonous and Inedible Fungi deur E.L. Stephens, geïllustreer deur Mary Maytham Kidd, en na Some South African Edible Fungi, deur dieselfde skrywer en kunstenares, gepubliseer deur Longmans Green & Kie., Kaapstad, 1935.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Sambreelden
Volgende onderwerp: Sampson, Henry William.
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 16:53:59 MGT 2024