Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Musiek
Musiek [boodskap #123080] Sa, 29 Desember 2018 17:21
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die binnekant van 'n klavier.
Die binnekant van 'n klavier.
Musiek is 'n vorm van kuns met ritmies georganiseerde klanke en stiltes. Dit word uitgedruk in terme van toonhoogte (insluitende melodie en harmonie), ritme (insluitende tempo en mate) en die kwaliteit van klank (byvoorbeeld artikulasie, tekstuur en dinamiek).

Die bewaring van 18de eeuse musiekinstrumente en ander oorblyfsels in Suid-Afrika bewys dat daar besliste belangstelling by die meer gekultiveerde en welgestelde vroeë setlaars was. Verskeie komposisies met plaaslike verband bestaan nog, wat 'n naamlose versameling, "Matrozensang op Reis na de Kaap de Goede Hoop" en twee ander deur C. Schubarth vir die Wurtemburg Kaapse Regiment insluit. Musiek- onderwysers, insluitend E.K. Green en E. Logier, het hulle werk in die Napoleontiese tyd in Kaapstad begin en in 1840 het die eerste plaaslik gedrukte komposisie verskyn. 'n Orrel is in 1828 in die Groote Kerk, Kaapstad geïnstalleer. Musiekverenigings, amateur orkeste en militêre orkeste het dwarsdeur die 19de eeu 'n bloeitydperk beleef, selfs op klein dorpies. Enkele toere deur virtuose soos Edward Remenyi het daartoe bygedra om die belangstelling lewendig te hou. Hoewel musiek in skole en in kolleges gedoseer is, en daar verskeie klein private inrigtings in verskeie dele van die land bestaan het, is die Stellenbosse Musiekkonserwatorium eers in 1905 gestig, hoofsaaklik deur die ondernemingsgees van professor F.W. Jannasch. Dit is in 1912 gevolg deur die stigting van die Suid-Afrikaanse Musiekkollege in Kaapstad, onder professor W.H. Bell.

Sedertdien is musiekfakulteite by die meeste Suid-Afrikaanse universiteite ingestel. Nog 'n belangrike uitbreiding was die stigting van die Kaapstadse Munisipale Orkes in 1914, onder Theophil Wendt. Orkeste is in Durban en in Johannesburg gestig. Die Johannesburgse Musiekvereniging, wat daarop aanspraak maak dat hy die oudste in Suid-Afrika is, is in 1902 gestig, terwyl die Johannesburgse Filharmoniese Vereniging dateer uit 1910. Die eerste poging op die gebied van opera in Suid-Afrika dateer terug na 1815. Sedert die aankoms van Sefton Parry in 1854 het baie besoekende geselskappe toere deur die land onderneem. Onder die baie musici wat Suid-Afrika al besoek het is Ignaz Paderewski, Jascha Heifetz, Yehudi Menuhin, Fritz Kreisler, John McCormack, Amelita Galli-Curci, Rafael Kubelik, Beniamino Gigli en Mark Hambourg.

Later jare het Suid-Afrika komponiste van naam opgelewer, onder andere Arnold van Wyk, Stefanus Grové, Stephen Eyssen, Jan Joubert. Vroeër in die huidige eeu was Bosman de Ravelli, 'n leerling van De Pachman, 'n virtuoos van aansien, en onder die sangers het Friedrich Dalberg (Frederick Dalrymple) en Mimi Coertse nie net op die Engelse verhoog nie, maar ook op die kontinentale verhoog naam gemaak.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Musgrave, William
Volgende onderwerp: Muskeljaatkat
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 18:22:16 MGT 2024