Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Onderwys
Onderwys [boodskap #123212] Ma, 31 Desember 2018 07:03
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Onderwys verwys na die onderrig en aanleer van spesifieke vaardighede, asook die verwesenliking van selfpotensiaal en verborge talente van die indiwidu. Dit fokus o.a. op die oordrag van kennis en die positiewe ontwikkeling van oordeel en lewenswysheid.

Aanvanklik was onderwys in Suid-Afrika tot 'n groot mate geskoei op die lees van dié van Skotland. Dit is as gevolg van die feit dat die eerste Superintendent-generaal van Onderwys, dr. James Rose-Innes, 'n Skot was. Voor 1838 is daar geen ernstige poging aangewend om die onderwys in die moderne sin van die woord op 'n nasionale basis te organiseer nie, hoewel die eerste skool (bygewoon deur kinders van sowel slawe as setlaars) in die tyd van kommandeur Jan van Riebeeck in 1658 geopen, en gevolg is deur 'n aantal ander wat bestuur is in samewerking met die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Na die koms van die Britte is soortgelyke skole deur Engelse kerke geopen. 'n Mylpaal was die stigting in 1829 van Het Zuid Afrikaansch Atheneum, later die South African College, die eerste inrigting vir hoër onderwys.

In 1938 het sir John Herschel, die beroemde sterrekundige, tydens sy verblyf aan die Kaap voorstelle vir 'n Departement Onderwys opgestel wat as grondslag gedien het vir die hedendaagse stelsel. Die Raad van Eksaminatore, wat in 1857 in die lewe geroep is, was die voorloper van die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop. (Sien Universiteite).

In Natal is georganiseerde onderwys deur die Voortrekkers begin. In die Boererepublieke was die onderwys in 'n groot mate onder Holandse invloed, hoewel goewerneur sir George Grey se oprigting van die Grey-Kollege op eie koste in 1855 in Bloemfontein, gehelp het om die Engelse tradisie in die Oranje-Vrystaat te handhaaf. Transvaal het in 1876 met sy eie Onderwysdepartement begin waarvan die personeel hoofsaaklik uit Holland gekom het. Die Uitlanderbevolking aan die Rand was egter ontevrede met die ontoereikende geriewe en stig in 1895 die Witwatersrand Council of Education wat met 'n fonds van £150,000 gehelp het om 'n reeks skole te stig, waarvan baie vandag nog bestaan.

Iets soortgelyk het ná die Tweede Vryheidsoorlog gebeur toe die verslane Boere, met die hulp van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, 'Christelike Nasionale Skole' in die lewe geroep het om onafhanklik te wees van die wat onder beskerming gestaan het van lord Milner se 'angliserende' departemente.

Sedert Uniewording in 1910 het primêre en sekondêre skole onder die provinsies geval, terwyl tegniese- en beroepsopleiding en dié vir gestremdes onder die Departement van Onderwys val. Die land is verdeel in distrikte waarin daar in elk 'n skoolraad met toesighoudende magte gekies word.

Bantoe-onderwys, voorheen in die hande van die sending, is sedert 1958 onder 'n afsonderlike Department van Bantoe-onderwys. Teen die 1960's was daar meer as 2,000,000 Bantoekinders in die Republiek op skool. Dit het 90 persent van die potensiële leerlinge verteenwoordig, maar die aantal in die seniorklasse was steeds betreklik laag.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Onderstepoort
Volgende onderwerp: Onrus
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 12:36:11 MGT 2024