Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Rebellie
Rebellie [boodskap #123487] Sa, 05 Januarie 2019 08:04
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die Rebellie is 'n naam wat gegee is aan die Suid-Afrikaanse opstand in 1914. Ten spyte van die stigting van die Unie van Suid-Afrika was daar nog ’n groot mate van bitterheid wat voortgespruit het uit die Tweede Vryheidsoorlog wat in 1902 ten einde geloop het. Toe die oorlog tussen Brittanje en Duitsland in 1914 uitbreek, was baie vroeëre Republikeine teensinnig om aan die kant van die Geallieerdes te veg. Teenkanting teen enige militêre verpligtinge het begin vorm aanneem, veral nadat stories die ronde gedoen het van die gesigte van die "profeet" Niklaas van Rensburg wat die ineenstorting van die Britse Ryk voorspel het. Sake het in September 1914 tot ’n punt gekom toe die destydse Premier, generaal Louis Botha, aangekondig het dat die Unie Duits-Suidwes-Afrika (nou Namibië) gaan binneval. Protes is in verskeie dele van die land aangeteken, maar daar was weinig, indien enige, regstreekse koördinasie tussen die leiers, wat ingesluit het, generaal Solomon Gerhardus (Manie Maritz) in die Noordweste, generaal C.F. Beyers, bevelvoerder van die Unie-Verdedigingsmag in Transvaal, kaptein Jopie Fourie en generaal Christiaan de Wet.

Pogings deur die Nederduitse Gereformeerde Kerk, president M.T. Steyn en ander om vyandelikhede te verhoed, het misluk en gevegte het feitlik gelyktydig begin in Transvaal, naby Upington in Kaapland en in die Oranje-Vrystaat. Generaal Louis Botha het die pas-gestigte Verdedigingsmag gemobiliseer en ’n beroep op lojale burgers gedoen om die Regering te steun. Talle motors is opgekommandeer. Generaal de Wet is by Mushroom Valley in die Vrystaat verslaan en het na Betsjoeanaland gevlug waar hy gevang is. Generaal Beyers het verdrink terwyl hy die Vaalrivier oorgesteek het, generaal Maritz het na Suidwes-Afrika uitgewyk en Jopie Fourie is gevang en het ingevolge krygswet voor ’n vuurpeleton gesterf. Die laaste Rebelle het vroeg in 1915 oorgegee en baie van hulle is tot gevangenisstraf gevonnis. Die Duitse owerheid in Suidwes-Afrika het die Rebellie aangemoedig deur ’n sogenaamde ‘Verdrag’ met generaal Maritz aan te gaan waarin die waarborg gegee is dat die Unie ’n Republikeinse regeringsvorm gegee sal word.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Reader, H.
Volgende onderwerp: Reddersburg
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 10:59:21 MGT 2024