Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Museum
Museum [boodskap #123078] Sa, 29 Desember 2018 17:11
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
'n Uitstalling in 'n museum.
'n Uitstalling in 'n museum.
'n Museum is 'n gebou waar goed versamel en gestoor word vir besoekers om te besigtig. Museums kan oor verskillende temas handel, soos Natuurlike Geskiedenis, Geologie, Wetenskap, skilderye of beeldhouwerke.

Die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad is die oudste op die subkontinent, en steeds die belangrikste. Op 10 Junie 1825 geopen. Die oorspronklike kurator, dr. Andrew Smith (later sir Andrew), 'n beroemde natuurkundige en ontdekkingsreisiger, was die eerste van 'n lang lys bekwame bekleërs van dié amp. Jare lank gehuisves saam met die Suid-Afrikaanse Openbare Biblioteek. In 1897 het die museum sy eie gebou verkry wat sedertdien herhaaldelik vergroot is. Die belangrikste versamelings is op die gebied van natuurhistorie en antropologie, maar dit beskik oor baie ander kosbaarhede.

Die Albany-Museum in Grahamstad dateer uit die jaar 1855, en is veral bekend vir sy herbarium of kruieversameling - die grootste in Suid-Afrika. Port Elizabeth het sy Museum in die jare 1870 gestig, maar dit was nie voor 1905 dat dit werklik ernstige aanmoediging van die munisipaliteit ontvang het nie. Onder sy kurator, F.W. Fitzsimons, het dit deur sy Slangpark wêreldberoemdheid verwerf. Die Nasionale Museum in Bloemfontein is in 1877 deur die vroeëre Republiek van die Oranje-Vrystaat begin en belangrike werk is in oudheidkunde en op ander gebiede gedoen.

In 1887 is daar met die Durbanse Museum deur die stadsraad begin. Een van sy beroemdste museumstukke is die feitlik perfekte skelet van die uitgestorwe voël, die dodo. Die Kaffrariese Museum in King William's Town, in 1889 geopen, is bekend vir sy voortreflike werk op soogdiere, veral onder wyle kaptein Shortridge. In Pretoria is die Transvaalse Museum in 1893 geopen met sy groot wetenskaplike versamelings, en afsonderlike persele in verskillende dele van die stad, en ook die Kruger-Museum, die President se vroeër woning.

Uit 20ste eeu dateer die Natalse Museum in Pietermaritzburg (hoofsaaklik wetenskaplike versamelings), in 1903 opgerig; die Voortrekker-Museum in dieselfde stad (1912); die McGregor-Museum in Kimberley (1907); die Oos-Londense Museum, beroemd vir sy selakant (1921); die Tweede Vryheidsoorlogsmuseum in Bloemfontein en die uitstekende Afrikana-Museum in Johannesburg (1935). Daar bestaan ook 'n aantal kleiner museums.

In Zimbabwe (Rhodesië) is daar museums in Harare (Salisbury), Bulawayo en Umtali, ook in Livingstone in Zambië. Daar is ook 'n voortreflike museum in Maputo (Lourenço Marques).

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Murraysburg
Volgende onderwerp: Musgrave, William
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 20:15:09 MGT 2024