Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Olimpiese Spele
Olimpiese Spele [boodskap #123205] So, 30 Desember 2018 20:28
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Olimpiese Spele bestaan uit twee internasionale sportkompetisies wat elk elke vier jaar gehou word, die Somerspele en die Winterspele. Tot en met 1992 was beide die spele in dieselfde jaar gehou, maar sedertdien word hulle met twee jaar intervalle aangebied. Die slagspreuk is Vinniger, Hoër, Sterker, of "Citius, Altius, Fortius" in Latyn.

Die eerste keer dat Suid-Afrika aan die Olimpiese Spele deelgeneem het, was in Londen in 1908 toe R.E. Walker die eindronde van die 100 meters in 10,45 sekondes gewen het, terwyl C.A. Hefferon tweede geëindig het in die Marathonwedloop. In 1912 het K.K. McArthur die Marathon in Stockholm gewen met C.W. Gitsham tweede. Len Richardson, die enigste verteenwoordiger van die Britse Statebond, het vierde geëindig in die landloop, terwyl C. Winslow nie net die enkelspeltenniswedstryd gewen het nie, maar ook saam met H.A. Kitson die dubbelspelwedstryd.

Die volgende Olimpiese Spele waaraan Suid-Afrika na die Eerste Wêreldoorlog deelgeneem het, was in 1920 toe Bevil Rudd die 400 meter baannommer gewen het. C. Walker het die kapokgewigbokstitel gewen en L. Raymond die enkelspeltenniswedstryd. In 1924 was Willie Smith die wenner van die kapokgewigbokstitel, S.J.M. Atkinson was tweede in die 110 meters hekkies, C.C. McMaster was derde in die 10,000 meter stapwedren en H. Kaltenbrun tweede in die padfietswedren.

In 1928 het S.J.M. Atkinson die 100 meter hekkies in Amsterdam gewen, en in 1932 in Los Angeles het mej. M. Clark die hoogspring-, Laurie Stevens die liggewigbokstitel en D. Carstens die ligswaargewigtitel gewen. Sedertdien het Suid-Afrikaanse spanne baie minder wenners opgelewer weens die al hoe skerper mededinging.

In 1963 het die Olimpiese Internasionale Spelekomitee die eis aan die Suid-Afrikaanse Olimpiese Spelekomittee gestel dat Apartheid nie toegepas mag word in 'n verteenwoordigende Suid-Afrikaanse span nie. Die Suid-Afrikaanse Komitee het dit aanvaar op voorwaarde dat die nie-blankes die vereiste standaard behaal. Verteenwoordigers van die blankes en nie-blankes sou dus die 1964 Olimpiese Spele in Tokio bygewoon het. Die Internasionale Komitee het toe egter daarop aangedring dat die Suid-Afrikaanse Komitee formeel en in die openbaar sy afkeer in Apartheid te kenne moet gee. Toe die Suid-Afrikaanse Komitee daarteen beswaar maak dat dit sou beteken dat politiek by die Olimpiese Spele ingesleep word, het die Internasionale Komitee sy uitnodiging teruggetrek en gevolglik is Suid-Afrika nie by die Olimpiese Spele van 1964 in Tokio verteenwoordig nie. 'n Paar Zimbabwiese (Rhodesiese) deelnemers was wel teenwoordig.

Suid-Afrika is weer in 1992 toegelaat om deel te neem na 'n 28-jaar lange skorsing as gevolg van apartheid.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Olifantsrivier
Volgende onderwerp: Olyfboom, Wilde-
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 17:55:29 MGT 2024