Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Oppenheimer, Sir Ernest
Oppenheimer, Sir Ernest [boodskap #123227] Ma, 31 Desember 2018 11:13
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Sir Ernest Oppenheimer was 'n Suid-Afrikaanse nywerheids- en mynmagnaat. In 1880 op Friedberg in Hesse, Duitsland, gebore. Gaan as jong man na Londen en word lid van die personeel van 'n bloedverwant, die bekende diamantkoper, Anton Dunkelsbuhler, wat hom in 1902 as sy verteenwoordiger na Kimberley stuur. Met die ontdekking van diamante in Namibië (Suidwes-Afrika) in 1910 besoek hy die gebied en stel hy 'n buitengewone versiende en wyse verslag in oor die moontlikhede daarvan. Hy word lid van die Kimberleyse stadsraad en in 1912 burgemeester. In dié hoedanigheid slaag hy daarin om die ideaal van 'n samesmelting van Kimberley met Beaconsfield te verwesenlik. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog verhuis hy na Johannesburg. Met steun uit die Verenigde State neem hy groot Duitse en ander belange oor en stig hy die Anglo-American-korporasie van Suid-Afrika. Dit word gou een van die grootste myngroepe in Suid-Afrika, veral met sy ontwikkeling aan die Oos-Rand. In 1919 verkry hy die bestaande Duitse belange in Namibië (Suidwes-Afrika) en stig hy die Consolidated Diamond Mines of South West Africa. Anglo-American Corporation of South Africa Ltd. word gou een van die grootste myngroepe in Suid-Afrika.

Oppenheimer word 'n toonaangewende figuur in die sake van De Beers Consolidated Mines, waarvan hy in 1929 voorsitter word. Hy herorganiseer die diamantbedryf, skep nuwe afdelings om verkope te hanteer en in die algemeen produksie te bestendig. Binne 'n kort tydjie was feitlik die hele bedryf onder sy beheer, insluitende die Premier (Transvaal) Diamantmynmaatskappy en Jagersfonteinmyn. Hy het die bedreiging van die bestendigheid van die mark, wat ontstaan het met die geweldige ontdekkings in Namakwaland, oorkom deur die belange van dr. Hans Merensky oor te neem. In Zimbabwe (Rhodesië), waar Anglo-American 'n filiaalmaatskappy gestig het, het hy in die jare 1930 met grootskeepse beleggings in die Koperstreek begin. As een van die eerste persone wat die moontlikhede van goud in die Vrystaat besef het, het hy boorwerk in die Odendaalsrus-gebied aangemoedig. Die gevolge was die ontdekking van 'n heeltemal nuwe goudveld voor die Tweede Wêreldoorlog. Teen dié tyd het sy nywerheidsryk die land oorheers, en het dit groot invloed in Londen en die Verenigde State uitgeoefen. Later het hy 'n groot deel van sy gesag in die hande van sy seun, Harry F. Oppenheimer, geplaas. Van 1924 tot 1938 was hy lid vir Kimberley in die Unie-parlement. Sir Ernest is in 1957 in Johannesburg oorlede en het 'n boedel ter waarde van meer as sewe-miljoen rand nagelaat waarvan sowat twee-miljoen vir openbare doeleindes bestem is.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Oppenheimer, Sir Bernard
Volgende onderwerp: Oppenheimer, Harry Frederick
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 14:04:30 MGT 2024