Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Plaaslike Bestuur
Plaaslike Bestuur [boodskap #123357] Do, 03 Januarie 2019 14:22
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Plaaslike Bestuur verwys na die administrasie van stede, dorpe en kleiner gehuggies m.b.t. die lewering van basiese dienste.

Kragtens die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika val plaaslike owerhede onder jurisdiksie van die Provinsiale Rade hoewel elke provinsie sy eie kenmerkende instellings het, baie met ankers uit die verre verlede. Hiervan is die onderskeidendste die stelsel van Afdelingsrade, wat in 1855 in die Kaapkolonie tot stand gebring is en nog in Kaapland bestaan. Die eerste vorm van plaaslike administrasie aan die Kaap was die stelsel van Heemrade wat in die 17de eeu ingestel is saam met landdroste. 100 jaar later, in 1796, het die Britse owerheid tydens die eerste Britse besetting van die Kaap ’n Burgersenaat in Kaapstad ingestel as die eerste eiesoortige munisipale administrasie.

Munisipaliteite in die modeme sin van die woord dateer uit die jaar 1836 toe ’n ordinansie goedgekeur is vir die verkiesing van rade op versoek van nie minder nie as 25 grondeienaars. Die eerste gemeenskap wat hiervan gebruik gemaak het, was Beaufort-Wes, wat Ín Januarie 1837 die eerste munisipaliteit in Suid-Afrika geword het. Somerset-Oos het ’n maand later gevolg en kort daarna George, Grahamstad en Cradock. Kaapstad het eers in 1840 ’n munisipaliteit gekry. Munisipale bestuur is sedertdien in baie verordeninge gedefinieer, die jongste is die Provinsiale Ordinansie Nr. 19 van 1951.

Laer in status en aangepas by die behoeftes van kleiner gemeenskappe, is die Dorpsbestuursrade, terwyl Kaapland vir nog beperkter gebiede Plaaslike Rade erken. Natal se plaaslike bestuurstelsel dateer terug na die stigting van Pietermaritzburg in 1838, hoewel toestande so primitief was dat die sake van sowel die dorp as die Republiek van Natalia albei beheer is deur die Volksraad. Ware munisipale bestuur het eers onder die Britse bewind in 1848 begin toe die Kaapse ordinansie op Natal van toepassing gemaak is.

Individuele verordeninge is op dorpe in Natal toegepas, maar in 1862 is ’n ‘Municipal Corporations Law’ aanvaar. Dit is dikwels gewysig. Groot stedelike gemeenskappe in die provinsie is verdeel in ‘Boroughs’ (munisipaliteite enig in hul soort in S.A.), bestuur deur dorps- of stadsrade, Dorpsgebiede geadministreer deur dorpsrade, met Gesondheidskomitees vir nog kleiner dorpies. In Transvaal het ‘Regulasies vir Dorpsbesture’, wat in 1858 deur die Volksraad ingestel is, baie jare lank gedien as ’n basis vir plaaslike administrasie.

Die ontdekking van goud en die stigting van delwersgemeenskappe, eers in Oos-Transvaal en later aan die Rand, het aanleiding gegee tot die instelling van Delwerskomitees en Sanitêre Rade. Laasgenoemde het selfs in Johannesburg tot 1895 die enigste gesag gewees toe die dorp meer as 100,000 inwoners gehad het. Dit is vervang deur ’n stadsraad verkies deur die inwoners met ’n burgemeester. Terloops, een beperking was dat die helfte van die verteenwoordigers burgers moes wees. Hierdie reëling bly bestaan tot aan die einde van die Suid-Afrikaanse Republiek. Na die Vrede van Vereeniging in 1902 het die Milner-administrasie munisipale bestuur, gebaseer op die Britse tradisie, ingestel met ’n Burgemeester en Stadsraad verkies volgens die wykstelsel. Ondergeskik aan die Stadsraad in die groter sentrums is die Dorpsrade en in kleiner plekkies Gesondheidskomitees. ’n Kenmerkende Transvaalse vorm van administrasie is die Gesondheidsraad vir Buitestedelike Gebiede wat in 1943 ingestel is, veral om die groot en bevolkingsdigte gemeenskaape aan die buitewyke van die groter stede te hanteer.

Die Vrystaatse stelsel van plaaslike bestuur dateer uit 1850 en is ook na die Tweede Vryheidsoorlog verander om aan te pas by die Britse model. Hier is die kleiner owerhede, die Dorps- of Bestuursrade. Melding moet ook gemaak word van die Malaria-komitees en plaaslike Gesondheidskommissies in Natal. Hulle doel word aangedui deur hulle name.

Alle plaaslike owerhede in Suid-Afrika moet streng voldoen aan die magte wat deur die wet aan hulle toegesê is, veral wat finansies, die toepassing van stadsverordeninge, ens., betref. Teen die 1960's was die grootste aantal plaaslike owerhede in Kaapland (254), Transvaal (111), Natal (88) en die Oranje-Vrystaat (74), (dit is afgesien van die 96 Afdelingsrade in Kaapland).

Die eerste munisipale wetgewing in Zimbabwe (Rhodesië) was die aanvaarding, kort na die besetting van die land, van die Munisipale Wet van 1882 van die Kaap die Goeie Hoop. Met sy stigting in 1890 is ’n Bestuursraad in Fort Salisbury ingestel. Dit is in 1895 deur ’n Sanitêre Raad vervang. Bulawayo het ook met sy stigting in 1894 ’n Bestuursraad ontvang. Die eerste samevattende suiwer Zimbabwiese (Rhodesiese) verordening was die Dorpsbestuur-ordinansie van 1894 wat gevolg is deur die Munisipale Ordinansie van 1897 wat later in baie opsigte gewysig is. Vandag sluit plaaslike bestuur in Zimbabwe, Malawi en Zambië, Munisipaliteite, Dorpsbestuursrade en Stadsbestuursrade in.

In Namibië (Suidwes-Afrika) was die stelsel net soos in die Republiek. Mosambiek beskik oor Munisipaliteite en Plaaslike Rade. Laasgenoemde word deur die regering benoem.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Pitso
Volgende onderwerp: Plaatje, Sol T
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 12:27:42 MGT 2024