Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Robinson, Sir Joseph Benjamin
Robinson, Sir Joseph Benjamin [boodskap #123592] So, 06 Januarie 2019 12:46
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Sir Joseph Benjamin Robinson was 'n mynmagnaat. In 1840 op Cradock, Kaapland, gebore; seun van ’n 1820 setlaar. Hy begin handel dryf op Dordrecht en veg in die Basoeto-oorlog van 1865. Na die ontdekking van diamante, is hy een van die eerste wat die delwery by die rivier bereik. Saam met sy vennoot, Marcus, word hy baie ryk op die Diamantveld, en word hy ’n vooraanstaande persoonlikheid in die vroeë Kimberley. In 1880 word hy verkies tot burgemeester van dié stad, en in 1882 lid van die Wetgewende Vergadering. Hy was ook een van die eerste mense om die moontlikhede van die goudontdekkings in Transvaal, eers by Barberton en later aan die Witwatersrand, te besef, hoewel sy aanspraak dat hy die eintlike ontdekker sou wees, nie bewys kon word nie. Sy waaghalsigheid deur die plaas, Langlaagte, vir £6,000 te koop op ’n tydstip toe sy medekapitaliste gehuiwer het, het aan hom nog meer rykdom besorg en is hy as miljoenêr beskou. Onder die vernaamste eiendomme waaraan hy verbonde was, was die Robinson-myn, die Robinson Deep en die Randfontein Estates-myn. Sy hele lewe lank het hy die kant van die Boere gekies en was ’n getroue vriend van president Kruger. Hy het ook sy eie finansiële onderneming gestig — die Robinson South African Banking Corporation — wat ’n aantal jare lank bestaan het. Teen die einde van die 19de eeu vestig hy hom in Engeland waar hy by Dudley House 'n groot versameling skilderstukke opbou. Die voorstel van die Arbeidersregering onder mnr. Ramsay MacDonald om hom tot die Lordstand te verhef, het soveel kritiek uitgelok dat dit later teruggetrek is. Oorlede in 1929.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Robinson, Sir John
Volgende onderwerp: Robinson, William
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 19:39:50 MGT 2024