Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Pretoria
Pretoria [boodskap #123418] Vr, 04 Januarie 2019 16:49
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Pretoria is die administratiewe hoofstad van die Republiek van Suid-Afrika (en destyds ook die hoofstad van Transvaal). In 1855 gestig as Pretoria Philadelphia na president A.W.J. Pretorius. Die stad lê in ’n vallei waardeur die Apiesrivier (Tshwanerivier) vloei, terwyl die Uniegebou oor die stad troon. Bekend vir sy pragtige strate en beroemde jakarandalane. Die hart van Pretoria is Kerkplein met sy standbeeld van president Kruger, omring deur die ou Volksraadgebou, die Suid-Afrikaanse Reserwebank, die Hoofposkantoor en ander belangrike geboue. Hoewel ’n groot deel van die inwoners in die Staatsdiens is, insluitende die groot Spoorwegwerkswinkels by Koedoespoort, het Pretoria ’n aansienlike hoeveelheid industrieë waarvan die Yskor-staalfabriek die belangrikste is. Daar is ook koringmeulens, ingenieurswerkswinkels en ander fabrieke. Die Universiteit van Pretoria, vroeër die Transvaalse Universiteitskollege, het vandag die grootste aantal studente in die Republiek.

Daar naby is die beroemde Veeartsenykundige Navorsingslaboratorium by Onderstepoort. Tot die ontdekking van goud aan die Witwatersrand was Pretoria feitlik ’n plattelandse dorp, maar in die jare 1890 het dit elektriese krag, trems en ander geriewe gekry. Die Republikeinse bewind het die stad binne ’n paar dae na die aankoms van die Britte in Junie 1900 ontruim. Na die vrede het dit die setel van die Milner-administrasie geword wat in 1905 van Johannesburg verskuif is. Vandag is daar ’n groot aantal navorsingslaboratoriums en ander inrigtings van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad in Pretoria. Die Radcliffe-Sterrewag is ook in dié stad. Die Uniegebou is tussen 1910 en 1913 gebou volgens die ontwerp van sir Herbert Baker, en huisves ’n groot aantal Staatsdepartemente, onder meer dié van die Eerste Minister. Buite die stad is die Voortrekkermonument wat teen ’n koste van £340,000 (destyds R680,000) opgerig en op 16 Desember 1949 formeel ingewy is. Dit staan op ’n koppie en sy sentrale kenmerk is die simboliese graf van Pieter Retief en sy manskappe waarop ’n sontraal op 16 Desember elke jaar val.

In Junie 1963 was die bevolking 507,000 (235,000 Blankes, 254,000 Bantoes, 9,000 Kleurlinge en 9,000 Asiate). In 1964 is die oppervlakte van Pretoria van 70 na 220 vierkante myl vergroot wat dit destyds die grootste munisipaliteit in Suid-Afrika gemaak het.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Presbiteriaanse Kerk
Volgende onderwerp: Pretoria Highlanders
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 16:25:13 MGT 2024