Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Reitz, Francis William
Reitz, Francis William [boodskap #123522] Sa, 05 Januarie 2019 10:27
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Francis William Reitz was die President van die Oranje-Vrystaat. In 1844 op Swellendam gebore, lid van ’n familie wat in dié distrik baie bekend was. Hy ontvang sy opleiding aan die South African College en word in 1867 by die Inner Temple toegelaat tot die balie. Met sy terugkeer na die Kaap, begin hy praktiseer tot 1874 toe hy op versoek van president sir Johannes Brand die pos as Hoofregter van die Oranje-Vrystaat aanvaar het. Afgesien van sy regswerk het hy ook in die Afrikaanse taal belang gestel en het gedigte geskryf wat baie gewild was. Dit sluit in die gevierde Klaas Geswint en Syn Perd (’n weergawe van Burns se Tam O’ Shanter), ook Die Boer se Saterdagaand. Hy bly Hoofregter tot 1888 en ondersteun die Afrikanerbond toe dit gestig is. Met die dood van president Brand in 1888 word hy as sy opvolger gekies en beklee die pos as Staatspresident tot 1895 toe hy as gevolg van swak gesondheid bedank. Dit was nie die einde van sy openbare loopbaan nie. In 1897 verhuis hy na Pretoria waar hy toegelaat is as advokaat en kort daarna is hy aangestel as regter van die Hooggeregshof. Met die vertrek van dr. W.J. Leyds in 1898 na Europa, word hy sy opvolger as Staatsekretaris en in dié hoedanigheid stel hy die beroemde ultimatum aan Brittanje op wat gelei het tot die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog. Gedurende die vyandelikhede het hy in die veld gebly en die vredesverdrag onder protes geteken. Hy het etlike jare lank in Texas en Meksiko gewoon en stuur sy drie seuns, Joubert, Deneys en Arnt na Madagaskar om 'n nuwe tuiste vir hulleself te vind. Hulle het uiteindelik almal teruggekeer en in 1910 word hy President van die nuwe Senaat van die Unie van Suid-Afrika — ’n amp wat hy beklee het tot 1929 toe hy in die Kaap afgetree het. In 1934 oorlede.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Reitz, Kolonel Deneys
Volgende onderwerp: Reivilo
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 10:19:34 MGT 2024