Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Ossewa (Kakebeenwa)
Ossewa [boodskap #123243] Ma, 31 Desember 2018 15:30
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
'n Ossewa.
'n Ossewa.
Die Ossewa (of Kakebeenwa) is 'n tradisionele vervoermiddel, bestaande uit 'n wa wat deur 'n span osse getrek word, wat in Suid-Afrika en elders gebruik is. Die Voortrekkers dit o.a. vir die Groot Trek in die 1830's en 1840's ingespan. Dit is dikwels ook as mobiele fortifikasie (bekend as 'n laer) aangewend, soos tydens die Slag van Bloedrivier.

Die ossewa het, soos dit in Suid-Afrika ontwikkel is, in sekere opsigte van die Europese wa en die beroemde tentwa van Amerika verskil. Die oorspronklike kakebeenwa wat deur plaaslike vakmanne, baie van hulle slawe, gebou is, was aansienlik ligter as die moderne wa. Dit was van 12 tot 15 voet lank en van 3 tot 3,5 voet breed. Plaaslike geelhout, stinkhout en ysterhout is gebruik en daar is met groot sorg seker gemaak of die hout droog is.

Die onderstel waarvan die wa-as en die wiele vas was, is verdeel in die voor- en agterstel. Bokant die as was 'n swaar hout of skamel waarop 'n buikplank van 2 duim dik gerus het. Die langwa wat die twee asse verbind het, is versterk met 'n plaat yster. Die 10 voet lange disselboom was aan die wa vas met 'n sterk houtpen, genoem die tang, wat deur die middel van die as geloop het. 'n Trektou van gedraaide osrieme was aan die disselboom vas.

Elke os was aan 'n juk vas met twee jukskeie waaraan 'n nekstrop was. Die remskoen is oorspronklik van hout gemaak, maar is later deur metaal vervang. Later is die ontwerp van die kakebeenwa gewysig om dit laer, langer en swaarder te maak. Die vernaamste dorpe waar die wamakersbedryf, wat in een stadium van groot belang was, beoefen is, was Wellington, (met sy nedersetting op Wagenmakersvlei), Oudtshoorn, Grahamstad, King William's Town, Pietermaritzburg, Potchefstroom en Pretoria, maar daar was min dorpe waar daar nie wamakers was nie. 'n Goed geboude ossewa in die 19de eeu het tot £300 (destyds R600) gekos.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Orr, Thomas
Volgende onderwerp: Ossewa Brandwag
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 08:50:53 MGT 2024